Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Stap saam

In die antieke tye het smal, kronkelende paadjies teen heuwels op en in valleie af gelei, deur grasvelde, fluisterende woude en langs slingerende strome – uitgetrap deur diere op soek na kos en water en deur die voete van vroeë mense terwyl hulle gejag en hout bymekaargemaak het.

Tuinpaadjies

Paadjies deur ons tuine kan beskou word as ontdekkingsroetes, net soos elkeen van ons se lewenspad. Dit lei besoekers van een deel na ’n volgende, soms op ’n drafstap en ander kere teen ’n rustiger pas. Die rigting en fatsoen van ’n paadjie skep ’n bepaalde luim, en elkeen het ’n eindbestemming.

’n Reguit paadjie onthul die kortste moontlike roete na ’n ingang, ’n tuiskantoor of nutsarea soos ’n waskamer of motorhuis. Die paadjies in formele tuine waarin daar reg deur die jaar struktuur is, loop reguit, so ook dié tussen die beddings van ’n formele kruietuin.

Wanneer alles langs ’n paadjie nie eensklaps onthul word nie, skep dit ’n gevoel van afwagting en misterie – van ’n privaat ruimte, ’n geheime wêreld, ’n toevlug. ’n Kronkelpaadjie vertraag die besoeker se vordering en maak sy of haar reis interessanter; dit nooi ’n mens om te ontdek wat om elke draai wag.

’n Smal paadjie met kleurryke randakkers aan weerskante nooi jou uit om langer te talm. ’n Paadjie wat om ’n struik of heining wegraak, nooi besoekers om te verken en keer dat mens en troeteldier summier kortpad kies. ’n Paadjie heen en weer deur ’n woudtuin of veldblombedding skep ’n gevoel van misterie, avontuur en romanse.

Japanse tuiniers – meesters van suggestie – versteek net soveel in hul landskappe as wat hulle openbaar. Met die noukeurige plasing van plante, water en rotse moedig hulle bepeinsing aan, terwyl kronkelpaaie dele van die tuin verberg.

Hoekom snoei ons plante?

Plante word gesnoei sodat hulle ’n mooi vorm kan hê en gesond kan wees, asook om blom- of vruggehalte te verbeter. Snoei in matige winter-tuine in die tweede helfte van Julie, maar wag in kouer streke liefs tot die begin van Augustus sodat die nuwe groei teen ryp beskerm is.

REËNPAADJIES

Deur Kay Montgomery

Die Duitse woord Hügelkultur beteken bult- of heuwel-kultuur, en verwys na die kweek van plante op ’n mensgemaakte bult of heuweltjie.

Op ’n plat stuk grond sal Hügelkultur-bulte hoër en laer vlakke skep. Die hoër dele word gemaak deur ou stompe in ’n hoop neer te lê en dit dan met blare, grond en kompos te bedek tot ongeveer ’n meter hoog.

Sulke heuweltjies word só gerangskik dat daar ’n paadjie of trog (’n vlak kanaal met effens skuins rande) tussenin vorm, wat reënwater van harde oppervlakke sal lei sodat dit stadig in die grond wegsyfer en nie wegloop nie.

Die trôe word dan ook ’n habitat vir allerlei plante. Kweek plante soos Bulbine frutescens, Euphorbia tirucalli, Cotyledon orbiculata, Senecio mandraliscae en Aristida junciformis op die heuwels. Oorweeg wit varkore, wildeknoffel, matjiesgoed, Hostas en Astilbes vir die laer dele en Portulacaria afra ‘Nana’, Osteospermum en Arctotis teen die skuinstes.

In jou groentetuin is stamboontjies, soetrissies en uie perfek vir die heuwels; skorsies en kappertjies sal gedy teen skuinstes, terwyl pietersielie en blaarslaai geskik is vir lae areas.  

Osteospermum 

Cotyledon

Euphorbia

Varkore