Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Beweging in die tuin

Ons tuine bied soveel klank en beweging om te geniet. Dink net hoe bome die eerste fluistering van ’n rustelose wind verraai; hoe dit die takke laat buig en die blare laat saamgesels; hoe palmbome heen en weer swaai en bamboes kan skuur en knars.

Ornamentele grasse trek aandag deur te wuif en dans wanneer ’n briesie deur hulle beweeg, deur in die son se strale te glimmer en te fluister in die maanlig.

Met hul wisselende groeiwyses van trosse en lang stele, pluime en “fonteine”, en subtiele skakerings van groen en goud, koper en brons, rooi en pers, grys en blou, gee siergrasse drama en trefkrag aan ’n landskap, en sorg dit vir beweging langs statige plantvorms en statiese argitektuur. Grasse verskaf ’n habitat vir insekte, skuiling vir klein diertjies en word deur die wind bestuif. Kies inheemse spesies soos ruigtegras (Miscanthus sinensis) dekriet (Thamnochortus insignis) of besemgras (Aristida junciformis).

Aristida junciformis

Foto Kosie Jansen van Rensburg 

Dis nog nie te laat nie! As jy nie in Julie gesnoei het nie, kan jy dit nog in die eerste twee weke van dié maand doen. Maar wag in dele van die land wat kwaai ryp kry liewer eers tot die laaste week van Augustus of selfs vroeg in September voordat jy snoei.

Beskerming teen die wind

Wind kan ’n vriendelike bondgenoot in die tuin wees, solank dit ’n ligte briesie is. Maar sterk wind is ’n kragtige teenstander wat verwoesting kan saai. Bome kraak en buig, en takke val grond toe; groot, sagte blare word versnipper en blomkoppe breek af. Selfs wortels verswak wanneer die wind ’n plant rondpluk. Plant ’n windskerm in die vorm van geharde bome en struike om die wind se effek te verminder. Dit werk goed wanneer die taaiste struike langs die buitenste lyn groei om ’n versperring te skep, met minder geharde struike voor dié buitenste ry. ’n Soliede muur is nie ’n goeie keuse as windskerm nie, want dit skep turbulensie. Indien jy ’n muur nodig het vir veiligheid, plant struike aan weerskante om die wind te filtreer.

Verminder windskade in die tuin met behulp van heinings en struike wat ander plante kan beskerm en beskut. ’n Winderige stoep kan ook beskerm word deur dit te beskut met ’n prieel waaroor ’n klimplant rank. Kies inheemse bome wat wind kan trotseer, soos witolien (Buddleja saligna), kusvaalbos (Brachylaena discolor), karee (Searsia lancea) en geelhout (Podocarpus henkelii). In koue wintertuine help heinings van konifere om wind af te keer en plante te beskerm. Die plantkeuse in kustuine is beperk tot dié wat weerstand kan bied teen die aanhoudende wind en soutsproei. Sandolien (Dodonaea viscosa var. angustifolia) het pers blare met ’n groen rand; dis gehard en windbestand, dit groei vinnig en werk goed as ’n skerm en om sandduine te stabiliseer.

Bronsvinkel

Dans in elke briesie

Daar is baie plante wat beweging in die tuin bring wanneer die wind oor hulle waai. Probeer kosmos, Suurberggrasklokkies (Dierama pendulum), engelvlerkies (Oenothera lindheimeri), Japannese anemone, papawers, Thalictrum, Orlaya grandiflora en bronsvinkel (Foeniculum vulgare ‘Purpureum’).

’n Lenteskoonmaak vir jou grasperk

Deur Kay Montgomery

Augustus is die maand om ’n bietjie aandag aan jou grasperk te gee. Verwyder droë gras met ’n harde besem of hark sodat lug, water en bemesting die wortels kan bereik. Belug die grond met ’n tuinvurk om gesonde groei verder aan te moedig, veral as die grond gekompakteer is waar daar voortdurend voetverkeer was of die deel swak dreineer. Steek die vurk se tande vertikaal in, nie teen ’n hoek nie, sodat jy nie ’n ongelyk of hobbelrige oppervlak skep nie. Nadat jy die gras belug het, maak goed nat voor jy dit bemes. Maak agterna weer goed nat om enige korrels weg te spoel wat tussen grashalms vasgevang is. Vul laastens enige holtes met gesteriliseerde kompos of ’n grasperk-bolaag.

Bou gesonde grond

Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Gesonde grond kweek gesonde groente, wat gesonde mense kweek”. As jy in Augustus jou grond verryk en belug, sal dit jou die res van die somer met ’n ryk, gesonde oes beloon. ’n Dubbele omspit (“double digging”) is ’n beproefde metode wat vrugbaarheid verbeter sonder om die voordelige grondlewe aan te tas of die bogrond te verplaas. Dit is net elke vier tot vyf jaar nodig; tussenin kan jy kompos en bogrond liggies inwerk.

Só maak jy:

• Maak ’n dag voor die tyd goed nat.

• Grawe die bedding in seksies uit, sowat 1 m² op ’n slag. Haal die boonste 30 cm grond (omtrent die diepte van die graaf se lem) uit en hou dit eenkant.

• Woel die tweede grondlaag (sowat 30 cm) los, maar moet dit nie uitgrawe nie. Werk ’n emmer kompos (10 liter) by die bo- en ondergrond in met ’n vurk.

• Grawe die volgende 1m²-seksie uit. Meng die bogrond wat jy verwyder met kompos en werk dit by die eerste seksie in. • Hou aan om die bogrond van een seksie by die vorige een in te werk tot jy die einde van die bedding bereik.

• Neem nou die bogrond van die eerste seksie en werk dit by die laaste seksie in.

• Die resultaat is ’n bedding wat sowat 15 cm hoër as die omringende grond is. Hark dit gelyk en verwyder kluite en klippe. Gee die bedding water en strooi ’n deklaag. Nou kan jy begin saai of plant!  

Kweek jou eie! Met die lente in sig is dit nou tyd om jou grond vir lente- en somergewasse voor te berei, kompos om te spit, saadbakke skoon te maak en saad binne of iewers waar dit warm en beskut is, te saai.