Vir 10 jaar het Bronwyn Magor van Pietermaritzburg amper 1 hektaar gehad om haar liefde vir tuinmaak uit te leef. Maar toe verhuis sy na ’n sekuriteitslandgoed, waar sy haar passies moes afskaal om in net 500 m2 te pas. Die ergste was dat die nuwe tuin geen struktuur gehad het nie, net grys gruisklip met ’n struik, laventelbos en olyfboom hier en daar.

“Daar was niks moois of sierliks nie,” onthou Bronwyn.

Gelukkig is sy geseën met ywerige groen vingers, en met die hulp van Candy Wise, ’n tuinboukundige en jarelange vriendin, en Gordon Stuart van Gordon Stuart Landscaping, is tonne klip vervang met plaveisel en omranding.

Binne net drie jaar het Bronwyn haar nuwe tuin in ’n welige, kleurvolle lushof omskep.

Tuis-paradys-tuin1

Clematis omring deur gesiggies en viooltjies skep spatsels kleur regdeur die tuin.

Tuis-Paradys-tuin2

Teen die motorhuis- muur het Bronwyn ’n prieel laat oprig waar bloureën, ’n ‘Ada’s Joy’-bougainvillea en rose nou vir ’n manjifieke vertoning van kleur en tekstuur sorg én in die somer welkome skadu verskaf. Die honde Twinkle (agter) en Kenneth, ’n blouskimmel-cockerspanjoel.

TuisParadys-tuin3

Die blombeddings met ’n groot verskeidenheid plante daarin is met netjiese rande en Buxus-heininkies afgebaken ter wille van struktuur, terwyl keistene en verskillende plaveiselblokke waarmee die paadjies aan die suidekant uitgelê is, ’n informele voorkoms skep. Plek-plek is tekstuur bygevoeg deur die eentonigheid van net plaveisel te breek met gruisklip en groenigheid.

TuisParadys-tuin4

Smeeystertafels met blom- en vetplante in potte, rottang- mandjies, hangmandjies en kleipotte aan sierlike hake teen die muur – al dié dekoratiewe elemente dra by tot die bekoorlike karakter van die tuin. Hier nooi twee leerstoele jou om te kom sit en die uitsig te geniet. “Omdat ek oral plante wil hê, en my plek al hoe minder raak, hang ek ook mandjies op en stal ek plante op my tuintafel uit. Die hele tuin gee my groot plesier. Jy sal my dikwels vyfuur in die oggend al buite kry waar ek alles bewonder en die lieflike geure geniet.”

TuisParadys-tuin5

Om die harde, onvriendelike voorkoms van die huis en die kaal baksteen- grensmure te versag, het Bronwyn ’n groot verskeidenheid rank- en klim- plante soos Virginia-klimop, sterjasmyn, bougainvillea, kruipvy en rose geplant. Dit het ook die lewendige kleure waar- voor sy so lief is, in die tuin gebring.

“Daar’s ’n heining van Syzygium agterin die tuin, asook gevlegte Ficusse in die voortuin wat die swembadarea van die res van die tuin afskerm. Ek het ook oranje- en sterjasmyn as heining geplant, veral vir hul geur,” verduidelik sy.

’n Enkele formele grasperk kontrasteer met al die blombeddings en versag die harde landskapelemente.

Tuis-Paradys-tuin10

Vars rose in ’n rottang-madjie skep ’n lieflike fokuspunt op ’n tafel in Bronwyn se tuin.

TuisParadys-tuin7

Teen die kruipvy-bedekte mure pryk dekoratiewe elemente en rooi malvas in ’n terracottapot.

Tuis Paradys-tuin8

Echeveria aan ’n sierlike smeeysterhaak en ’n helderpienk 'Madame Isaac Pereire'-roos in die blom.

Tuis-Paradys-tuin9

Bronwyn put inspirasie uit die klein tuine in Brittanje waar omtrent alles in potte groei. “Ek het massas potte – net omdat my tuin klein is, beteken dit nie ek kan nie alles daarin hê nie!” hou sy vol. In sommige gevalle is verskillende potte bymekaar- gesit om ’n versameling te vorm; elders is identiese potte simmetries staangemaak vir ’n formeler aanslag. “Ek het katjiepiering, witbalroos-viburnum, ’n lieflike Japanse esdoring (Acer ‘Bloodgood’) en nog talle ander skatte in potte. Ek hou van sterk kleure en het heelwat rooi, skelpienk, pers en ’n tikkie blou gebruik. So nou en dan voeg ek oranje by vir sprankel.”