roses in a pot

KIES ’n pot wat pas by die grootte van jou roosboom; maak seker dis groot genoeg om die plant te akkommodeer. Volgens Marié Favard van Ludwig’s Roses sal dwergrose floreer in potte met ’n deursnit van sowat 30 cm, middelslag-rose soos hibried-teerose in 35 cmpotte, en groot struik- of klimrose in 45 cm-potte. Halwe wynvate werk veral goed vir klimrose. Let wel Hoe groter die pot, hoe meer klippies en grond gaan nodig wees, en hoe meer water sal jy die plant moet gee.

WAT JY NODIG HET

• pot

• roosboom

• water

• graaf

• beenmeel

• potgrond

• klippies

• waterkristalle en misstof

• materiaal vir ’n deklaag

Mengelmoes

Om die ideale grondmengsel vir rose te verkry, voeg ’n hand vol beenmeel by goeie potgrond met ’n growwe tekstuur. Jy kan dié mengsel verryk deur 25 g Stockosorb of twee teelepels waterkristalle by te voeg; albei verbeter die waterhouvermoë van grond op lang termyn. Dis ’n goeie idee om dié middels in

die somermaande by te voeg wanneer die hitte jou rose kan uitdroog; jy sal dit by die meeste kwekerye kry.

ONTHOU Roosbome se wortels is baie fyn en het sagte grond nodig om in te groei; hulle sal nie in kompakte grond floreer nie.

SO MAAK JY …

roses-1-2

1. Bedek die bodem van die pot met ’n laag klippies (sowat 3–4 cm diep) vir doeltreffende dreinering.

2. Gooi ’n laag potgrond in die pot en sit die roosboom (nog in sy sak) bo-op; toets of daar genoeg ruimte vir die grondlae rondom die roosboom sal wees.

roses-3-4

3. Haal die roosboom uit die pot en draai dit versigtig onderstebo. Druk jou vingers in die gate in die sak en trek dit saggies af.

4. Maak die wortels in die wortelbal liggies los sodat dit maklik in die nuwe grond kan ingroei.

roses-5-6

5. Sit die roos in die middel van die pot en druk dit saggies af sodat die wortels in aanraking kom met die eerste laag grond.

6. Vul die pot met grond en druk dit liggies vas.

roses-7-8

7. Posisioneer die roos sodat die okuleerlas (waar die wortelstok geënt is) net onder die grondoppervlak is; los genoeg ruimte vir ’n deklaag en water.

8. Strooi ’n deklaag oor die grond om die wortels koel te hou en om onkruidgroei te stuit.

9. Dan maak jy jou roosboom nat; as daar water aan die onderkant van die pot uitloop, weet jy die grondmengsel en dreineergate werk goed.

ROOSSORG

• Moenie jou nuutgeplante roos onmiddellik met misstof voed nie; die plant moet eers gevestig raak in die nuwe pot. Sodra dit gevestig is kan jy 15 g Ludwig’s Vigorosa 5:1:5 (of ’n soortgelyke misstof) elke twee weke, of 30 g een keer per maand, toedien.

• Rose is sonliewende plante wat minstens 5–6 uur son per dag nodig het. Hulle verkies oggendson en middagskaduwee, maar kan ook ’n hele dag se son hanteer.

• Rose kan saam met ander plante soos heuningblommetjies, somerviooltjies, gesiggies, Campanula en ysterkruid geplant word.

• As die grond in die pot te kompak begin raak, sal jy sien jou roos groei nie meer so sterk nie en die water dreineer nie meer nie. As dit gebeur, verpot jou roos in die winter: Haal die roos uit die pot, maak die wortels los maar behou van die grond rondom die wortelbal. Vervang die res van die grond met ’n verrykte potgrondmengsel met meer voedingstowwe.

• Moenie probeer om ’n nuwe roos in jou huis te hou nie; as rose nie die nodige son kry vir fotosintese nie, sal hulle nie nuwe blomme vorm nie.

Appelkoospitte, grondboontjie do ppe en de nnebas of -naalde werk goed as deklaag. Moenie grassnysels gebruik nie omdat dit ontbind en saamkoek, en stikstof uit die grond verwyder.

LET WEL Moenie ’n drupbak gebruik nie – rose hou nie daarvan om in water te staan nie. As jy bekommerd is dat dit gaan mors, en jy wil graag ’n drupbak gebruik om die oortollige water op te vang, kies ’n pot op pootjies.