Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Kleur vir die koeler maande

Plant nou bolle wat in die lente moet blom. Kry Ornithogalum, Anemone, Babiana, Hollandse iris, Sparaxis, Ranunculus en Tritonia by jou naaste tuinsentrum. Dis nou ook die beste planttyd vir jaarplante wat van son hou, soos heuningblommetjies, dwerg- leeubekkies, gousblomme, lobelias, floksies, gesiggies en viooltjies. Plant dit rondom struike met kaal stamme vir trefkrag in randakkers.

Hollandse iris

Anemone

Sparaxis

Heuningblommetjies

Gousblom

Ranunculus

Viooltjies

LAAT DAAR LIG WEES
Is jou kombuis te donker vir plante? Installeer LUD-kweekligte in hoekies wat min sonlig kry. Dit sal jou huisplante lieflik laat gedy. 

Kombuistuine

1 Herwin en plant weer

’n Agterplaas is geen vereiste as jy wil kompos maak nie. Jy kan al jou kombuisafval in eko-goud omskep met so min as ’n emmer- of dromstelsel met digsluitende deksels. Kompos-emmers pas netjies in ’n kas en is ’n maklike, vinnige oplossing vir die wegdoen van organiese afval. Wurmplase is net so nuttig in die kombuis en jy kan dit by die meeste tuinsentrums koop.

Het jy geweet? Die volgende plante sal weer groei uit kombuis-reste: 

• Blaargroente soos seldery en blaarslaai

• Bolle soos uie en preie

• Wortelgewasse soos beet en gemmer Hou eenvoudig die afgesnyde basis van bogenoemde groentes en plant dit!

• Vrugte soos Wes-Indiese lemmetjies (droog die pitte uit en saai dit in jou tuin) en avokado’s (laat hang die pit tussen tandestokkies bo ’n fles met water).

Avokado

Seldery

2 Blare wat kekkel en kla

Jou kombuistuin het selfs plek vir interessante potplante!

• Hen-en-kuikens (Chlorophytum comosum) ’n Maklike huisplant wat net af en toe water sal vra op die vensterbank. Omdat dié plante natuurlike lugsuiweraars is wat reuke, gasse en besoedelingstowwe uit die omgewing haal, is hulle uiters nuttig in die kombuis. Hen-en-kuikens is nie giftig nie en dus veilig vir kinders en troeteldiere.

• Skoonma-se-tong (Sansevieria aethiopica) kom goed klaar met min lig en aandag. Hierdie plant is ’n goeie keuse vir die kombuis aangesien dit op ’n unieke manier sonder die son kan fotosinteer en daarom reg deur die nag vars suurstof vrystel. Hulle pas uitstekend aan by hulle omgewing en bring ’n argitektoniese element in enige ruimte.

Wenk Hou potplante in jou huis gesond deur ’n derde van die bogrond met nuwe voedingryke potgrond te vervang.

3 Hidroponiese tuinboustelsels 

Oorweeg ’n kombuistuin sonder grond maar met ’n interessante waterbasis.

’n Hidroponiese stelsel gee jou volle beheer oor die omgewing, beperk plae tot die minimum, gee plantgroei ’n hupstoot en laat jou toe om verskillende groentes saam in ’n houer te kweek. Daar is ook vertikale selfbenattingstuine beskikbaar vir elegante en treffende lewende dekor.Hierdie gewasse is geskik vir hidroponiese aanplanting: blaarslaai, spinasie, aarbeie, bloubessies, soetrissies, tamaties en komkommer (hou die korrekte groeiseisoen in gedagte).

Wenk Raadpleeg jou tuinsentrum oor verskillende installasie-opsies, selfdoenstelle vir beginners en voedingsformules.  

Teks verskaf deur Life is a Garden. Sien meer by lifeisagarden.co.za of volg hulle op Facebook en Instagram.