Foto's Francois Oberholster en Kosie Jansen van Rensburg

Met ’n groentetuin op jou werf kan jy regdeur die jaar vars kos op die tafel hê. En wanneer jy plant of saai volgens die seisoen, sal jou groente floreer.

Megan McCarthy, tuinboukundige op die Boschendal-wynlandgoed in die Boland, verdeel planttyd op dié historiese plaas in drie seisoene: lente (Augustus tot November), somer (Desember tot Februarie) en herfs/ winter (Maart tot Julie).

“Sommige plante vaar beter in kouer seisoene of klimate en ander verkies weer warmer omstandighede. Seisoenale veranderings soos die hoeveelheid daglig en die grondtemperatuur veroorsaak dat plante hul blare verloor, begin uitloop, saad skiet of ontkiem. Dit geld natuurlik ook vir groente.

“Wanneer jy groente buitentyds saai of plant, is jou kanse op sukses minder. Staan daarom liewer plantplek af aan groente wat in die heersende seisoen aard. Jou oes sal soveel groter wees!

“Daar is natuurlik gewasse wat dwarsdeur die jaar gekweek kan word; in die winter sal dit net langer neem voor jy hulle kan oes. ’n Gewas kan ook in een deel van die land langer neem om volwassenheid te bereik as in ’n ander deel weens klimaatverskille.”

Met Megan se hulp het ons ’n seisoenkalender opgestel as ’n riglyn vir wanneer jy wat moet plant of saai.

LAAI JOU GROENTEKALENDER HIER AF.

Oes en eet baba- én volwasse groente. Dis nie nodig om alles enduit te laat groei nie. – Megan

Algemene kweekwenke

  • Begin klein. En as jy nie die eerste keer suksesvol is nie, probeer weer.
  • Plant verskillende soorte groente. Deur peulgroente, wortel- en blaargewasse in dieselfde bedding te kweek, kry jy nie net ’n gebalanseerde oes nie, dit is ook goed vir jou grond. Peulgroente hou die stikstofvlakke in die grond reg en wortelgewasse woel die grond los.
  • Gooi ’n deklaag om jou groente, veral in warmer, droër maande om te verhoed dat die grond aan hitte en wind blootgestel word.
  • Maak jou groente verkieslik soggens nat. Dit voorkom swamsiektes soos poeieragtige skimmel.
  • Sorg vir goeie dreinering.
  • Moenie in jou groentetuin skoffel nie. Dit vernietig die voordelige mikroorganismes en beskadig die struktuur van die grond. Doen dit net wanneer jy plant en nie weer daarna nie.
  • Kweek jou groente organies en verwelkom voordelige insekte en diertjies in jou tuin. Hulle sal jou help om van plae ontslae te raak. Deur organies te werk te gaan, word jy nie blootgestel aan gifstowwe nie en het jou groente hope voedingswaarde.
  • Moenie groente te na aan mekaar plant nie. Visualiseer die ruimte wat elke groentesoort nodig het en plant daarvolgens. ’n Sprietui sal min ruimte in beslag neem, teenoor ’n kopkool wat baie plek nodig het.
  • Roteer jou groente. Jy kan nie dieselfde gewas jaar na jaar in dieselfde bedding plant nie – dit put die grond uit. En dis glad nie nodig om alles in rye te plant nie. Plant die verskillende gewasse deurmekaar en tussen jou blomme. Groente is ook mooi!
  • Plant en saai gereeld as jy deurlopend wil oes. Op dié manier sal jy altyd vars produkte hê om te eet. Tuiniers is geneig om te veel van een gewas te saai, byvoorbeeld wortels en beet, en op dié manier word die groeiplek in die groentetuin vir ’n lang tyd deur net ’n paar gewasse in beslag geneem. Saai genoeg vir sowat twee weke tot ’n maand se oes en saai dan elke twee tot vier weke om altyd iets te hê om te pluk.