Mooiste Madelief

Helder jou beddingrande op met die treffende blomme van madeliefiebosse. Almal gedy in beddings wat volson kry of in potte op ’n sonnige stoep.

• Engelse madeliefie (Bellis perennis). Dié vinnige groeier verskaf kleur van die winter tot die lente met aantreklike geronde rooi, wit en pienk blomme.

• Witbotterblom (Osteospermum) is ’n waterwys inheemse plant wat van die lente tot die herfs blom in talle lieflike diep kleure.  

• Madeliefiebos (Argyranthemum) kom met enkel- en dubbelblomme in skakerings vir elke luim. Dit blom van die lente tot die herfs en lok vlinders na jou tuin. Probeer ook dié mooi madeliefies: bokbaaivygie, geelmargriet, Shasta-madeliefie, bloumargriet en Barbertonse madeliefie. 

Bekoring vir ’n badkamer

Bring groen lewe in badkamers wat genoeg lig kry met hierdie skoonhede – hulle sal goed vaar in die stoom en vogtigheid, aangesien hulle gedy in ’n humiede omgewing:

Calathea-spp. Dié plante, wat bekoor met al die kontras en detail op hul blare, groei op hul beste in klonterige potgrond met veen in die mengsel. Probeer C. orbifoliaC. amabilis, C. roseopicta ‘Medallion’ of C. sanderiana.

Calathea sanderiana

Calathea roseopicta ‘Medallion’

Calathea orbifolia

Calathea amabilis

Het jy geweet? Calatheas het ook die bynaam “bidplant” omdat hul blare saans toevou, soos biddende hande, en met sonsopkoms weer oopmaak. 

• Vredeslelie (Spathiphyllum wallisii) Hierdie juweel met sy helderwit kappies oor tekstuurryke blomme is sensitief vir te veel water en verkies ryk potgrond wat goed dreineer. 

Het jy geweet? Volgens die beginsels van feng shui kan vredeslelies balans bring tussen verskillende energieë deur ’n negatiewe stemming om te swaai na positief. Die lelies simboliseer ook kalmte en suiwering. 

• Duiwelsklimop (Epipremnum aureum) is ’n plant sonder fiemies, met geel marmering op heldergroen blare. Elegante ranke wat na benede tuimel maak dit ’n wonderlike toevoeging tot jou dekor.

Het jy geweet? Hierdie immergroen huisplant is geskik vir verskeie ligtoestande en dien as ’n lugsuiweraar.

Nog goeie badkamerplante: Philodendron scandens, takbokvaring (Platycerium bifurcatum), nooienshaarvaring (Adiantum raddianum), voëlnesvaring (Asplenium nidus), hen-en-kuikens (Chlorophytum comosum), Aglaonema en portaalplant (Aspidistra elatior). 

[Aksieplanne vir Augustus]

Grasperke Berei solank jou gras voor vir die lente met bogrond, bemesting en kompos. Gee dit ’n lae sny, hark met mening, maak gelyk en bedek met ’n grasbolaag. Saai nou saad vir gras wat in die skadu groei.

Goggas Skulp- en naakslakke staan gereed om sagte lente-aanplantings te verorber. Jy kan dit in ’n mate beheer deur ’n versperring rondom nuwe plantjies te skep met ’n aanplanting van ment, knoffel, grasuie, malvas en vinkel. Die skerp reuk en smaak van hierdie natuurlike plaagweerders skrik die goggas af.

Snoei Wag in uiters koue streke tot volgende maand voordat jy plante snoei wat rypskade opgedoen het, aangesien die beskadigde loof die plant steeds teen laatryp beskerm. 

Teks verskaf deur Life is a Garden. Sien meer by lifeisagarden.co.za of volg hulle op Facebook en Instagram.