Lief vir jou tuin? Vier Tuindag op Sondag 21 Oktober en nooi vriende, familie en bure oor om in die vrugte van jou arbeid te deel en jou groen ruimte saam met jou te geniet.

Dis ’n uitnodiging!

Nooi vriende en familie na jou tuinpartytjie met dié gratis Tuindag-uitnodiging. Laai dit af en druk dit uit of stuur dit digitaal aan jou gaste en nooi hulle om op 21 Oktober saam makietie te hou.

Probeer dié kreatiewe projekte om jou buitelug-makietie ekstra-spesiaal te maak:

1. Kroonjuwele

Maak ’n blommekroon vir elkeen van jou gaste. Gebruik ’n dun haarband as basis of buig ’n kransie van dun draad. Draai dit toe met bloemistekleefband. Neem nou jou blomme een vir een en draai dit met bloemistekleefband aan die haarband vas; werk van een punt af tot by die ander.

Kyk hier na Blomboy en Suzelle DIY se video's vir ’n stap-vir-stap-gids oor hoe om dit te maak.



Gratis blommekrans-stasies!

Tuis-lesers word genooi om deel te neem aan ’n gratis blommekrans-stasie by verskeie venues in Kaapstad en Johannesburg op Saterdag 13 Oktober en Saterdag 20 Oktober. Plek is beperk; besoek gardenday.co.za vir inligting.

Al die materiaal word voorsien – KLIK HIER om vir ’n sessie te registreer.


2. Sit dit op ys

Kyk dié oulike plan om jou drankies mooi voor te sit: Druk eetbare blommetjies in ysbakkies en vul met water. Gebruik die ysblokkies dan om jou somerdrankies koel te hou.

3. Bly bo

Laat dryf blomme in jou swembad of fontein (met kerse tussenin, wat in die aand lieflik sal lyk) en hang ’n sierkrans of twee daarby vir ekstra mooi.

4. Kersie op die koek

Dié “blomversiering” is gemaak met botterversiersel in drie skakerings van dieselfde kleur. Skep dit in ’n spuitsak met ’n redelik oop sterpunt en versier ’n koek of drie met blommetjies. Maklik!