Foto’s: Francois Oberholster • Stilering: Marilize Spies

Januarie

Gee jou rose drie keer ’n week diep water as dit nie reën nie, en sorg vir ’n goeie deklaag. Januarie is ook ’n goeie tyd vir ’n somersnoei. (Onthou, wanneer jy rose vir jou huis pluk, snoei jy sommer ook die plante.) Bemes jou rose teen die einde van die maand. As dit baie warm is, wees op die uitkyk vir rooispinnekop – hul teenwoordigheid is dikwels ’n teken dat rose nie genoeg water kry nie.

Februarie

Sny gereeld dooie rose uit en hou jou rose goed nat in warm weer. Bemes jou rose weer aan die einde van die maand en onthou die deklaag om jou = plante. Kyk in reënweer uit vir swartvlek en behandel soos nodig.

Maart

Pluk jou blomme gereeld en sny dooie rose uit – dit sal sorg dat jou rose tot die winter aanhou blom. Sodra dit begin koeler word, hoef jy net twee maal per week water te gee. Dien weer aan die einde van die maand bemesting toe. In koue streke sal dit die laaste bemesting van die groeiseisoen wees.

April

Rose in die herfs is pragtig en die kleure so mooi! Pluk steeds jou rose en sny dooie blomme uit om dit te laat aanhou blom. In warmer streke kan jy aan die einde van die maand weer bemes. En wees op die uitkyk vir swartvlek in koeler weer.

Mei

Klop jouself op die skouer as jou rose nou nog blom! Jy het hulle dié seisoen goed versorg. Hou steeds nat as dit in die winterreënstreke nog nie genoeg reën nie. In subtropiese streke kan jy aanhou bemes; in ander streke is dit onnodig tot ná die rose se wintersnoei.

Junie

Dis nou die tyd om rose te verplant. Kyk ook waar jy nuwe rose wil plant. Hou jou rose klam as dit nie reën nie, maar moenie té veel water gee nie – hulle wil nou begin rus!

Julie

Van middel tot einde Julie is die beste tyd vir rose se wintersnoei in streke met ’n gematigde klimaat. Woon gerus ’n snoeidemonstrasie by – ’n mens is nooit te oud om te leer nie! Gee jou rose ná snoeityd goed water en strooi kompos sowat 5 cm dik om elke roos. En strooi ’n hand vol kunsmis om elke roos. Dis ook nou die tyd om die gehalte van jou grond by wortelvlak te verbeter deur goed verrotte kompos diep in jou roosbedding in te werk. Wees net versigtig dat jy nie die rose se wortels beskadig nie.

Augustus

In koue streke is dit nou snoeityd. Versorg jou rose ná snoeityd soos in Julie. Noudat dit begin warmer word, moet jy ’n goeie deklaag om jou rose strooi en dit meer gereeld water gee.

September

Gee twee maal per week water namate dit begin warmer word. As jy met hibriedteerose met een sterk blom op ’n steel wil spog, moet jy nou al die syknoppe verwyder. By floribundarose moet jy weer die eindknop afsny om seker te maak jou plant het ’n tros blomme wat oraloor mooi blom. Gee weer van die einde van die maand af bemesting.

Oktober

Dis rose se spogmaand! Pluk rose vir jou huis, maar moenie te veel te vroeg in die seisoen pluk nie, want die plant het die blare aan die stele nodig om kos te genereer. Stap deur jou tuin en geniet die oorvloed rose. Besoek ’n roostuin of gaan kyk hoe lyk die wenroos by jou naaste roosskou. Gee jou rose drie keer ’n week water en teen die einde van die maand weer bemesting. Lees hier nog roos-wenke vir Oktober.

November

Pluk, pluk en hou aan pluk! Sny ook dooie rose uit sodat dit aanhou om in oorvloed te blom. Roostuine is nou pragtig – kyk watter roostuine is vandeesmaand in jou omgewing oop en gaan kyk hoe mooi is dit. Gee jou rose genoeg water – elke roos moet nou sowat 15 liter per week kry.

Desember

As jy die feestyd by die huis vier, hou aan om dooie blomme uit te sny en so seker te maak jy het baie rose vir jou huis. Gee jou rose genoeg water en bemes teen die einde van die maand. Hou dop vir peste en plae.

rose-vir-bloem-se-reen

Somersnoei

Somersnoei is nie so ’n strawwe snoei soos wintersnoei nie – jy sny die plant net liggies terug om dit weer netjies te maak en nuwe groei en nog blomme aan te moedig. Maar dit hang af hoeveel jou plant tussen Oktober en Januarie gegroei het. ’n Goeie riglyn is om die plant terug te sny tot waar daar baie blare op die stingels is.

Bemesting

Rose hou van gereelde bemesting gedurende die groeiseisoen. Gebruik ’n korrelkunsmis met ’n hoë persentasie stikstof, soos Ludwig’s Vigorosa (5:1:5) of 5:5:5, 8:1:5 of 3:1:5, wat ook kalium en fosfaat bevat. Strooi die aanbevole dosis om die basis van die plant en maak goed nat daarna. Bemes een maal per maand van September tot Mei, afhangende van waar jy woon. In baie koue dele is dit nie nodig om in April nog te bemes nie.

Pasmaats in jou roostuin

Plant ’n paar pasmaats in jou roostuin om dit heeljaar mooi te laat lyk! So verhoed jy dat jou roostuin in die winter net ’n klomp kaal, kortgesnoeide takke is. Plant kruie en blomme soos agapante, salies, irisse, asters, lelies, laventel, vinkel, vingerhoedjies, klokblomme, vilette, koringblomme, tabakblomme en malvas tussen jou rose. Selfs struike en klimplante soos Clematis, Weigela, Abelia en kanferfoelie lyk mooi in jou roostuin.

Rooswenke wat werk!

• Moenie rose plant as dit baie reën of straf geryp het nie. Wag tot die weer verbeter.

• Rose in houers en potte droog baie gou uit. Gee dit gereeld en genoeg water.

• Rose hou van son. Plant jou rose so dat hulle minstens ses uur per dag son kry.

• Rose en laventel lyk pragtig saam; maar maak seker die laventel neem nie oor nie!

• Gee rose meer gereeld water net ná jy dit geplant het, vroeg in die groeiseisoen of wanneer dit ná baie warm weer begin blom.

• Plant kruie naby of tussen jou rose – roosmaryn, tiemie, laventel en grasuie hou plae weg. Kappertjies lok plantluise en keer dat dit jou roostuin inneem; jy kan dan net die blare met die plantluise afsny en weggooi.

• As jy ’n roos in jou tuin wil hê wat feitlik heeljaar blom, plant ’n Mutabilis.

• ’n Deklaag is ’n moet. Rose sal beter groei as hul wortels met ’n organiese deklaag bedek is – gebruik goeie kompos, bas of selfs lusern. Namate die deklaag verrot, voed dit die grond en bevorder goeie groei.

• As jy van mooi groot blomme hou, verwyder al die knoppe wat naby die hoofknop aan die punt van die steel groei. Jy sal wel minder blomme hê, maar die hoofknop sal koning kraai!

• Sny elke dag dooie rose uit. Hulle kan ’n wegkruipplek vir plae wees.

• En geniet jou rose! Pluk rose vir jou huis en sit dit in potjies oraloor!

Bronne Rose deur Ludwig Taschner; Ludwig’s Roses-katalogus; Reader’s Digest Secrets and Tips from Yesterday’s Gardeners; Veld, Vlei & Rose Gardens deur Sheenagh Harris en Jacqueline Kalley; ludwigsroses.co.za.