Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Smee nuwe tuinbande

Met dié dat sosiale verkeer tydens die Covid-19-inperking taboe was, het dit ons die kans gegee om opnuut met ons tuine in verbinding te tree. Heelparty mense het die gedwonge isolasie en ekstra tyd tot hul beskikking gebruik vir projekte in die tuin. ’n Hernude verbintenis met die kos wat ons eet het gelei tot die skep van mini-tuine met kruie, mikroslaaie en pottamaties op vensterbanke, balkonne en stoepe; in baie tuine is daar ook verhewe beddings vir groente aangelê.

Tuindag op Sondag 11 Oktober is ’n geleentheid om ons eie tuine te vier en met vriende en familie te deel. Dit kan geskied in die vorm van ’n tuinparty (steeds met fisieke afstand) waarheen gaste blomkrone dra, middagete op die stoep, of ’n vleisbraai. Jy kan ook ’n ruiker blomme in jou tuin pluk vir ’n woonstelbewoner, of foto’s van jou tuin uitruil met familie en vriende wat vêr woon.

Vermaak die kleinspan op Tuindag met uitgesnyde openinge in heinings en onder struike waar hulle wegkruipertjie kan speel, of verf syfers op plaveiblokke vir eenbeentjie spring. Kleuters sal dit geniet om geverfde “feetjiedeure” teen boomstamme te ontdek, terwyl ’n groepie klein bome perfek is vir ’n teddiebeerpiekniek.

Leer tydens ’n aanlynwerksessie hoe jy jou eie blomkroon vir Tuindag kan maak; besoek gardenday. co.za/events vir besonderhede.

TERUG NA DIE NATUUR

Oorweeg dit om nie altyd na volmaaktheid op jou werf te streef nie – laat die natuur die botoon voer deur met ’n ligte hand tuin te maak en elemente wat nie perfek is nie, te aanvaar en te verwelkom. Pleks van dooie blomkoppe af te sny, laat die plante saad vorm, en behou blare wat op die grond val as deklaag en ’n plek waar voëls kan skrop op soek na kos.

Wêreld-Habitatdag op 6 Oktober herinner ons daaraan dat ons tuine ’n belangrike rol in die natuur speel deur skuiling aan diere te bied. Probeer die volgende:

• Plant struike wat ’n ruigte sal vorm in ’n stil deel van die tuin waar dit voëls kan beskerm teen roofdiere en die elemente.

• Plant ’n gemengde heining wat skuiling, kos en nesmaakplek vir voëls sal bied.

• Kweek nie-indringende grasse as habitat vir insekte en skuiling vir klein diere.

• Lok bestuiwers na jou tuin deur blomme te kweek wat nektar en stuifmeel produseer, veral inheemse plante wat in jou omgewing voorkom.

Geel gevaar

Neem deel aan Weedbuster Week, 12–16 Oktober. Bring jou kant en verwyder indringerplante soos geelklokkies (Tecoma stans), geel-irisse (Iris pseudacorus) en die geel katteklouranker (Dolichandra unguis-cati sin. Macfadyena unguiscati) uit jou tuin.

Somerpronkers

Deur Kay Montgomery

Dié plante sorg in die komende maande vir ’n skouspel van kleur in jou tuin:

Eucomis
Eucomis

Eucomis, met sy blare in ’n krullebol (dis waar die volksnaam “wildepynappel” vandaan kom), en die elegante berglelie (Ornithogalum candicans) met sy ritse geurige wit, klokvormige blomme, is twee begeerlike bolplante wat op hul mooiste lyk as kleurryke groepe aksentplante in randakkers.

• Varkore groei van knolle en is ideaal vir potte. Hul aantreklike blomskedes kom, buiten wit, ook in skakerings van geel, appelkoos, pienk, robynrooi en diep maroen.

• Knolbegonias met hul geil drag kroonblare in verskeie kleure blom oorvloedig. Kweek regop kultivars in potte en dié met ’n tuimelende groeiwyse in hangmandjies op ’n beskutte plek in ligte skadu.

• Die blomme van die Mexikaanse bolplant Tigridia pavonia het ’n eksotiese voorkoms, vandaar die naam “pou- of tierblom”. Dit spog met rooi, geel, pienk, pers en oranje blomme met kontrasterende kolle. Ofskoon elke blom net ’n dag lank hou, produseer elke steel massas daarvan.

Kosmos
Kosmos
Afrikaners
Afrikaners

• Vir ’n spatsel kleur, saai saad vir kosmosse, Linaria, afrikaners, kappertjies, jakobregoppe en sonneblomme in ’n sonkol.

Rudbeckia
Rudbeckia

• Meerjariges wat jou weke lank met blomme sal beloon, sluit agapante, Inkalelies, Diascia, Echinacea, engelvlerkies, Penstemon, Rudbeckia, salies, Shastamadeliefies en koringblommetjies in.