Foto’s Francois Oberholster | Stilering Melissa Rautenbach

Wat is nou lekkerder as om dié tyd van die jaar buite in die natuur te wees, tussen die soet geure van al die nuwe blomme en bloeisels? Skep dieselfde gevoel in jou tuin deur geurblomme te plant – naby ’n kamervenster, by jou kuierplek, teenaan die stoep en al met ’n paadjie langs. En as jy net ’n stoep of balkon het, plant geurige eenjariges soos pronkertjies, heuningblommetjies, vilette of ’n struik soos ’n katjiepiering in ’n pot. Hier is ’n paar geurige staatmakers:

Groot struik

Boerejasmyn (Philadelphus coronarius)

As jy van die geur van lemoenbloeisels hou, kies ’n boerejasmyn. Dié groot struik dra wit enkelblomme op lang, geboë takke wat jou aan die soet geur van ’n lemoenbloeisel laat dink. Dit blom op sy mooiste in September en Oktober. Boerejasmyn werk goed in ’n gemengde bedding saam met een- en meerjariges soos vingerhoedjies, salies, ridderspore en tuinheliotrope wat lank aanhou blom.

Plant dit in koeler dele van die land in volson, maar in gedeeltelike skaduwee waar dit warm en droog is. Boerejasmyn hou van komposryke grond wat goed dreineer. Snoei die struik direk nadat dit geblom het om dit netjies te maak of sy grootte te beperk. Aangesien dit op die vorige jaar se groei blom, moet dit nie in die winter, kort voor blomtyd, gesnoei word nie, want dan sal dit nie in die lente blom nie. Sny ook ná blomtyd ou hout tot op die grond terug om die struik nuwe lewe te gee. Dit is redelik siektebestand en ’n goeie plukblom.

Hoe meer jy van een soort geurblom by mekaar plant, hoe geuriger sal die bedding of pot wees.

PLANTGIDS
  • Volson tot gedeeltelike skaduwee
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • Bladwisselend
  • Groei 1,5–2 m hoog x 1–2 m wyd

Klein struike

Wildemalva (Pelargonium graveolens)

Dit is nie net blomme wat lekker ruik nie, blare kan ook geurig wees. Ons inheemse malvas, soos die wildemalva, se blare het ’n heerlike roosgeur. Dié struik dra klein, ligpienk blomme van laatwinter tot in die somer, en is op sy mooiste in die lente. Dit groei maklik in komposryke grond in ’n bedding of ’n pot. Snoei die plant terug ná blomtyd om dit netjies te hou of wanneer dit te takkerig raak.

Kweek self wildemalva van steggies – dit groei maklik. Die beste tyd om dit te doen is in die herfs en lente. Sny ’n takkie van sowat 5 cm af, druk dit in ’n potjie met growwe riviersand (te koop by kwekerye) en hou klam. Plant dit oor in die tuin wanneer die steggie goed gevestig is en genoeg wortels gevorm het.

Ander malvas met geurige blare sluit die suurlemoengeur-malva (Pelargonium citronellum) en pepermentgeur-malva (P. tomentosum) in.

PLANTGIDS
  • Halfskaduwee
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypgevoelig
  • Groei 1,3 m hoog x 1 m wyd

Tuinheliotroop (Heliotropium arborescens)

Maande lank, van laatlente tot in die herfs, spog tuinheliotrope met geurige blomme. Die meestal donkerpers blomme is eintlik ’n trossie klein blommetjies wat soos een grote lyk. Dit is ook te kry in wit, ’n sagte skakering van blou, en ligpers.

Die klein struik aard goed in ’n sonnige bedding, maar plant dit in baie warm dele liefs in halfskaduwee. Dit hou van goed gedreineerde, komposryke grond en moet nat gehou word in die somer. Snoei dit terug in die vroeë lente as die plant onnet en te takkerig raak. Dit loop vinnig weer uit om ’n mooi bos te vorm. Plant dit saam met geurige malvas, helderkleurige daglelies of engelvlerkies. Tuinheliotroop is nie ’n goeie plukblom nie.

PLANTGIDS
  • Volson tot halfskaduwee
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Rypbestand
  • Groei 30 cm–1 m hoog x 45 cm wyd

Eenjarig

Pronkertjies (Lathyrus odoratus)

Geen geurtuin in die lente mag sonder pronkertjies wees nie! Plant die klimpronkertjie as jy ’n muur of staander het waarteen dit kan rank, of kies die laaggroeiende, bosagtige soort en plant dit voorlangs in ’n bedding. 

Saai saad in die herfs in goed voorbereide, komposryke grond of koop saailinge in sespakke. Hou dit goed nat totdat die saailinge gevestig is en voed elke twee weke – begin wanneer dit sowat 5 cm hoog is – met ’n vloeibare plantkos soos Seagro. Pronkertjies is ’n wonderlike plukblom. Net ’n bossie van hulle sal ’n vertrek met hul heerlike geur vul. Pluk gereeld, want hoe meer jy pluk, hoe meer blomme sal jy hê.

PLANTGIDS
  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Redelik rypbestand
  • Klim tot 2 m hoog

GEUR IN DIE AAND

Baie plante wat bestuif word deur insekte wat in die nag op hul bedrywigste is, is saans op hul geurigste. Dié plante gebruik hul geur – eerder as kleur – om nagtelike bestuiwers te lok. Blomme wat saans heerlik ruik, is onder meer tabakblomme (Nicotiana alata), maanblomme (Brugmansia) en katjiepiering (Gardenia augusta). Plant dit naby ’n stoep of buite jou kamervenster.

Nog geurplante

Groot struike

• Saliehout (Buddleja salviifolia)* en skoenlapperbos (B. davidii)

• Mexikaanse lemoenbloeisel (Choisya ternata)

• Katjiepiering (Gardenia-spp.)

• Oranjejasmyn (Murraya exotica)

• Verbleikblom (Brunfelsia pauciflora)

Klimplante

• Bloureën (Wisteria sinensis)

• Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides)

• Rankrose soos die ouwêreldse ‘Mme. Isaac Pereire’ of ‘Mme. Alfred Carrière’ en die moderne roos ‘Crème Caramel’

• Chinese jasmyn (Jasminum polyanthum)

• Sterretjiesjasmyn (Jasminum multipartitum)*

Klein struike en meerjariges

• Rose soos die ouwêreldse struikroos ‘Charles de Mills’ of ‘Ispahan’ en baie van die David Austin-rose

• Laventel (Lavandula-spp.)

• Aasbossie (Coleonema album)*

• Meerjarige floksie (Phlox paniculata)

Filipendula vulgaris

Bolplante en eenjariges

• Kammetjie (Freesia-hibriede)*

• Maartlelie (Amaryllis belladonna)*

• Heuningblommetjie (Lobularia maritima)

• Vilette (Matthiola incana)

• Baardangelier (Dianthus barbatus)

* inheems

Bronne Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten; Reader’s Digest A South African Garden for All Seasons met hoofmedewerker Jennifer Godbold-Simpson; pza.sanbi.org; thespruce.com; gardenia.net