Die uitgebreide reeks Simply Delicious-groente is perfek vir klein ruimtes en stel mense in staat om kompakte kultivars van tamaties, eiervrug, soet- en brandrissies, komkommers – selfs mini-botterskorsies – in potte te kweek. Moet ook nie vergeet van kruie, blaargroente (slaai, spinasie, Oosterse blare), babawortels, radyse en beet nie; al dié gewasse vra baie min plek en gedy in houers.

Perfekte pikkies

Hierdie groente is ideaal vir kompakte ruimtes:

• ‘Little Sicily’-tamaties groei netjies en word niks hoër as ’n maklik beheerbare 60 cm nie; tog dra dit hope mediumgroot tamaties in die hoogsomer. Plant dit in ’n middelslag-houer.

• ‘Hansel’ en ‘Gretel’-eiervrugte word sowat 90cm hoog en dra trosse blink vingervormige vrugte in onderskeidelik swart en wit. Die plant het gewoonlik nie ondersteuning nodig nie. 

• Klokvormige mini-soetrissies sluit kultivars soos die oranje, rooi of geel ‘Sweet Snack’ in, asook ‘Snackabelle’ – laasgenoemde dra rooi vrugte met ’n soet geur en sy stele en pitte kan maklik verwyder word. Hierdie dwerg-soetrissies lewer twee oeste van tot 30 vrugte elk. 

• ‘La Bomba’ is ’n dwerg-jalapeño-rissie wat 46 cm hoog en wyd groei en ’n volgehoue oes van groot donkergroen rissies met ’n matige sterk smaak dra. 

Wenke vir sukses

Groente wat in potte groei, het basiese behoeftes en dis maklik om hulle te versorg:

• Gebruik potgrond van goeie gehalte en voeg ekstra palmveen by vir vogbewaring en dreinering, asook stadig vrystellende organiese 2:3:2- of 3:1:5-kunsmis. 

• Kies middelslag-potte; kleiner potte droog gouer uit. 

• Oggendson en skadu in die namiddag is die beste. Moenie die potte teen ’n warm muur plaas wat na wes front nie.

• Reken dadelik af met plae; gebruik ’n organiese plaagdoder.

• Maak daagliks nat in warm weer, en voed een keer per maand met ’n vloeibare bemesting.

Kombuistuin-take 

• Maak gereeld nat in warm, droë weer.

• Beskerm sagteblaar-gewasse teen die middagson met skadunet.

• Voed vrugtedraende gewasse met ’n organiese 5:1:5-bemesting of Ludwig’s Vigorosa.

• Oes gereeld; dit moedig nuwe groei en meer vrugte aan.

• Teen die einde van die maand kan jy saad vir herfs- en wintergroente in saadbakke begin saai.

• Pluk die blare van botterskorsies en ander pampoensoorte af sodat die plante al hul energie in die rypmaak van bestaande vrugte kan stoot.

[SAAI NOU]

Somerreënstreke Alle koolsoorte, kropslaai, wortels, beet, blaarbeet, preie en uie.

Winterreënstreke Alle koolsoorte, beet, wortels, seldery en kropslaai.

Subtropiese streke Boontjies, beet, eiervrugte, soet- en brandrissies, wortels, seldery, uie, radyse, blaarbeet en tamaties.