Kop op ’n blok

Moenie dat te min plek jou afskrik om kool te plant nie. Oorweeg koolsoorte wat maklik groei en veel minder ruimte nodig het as die tradisionele groot koppe, maar net so kraaklekker soet is. Smaaklike mini-koolkoppe is byvoorbeeld gouer plukgereed, terwyl Chinese kool treffend lyk in die groentetuin.

Indien jy wel genoeg plek het, kies ‘Savoy’ met sy pragtige smaraggroen blare. Al die koolsoorte het dieselfde vereistes: ryk, vrugbare grond (spit kompos en organiese bemesting in) en goeie dreinering, en maak gereeld nat.

 Hou dop vir plantluise; indien hulle ’n koolkop infesteer, raak dit oneetbaar. Spuit reeds vandat die koppe begin vorm een keer per week met ’n organiese produk soos Margaret Roberts Organic Insecticide. Voed ook vanaf saailingstadium een keer per maand met ’n stikstofryke bemesting.

[STEL DIÉ OUTJIES OP DIE PROEF]

1 ‘Baby Green Gonzales’ 

2 ‘Baby Red Primero’ (al twee van Kirchhoffs) dra kompakte, ronde koppe van sowat 15 cm in deursnee. Dit vaar goed in houers en is binne 55 dae oesgereed.

3 ‘Pak Choi’ (RAW) is ’n erfeniskultivar met smaaklike lepelvormige blare en ’n effense mosterdgeur. Ook die dik wit stamme is eetbaar. Oes babablare binne 30 dae en volwasse blare binne 60 dae.

4 ‘Michilli’ (Kirchhoffs) het die delikate geur van kool en die tekstuur van blaarslaai. Dis heerlik as slaai of gestoomde groente en kan binne 80 dae geoes word.

5 ‘Savoy’ (RAW) is ’n Italiaanse erfeniskool met ’n matige soet, aardse geur. Plant die saailinge uit wanneer hulle vier ware blare (wat lyk soos die volwasse plant) het. Dis binne 80 tot 100 dae gereed vir oes.

• Kry nog inligting by rawliving.co.za of kirchhoffs.co.za.

Kombuistuin-take

• Plant saailinge van die koolfamilie uit sodat dit kan sterk raak voor die winter.

• Erd die grond rondom seldery, preie en blaarbeet op.

• Maak so vroeg moontlik in die dag nat.

• Beheer plantluise met ’n organiese insekdoder en slakke met ’n organiese lok-aas (Ferramol).

• Maak kompos van die oorvloed blare wat in die tuin begin val.

• Strooi ’n deklaag sodat die grond warmer bly wanneer nagtemperature begin daal.

Bly kalm en plant kamille

Kamille is alom bekend as ’n kalmerende krui en sy blomme word in tee, salf en kompresse gebruik. Dis ’n laag groeiende plant wat net 20 cm hoog word en goed werk as grasperk. Kamille sal in halfskadu groei en hou van vrugbare grond wat goed dreineer. In die somer dra dit wit en geel magrietjie-agtige blomme wat maklik selfsaai.

[SAAI NOU DIÉ GROENTE]

Somerreënstreke Beet, boerbone, ertjies (warmer dele), koolraap, kropslaai, krulkool, raap, radys, spinasie en blaarbeet, witwortel, wortel.

Winterreënstreke Beet, boerbone, blomkool, Chinese kool, koolraap, kopkool, kropslaai, krulkool, prei, raap, radys, seldery, spinasie en blaarbeet, tuinertjies, ui, witwortel, wortel.

Subtropiese streke Beet, boerbone, eiervrug, Hubbard-pampoen, komkommer, kool, koolraap, kropslaai, krulkool, pampoen, prei, raap, rabarber, radys, rankboontjies, rissie, soetrissie, spinasie en blaarbeet, stamboontjies, stam- en rankskorsie, tamatie, tuinertjies, witwortel, wortel.