’n Vorm van dié praktyk wat as “die drie susters” bekend staan en al eeue lank deur die inheemse volke van Amerika gevolg word, behels dat suikermielies, pampoen (of botterskorsie) en rankboontjies saam geplant word. Behalwe dat hulle goeie metgeselplante is, bespaar dit ook plek in klein tuine.
Dit werk só: Terwyl die suikermielies skadu bied vir die pampoen of botterskorsie en boontjies, en dié rankende plante ondersteun, verskaf die boontjies op hul beurt stikstof aan die mielies. Al drie groentes het heelwat water nodig. As jou spasie baie beperk is, kies bosvormende kultivars (skorsie, botterskorsie, vlapampoentjie) pleks van rankpampoen.
Goed om te weet Moenie alles tegelyk saai nie. Saai eers die suikermielies in situ. Wag totdat dit sowat 30 cm hoog gegroei het en saai dan die boontjies; wanneer dié sowat 30 cm hoog is, saai jy die pampoen of botterskorsie. Omdat die boontjies en pampoen vinniger as die mielies groei, sal dit alles toegroei en versmoor indien al drie saam geplant word.