Skep ’n natuurlike habitat vir voëls van die omgewing in jou tuin – ons wys jou hoe.

Deur: Marié Esterhuyse

Foto’s Francois Oberholster, Christo Lötter en Marié Esterhuyse

Dis elke voëlliefhebber se droom om só tuin te maak dat die geveerdes van die omgewing sy of haar werf kies vir kuier en bly. Skep ’n paradys vir ’n verskeidenheid voëlsoorte met die regte kos, water en blyplek – kort voor lank sal hul getwiet jou ore laat tuit.

0715DECmoolmanshof-050

1. Plant wat voëls vreet

Met meer inheemse plante in jou tuin sal jy ongetwyfeld meer voëlsoorte lok, aangesien hulle kos verkies wat natuurlik in hul omgewing voorkom. Maar dit beteken nie jy moet jou gevestigde tuin omdolwe en van voor af begin plant nie. Doen dit liewer stelselmatig namate jy ou plante moet vervang.

As jy twyfel watter plante die voëls gaan lok, is jou naaste natuurreservaat ’n goeie plek om raad te vra; of stap deur jou buurt en kyk in watter plante die voëls baljaar. So sal jy gou uitvind wie verkies wat.

1214GDNgardengifts-013

Wie eet wat?

• Geelvinke hou van byna enige soort boom om hul elegante hangende nessies in te vleg: doringbome (Vachellia), kareebome (Searsia) en uitheemse plataanbome of palms. Hulle stroop graag die takke rondom die neste kaal en daarom kan die bome in die somer aan die een kant dood lyk!

• Vrugtevreters soos houtkappers, lysters, muisvoëls, kwêvoëls en tiptolle is gek na vrugtebome soos vyebome en bessiedraende bome soos Cotoneaster* en vuurdorings (Pyrancantha angustifolia*), asook Engelse meidorings (Crataegus x lavalleei ‘Carrierei’). Hulle lê ook weg aan wildeaarbeie (Duchesne indica) en klein, maar baie geurige Alpe-aarbeie, wat rooi of geel is.

• Suikerbekkies hou van enige blom wat ’n tregtertjie of pypie vorm, byvoorbeeld vuurpyle (Kniphofia), aalwyne en kanferfoelie (Lonicera). Hulle is ook lief vir bottelborsels (Callistemon citrinus) en hibiskusse (Hibiscus rosa-sinensis).

• Langsnawelvoëls soos kakelaars hou van dooie bome waarin houtboorders reeds gate geboor het en waar hulle onder die los bas na goggas kan soek.

• Saadvreters waardeer enige wildegras in jou tuin.

* Plant net steriele kultivars of hibriede van dié indringers.

0806JHBTuindagboek-17

2. Voer die geveerdes

’n Voerbord of twee is ’n maklike uitweg om te sorg dat voëls jou tuin bo dié van jou buurman verkies. Daar is deesdae baie voerhuisies te koop, maar jy kan ’n voerbord maklik self prakseer: Sit ’n plaveiklip bo-op ’n stewige staander soos ’n houtstomp of hang ’n houtplankie met tou of draad in ’n boom op.

Of kap vir vrugtevreters ’n paar spykers in ’n plankie wat jy aan ’n boomtak vasmaak en druk halwe appels, lemoene of selfs stukkies piesang daarin.

TUIS/HOME

Oorweeg ook dié planne

• Maak ’n saadtregter: Gebruik koeldrankbottels van plastiek, maak in een drie gate omtrent 7 cm van onder af en druk dan “tregters” van drie afgesnyde bottelbokante in die gate voordat jy dit met saad vul.

• Maak ’n voerbottel: Hang ’n koeldrankbottel met ’n tregtertuit en sitstokkie in ’n boom en vul dit met suikerwater, ’n lekkerny vir verskillende soorte voëls. Moenie skrik as alge die water mettertyd groen verkleur nie.

• Maak gevulde dennebolle.

Dis raadsaam om nie elke dag kos uit te sit nie, want die voëls kan afhanklik raak daarvan. Maar maak seker jou voerplekke is naweke vol wanneer jy tyd het om die voëls by hul feesmaal dop te hou.

DSC_2809 lj

  •  Plant laventel om skoenlappers vir inseketers te lok.
  •  Nektarliefhebbers is gek oor die wildedagga (Leonotis leonurus).
  •  Aalwyne en wilde grasse skep ’n natuurlike habitat vir voëls.
  •  Die Kaapse kanferfoelie (Tecoma capensis) sal talle voëls tevrede hou.
  •  Die fynblaarrooihout (Ochna serrulata) is bessievreters se kos.
  •  Die kareeboom (Searsia lancea) verskaf kos en skuiling vir voëls.

3. Skop nes

Voëls het plek nodig vir nes maak as jy wil hê hulle moet by jou oornag. ’n Boomryke tuin is ideaal vir sommige voëls, maar nie almal wil hoog in die takke wees nie.

• Koop ’n voëlhuisie (of drie). Sit voëlhuisies en neste oral in jou tuin. ’n Sisalstomp sal byvoorbeeld uitgehol word binne ure nadat jy dit opgehang het –

gewoonlik deur ’n rooikophoutkapper wat nes maak. Ander goeie plekke vir neste is bo-op ’n paal of hangend in ’n boom.

• Plant bome. Voëls gebruik bome as broei-, rus- of kwetterplek én hulle lê graag weg aan doudruppels op die blare of nektar uit die bloeisels.

• Plant heinings. Heinings van Plumbago is ’n slim keuse vir grensmure omdat dit skaam voëltjies soos janfrederikke en dikkoppies lok wat op die grond

onder digte plantegroei nes maak. Janfrederikke sal ook nes maak in mure wat met digte rankplante, byvoorbeeld klimop (Hedera), begroei is.

• Muurneste. Moenie van ietwat vervalle ou klipmure ontslae raak nie. Baie voëls gebruik die gate om in nes te maak.

0815WERFplanthouse-010

4. Badtyd

Kos en skuiling is nie al wat voëls tuin toe lok nie. ’n Badplek en skoon drinkwater is nog ’n vereiste. Sit meer as een voëlbadjie in die tuin as jy

verskillende soorte wil lok. ’n Voëltjiebad op ’n voetstuk waar jy dit maklik kan dophou, is ideaal vir die ekstroverte, terwyl skamer voëltjies ’n badplek in ’n meer toegegroeide deel van die tuin verkies. Die voëltjiebad moenie dieper as 2 cm wees nie – sit ’n klip of twee in die water om dit vir die voëltjies

makliker te maak om in en uit te kom.

Hou die water skoon sodat die voëltjies ook daarvan kan drink, en hou dit ook in die wintermaande vol, want voëls bad dwarsdeur die jaar.

IMGP6624

5. Goggaparadys

Wat jy as ’n plaag beskou, is dalk jou geveerde vriende se gunstelinghappie. Deur onnodig gif te spuit, ontneem jy die insekvretende voëls in jou tuin van kos en sal hulle trek. Kyk eers of jy nie ’n ander plan kan maak nie en gee ’n dag of twee kans voordat jy die pestilensies begin uitroei.

Dalk verras die voëls in jou tuin jou en sorg hulle self dat die goggas in bedwang gehou word. Vir ’n paar glasogies is die plantluise op jou rose ’n feesmaal en kwikkies en hoep-hoepe sal korte mette maak van ongewenste ruspes in jou grasperk. Dit kos net ’n bietjie geduld om die natuur sy gang te laat gaan.

As jy regtig moet spuit, kyk eers of daar nie voëlnessies of voëlkos soos blomme en bessies naby is nie. In die lente, wanneer dit broeityd is, is die voëls veral kwesbaar. Kies dan ’n natuurlike manier om tuinplae te beheer.

0615GDNpenelope-010

Maak soos die kenners

Dis lekker om die voëlsoorte in jou tuin te tel voordat jy een of meer van dié planne aanpak met die doel om meer voëls te lok. Skryf neer hoeveel verskillende voëls jy raaksien. Tel weer ’n maand of drie nadat jy ’n voerbord, voëltjiebad of een van die ander planne in werking gestel het, en kyk hoe suksesvol jy was. Die kanse is goed dat jy heelwat meer verskillende voëlsoorte in jou tuin sal hê!

BRON: Bring Nature back to your Garden deur Charles en Julia Botha