’n Tuin is nie verniet nie, maar deur self steggies te maak kan jy baie spaar!

Alle plante maak nie ewe maklik wortels as jy dit in ’n sanderige grondmengsel druk nie, maar baie grondbedekkers steg sonder enige probleem. Maak jou eie Plectranthus, Glechoma, fuchsia, Sutera, Selaginella en Diascia. Begin by maklike plante tot jou tegniek verfyn is.

• Die basiese beginsel van stegvorming is dat jy die steggie aan die lewe hou totdat die plantselle by die knoop of snit begin wortels maak. Jy moet sorg dat die stingels en blare nooit uitdroog terwyl die wortels ontwikkel nie.

Tyd van die jaar Die meeste plante steg goed in die lente en somer. Daar is uitsonderings wat in die winter steg, soos Hebe en Camellia. Hardehoutsteggies moet gewoonlik oorwinter. Die meeste plante steg makliker as die maan aan die krimp is.

Gehalte van moedermateriaal As die moederplant genoeg kos en water gekry het en gesond is, sal die steggies makliker wortel skiet.

Plantdeel wat jy gebruik Die meeste plante word van eindpuntsteggies gemaak. Groeikragtige nuwe lote, bekend as sagtehoutsteggies, werk vir die meeste plante. Hiervoor gebruik jy die boonste 5-7 cm van die takkie wat jy wil steg. Plante kan ook van hardehout (ouer stingels), blare, stingels in die lug en wortels gesteg word. Dit is fase twee. Oefen op sagtehout, eindpunte en plante wat maklik steg.

Hormoonpoeier Ná jare se ervaring moet ek bieg dat hormoonpoeier nie juis ’n uitwerking gehad het op sagtehoutsteggies nie. Dis dalk ’n ander storie met hardehout- of stingelstegvorming.

Higiëne Sorg dat jou snoeiskêr skerp en skoon is en dat die bakke en grond gewas en gesteriliseer is.

Kniehoogte-heinings wat maklik van steggies groei: Westringia, roosmaryn, Escallonia, laventel, Kaapse kanferfoelie en Abelia (net in die lente). Rankplante wat maklik steg Kruipvy (“tickey creeper”), jasmyn, Zimbabweranker, gouereën, kanarieklimop, inheemse klimop (Senecio macroglossus), Madagaskarjasmyn, wasplant en klimop.

Plante wat nie gesteg behoort te word nie:

Enige plant wat geënt word, behoort jy nie te steg nie. Rose, vrugtebome en party esdorings word op ander wortelstokke ingeënt as die bogroei. Hierdie plante kan steggies maak, maar hulle kwyn maklik van wortelsiektes.

Hoe maak ’n mens ’n eindpuntsteggie?

Maak ’n bak met dreineringsgate vol met ’n mengsel van twee dele grond en een deel riviersand. Maak dit nat.

Stap 1
Stap 2A
Stap 2B
Stap 3
Stap 4

Nou maak jy die steggie

1 Sny die eindpunte van die moederplant onder die eerste of tweede knoop af.

2 Verwyder alle blare buiten die boonste twee of vier. Verwyder alle blommetjies of blomknoppe.

3 Plant dit met ’n ligte hand voordat dit uitdroog.

4 Trek ’n deurskynende plastieksak (of kleefplasiek of ’n glasblad) oor die bak vol steggies. Jy kan ook ’n afgesnyde plastiekkoeldrankbottel oor die plante omdop. Bêre die steggies in die koelte waar daar genoeg lig is. Kyk so elke drie dae dat die mengsel nog nat genoeg is. Wag geduldig. ’n Mens kyk maklik ’n steggie dood deur hom te gou uit te pluk en te kyk of daar nie dalk al wortels is nie. Die proses duur so twee tot drie weke. Jy weet hulle het wortels as hulle weer begin groei. Die meeste plante steg makliker as die maan aan die krimp is.