Suid-Afrika gaan gebuk onder ’n ernstige waterkrisis, so dis nou belangriker as ooit om op alle moontlike maniere water te bespaar. Ons het gaan kyk na die koste en praktiese toepassings van ’n gryswaterstelsel, asook ’n oulike oplossing wat jy self kan toepas.

Een van die doeltreffendste maniere om jou waterverbruik te verminder (en jou kans op ’n boete te verlaag) is om water van die bad, stort, wasbak en wasmasjien te hergebruik.

Jy kan gryswater gebruik om die toilet te spoel, jou motor te was of jou tuin nat te lei. Dis heeltemal veilig om jou groentetuin met gryswater nat te lei, mits jy die groente afspoel voor jy dit gebruik. Trouens, sekere soorte seep kan selfs plante se groei aanhelp. Maar vermy waspoeier wat fosfaat bevat, asook versagmiddels en Jik.

Jy moet die gryswater liefs binne 24 uur gebruik om onaangename reuke en bakterieë te vermy. Professioneel geïnstalleerde gryswaterstelsels is ontwerp om die water binne daardie tydperk te gebruik. Buitetenke is ook van duursame materiaal gemaak om die strawwe Suid-Afrikaanse hitte uit te staan.

Watertrenk-web

JoJo se Simple System-gryswatertenk

Water word uit die huis na ’n drom herlei en loop dan deur ’n makrofilter, waar dit behandel en filtreer word. Dié water moet binne 24 uur gebruik word. ’n Meer gevorderde stelsel is beskikbaar waar die water deur ’n klep loop wat osoon in die water inspuit; dit beteken die water het ’n langer raklewe. Daar is tenke in verskeie groottes vir verskillende behoeftes. Terwyl JoJo-tenks wyd beskikbaar is, moet dit deur ’n kenner geïnstalleer word.

Koste: R6499 by Makro (uitsluitend loodgietwerk en installering); Installering kan enigiets tussen R6500 tot R9500 kos.

Geskik vir: skole, besighede en universiteitskoshuise met ’n hoë daaglikse waterverbruik

Ten volle outomatiese waterstelsel

Dié stelsel het ’n 300W-pomp wat aan die badkamer se afvoerpyp verbind om bad- en stortwater te herwin. Dit filtreer hare, pluis en ander soliede materiaal uit voor die water hergebruik word. Die stelsel kan sowat 90 liter hanteer.

Koste: R4550 by gardenresq.co.za

Geskik vir: klein tot middelslag-tuine (daar is ander tenkstelsels beskikbaar vir groter tuine)

Kontak: Philip de Beer vir installering by pcpulmbing7@gmail.com

Selfdoen-gryswaterstelsel op ’n begroting

Dis ’n kleiner stelsel wat jy self kan installeer. Dit produseer genoeg druk dat jy dit met ’n 20 mm-tuinslang en een diamantvormige sprinkelaar kan gebruik.

Koste: R2990 insluitend aflewering by greywater.co.za, installering uitgesluit

Geskik vir: kleiner huise en tuine

Gewone gryswatergebruik

Oor die lang termyn sal die geld wat jy op waterverbruik bespaar, vergoed vir die uitgawe van die gryswaterstelsel se installering, maar dit bly ’n groot uitgawe. As jou ruimte of begroting nie ’n tenk toelaat nie, is daar ander opsies. Jy kan jou stortwater met ’n emmer opvang, asook die water wat jy in die wasbak en bad gebruik. Maak byvoorbeeld ook plante soggens vroeg of saans nat wanneer dit koeler is om verdamping te vermy. Onthou, jy kan nie kombuiswater hergebruik nie; dit bevat vet wat jou plante sal beskadig.

Koste: gratis

Geskik vir: kleiner ruimtes wat minder water vra

Selfdoenstelsel met swembadpype

Ons sustertydskrif, Home, se teksredakteur Gillian Eva het ’n slim oplossing in haar tuin prakseer. Sy het Kreepy Krauly- of Baracuda-swembadpype aan haar afvoerpype verbind met standaard-hegstukke, en daarmee kan sy haar tuin met gryswater natlei. Dit kos ’n breukdeel van ’n formele gryswaterstelsel se prys, én sy hoef nie ’n emmer tuin toe en terug te karwei nie.

Koste: ongeveer R60–R100 per 1 m-pyp, afhangend van handelsmerk en kleur

Geskik vir: klein tot middelslag-tuine

WhatsApp Image 2016-11-15 at 10.37.22 (1) WhatsApp Image 2016-11-15 at 10.37.29 WhatsApp Image 2016-11-15 at 10.37.27 WhatsApp Image 2016-11-15 at 10.37.26 WhatsApp Image 2016-11-15 at 10.37.25 WhatsApp Image 2016-11-15 at 10.37.22

Het jy nog vrae oor die veiligheid en gebruik van gryswater in jou tuin? Klik hier vir nog inligting.