Wie woon hier? Kiewiet Hugo, haar man, Renier, Josie die Jack Russell, en drie katte: Spike, Peanut en Daisy.
WAAR Blouberg
GROOTTE 250 m2

Kiewiet Hugo het ’n seetuin met ’n kinkel. Want, vertel sy, daar is nie net beddings vol plante wat goed by die see aard nie. Geroeste stoele, tafels, woorde en harte het saam met haar plante ’n ereplek hier.

Die Hugo’s het in Oktober 2010 van Pretoria af Kaap toe getrek. Hulle het dié duin in Blouberg raakgesien en besluit om te laat bou. “In September 2011 kon ons intrek en het die proses begin om van ’n duin ’n tuin te maak!

“Ek het in Pretoria aan die Unieke Tuinkuns-tuinklub behoort en daar geleer hoe ’n mens ’n tuin behoort uit te lê. In Blouberg het ek heel eerste ’n tuinklub gesoek, want ek het besef om by die see tuin te maak, is ’n ander storie. Melkbos se tuinklub het my onder hul vlerk geneem en ek het dadelik hul kennis begin tap.”

“My pa, Buster van Zyl, is ’n fotograaf. Hy het beslis die grootste invloed op my liefde vir ’n mooi tuin,” vertel Kiewiet. “As kind het ons dae lank in die Drakensberge, waar ek grootgeword het, en in Kirstenbosch deurgebring terwyl hy proteas en fynbos afgeneem het. My ouma het ook die mooiste kothuis-tuintjie op Bethlehem gehad; ek onthou nog die reuse-dahlias. Volgens my pa was ons voorsate tuiniers vir Jan van Riebeeck hier by die Kasteel. Daar is baie dinge in die lewe wat vir my vreugde gee. En my tuin met al sy geroeste goeters is een van hulle. Dis seker dié dat ek nie anders kan as om in my tuin te wil wees nie!”

10 staatmakers in haar seetuin
  • Skindersalie (Plectranthus verticillatus)
  • Reusepapierblom (Limonium perezii)
  • Vlooikruid (Erigeron karvinskianus)
  • Rankkopieva (Bulbine frutescens)
  • Bergbietou (Dimorphotheca jucunda)
  • Septemberbos (Polygala myrtifolia)
  • Roosmaryn vir heinings (Rosmarinus officinalis)
  • Laventel (Lavandula x intermedia ‘Margaret Roberts’)
  • Dolomietsalie (Salvia dolomitica)
  • Verskeidenheid vetplante soos Echeveria in potte
Kyk hier na haar pragtige tuin en kry lekker wenke vir jou eie tuin:

Ontwerpelement: Waterfokuspunte

“Die waterfokuspunt is naby die stoep sodat ons woelige Hugo’s die kalmerende geluid van water kan hoor wanneer ons daar kuier,” sê Kiewiet. Vir afwerking is die rou sement, soos in die res van die tuin, net so behou om by die growwe gevoel van seesand te pas. Sy het die bouer gevra om gate te boor in drie rosette wat sy by Ital Cement raakgesien het. Eenvoudige koperpype loer deur die sementblomme en gooi die water ondertoe in ’n eenvoudige trogvormige bak.

0116gdnkiewiet-004

Ontwerpelement: Tekstuur en kleur

Skulpe en klippe van Blouberg se strand sorg vir interessante teksture tussen dié trappe van dwarslêers wat manlief Renier vir haar gelê het. Die trappe lei na haar vetplanttuin en word versag met groenigheid aan weerskante. Die suurvy links is ’n geharde plant wat goed aard in arm grond, selfs op kusduine. Dit het lang, kruipende lote waarmee dit gou ’n kaal, warm kol sal toegroei.0116gdnkiewiet-020

Ontwerpelement: Dekor in jou tuin

As jy agterom die huis loop, begin die ontdekkingsreis. Hier het Kiewiet tafels met interessante versamelings, woorde teen die mure, harte op die grond en harte wat hang, uitgepakte skulpe en klippe, en geroeste stoele, tafels en emaljeware wat haar tuin versier. 0116gdnkiewiet-016

Ontwerpelement: Vlakke en uitleg

Kiewiet kon nie op ’n spesifieke styl en tema besluit nie en het toe sommer als gemeng. Om die vlakke in die tuin meer gelyk te kry is muurtjies en trappe gebou en in ’n natuurlike sementkleur gehou. Ook hier is verskillende teksture gebruik – in die paadjie word gruisklippe met plaveistene afgewissel. En daar is ’n geroeste hart in die paadjie, volgepak met wit seeklippe en gesiggies wat sommer vanself tussenin opkom – so reg in Kiewiet se kraal!

’n Seetuin met ’n kinkel in Blouberg

Ontwerpelement: Versier jou mure

Kiewiet maak al oor die 30 jaar mooigoed bymekaar en hang dit op. “Die lewe is te kort om teen ’n kaal muur vas te kyk,” sê sy. “Ek doen alles in die tuin self, maar Renier het al die goed teen die mure vir my opgehang, want ek het ’n ewige vrees vir die geluid van ’n boor!”0116gdnkiewiet-009

0116gdnkiewiet-045

Aan die warm kant van die tuin groei vetplante. Echeveria met sy silwergrys blare en liggeel blomme is ’n staatmaker.

0116gdnkiewiet-051

"Die skoon skilderdoek wat ek gekry het toe die huis klaar gebou is, was ’n groot uitdaging en vreugde." – Kiewiet

0116gdnkiewiet-044

0116gdnkiewiet-036

Kiewiet se gunsteling-tuintaak is dooie blomme afsny. “Hoe meer jy afsny, hoe meer nuwe knoppe ontwikkel. En water gee is vir my lekker. My tuin het nie ’n besproeiingstelsel nie. Ek spandeer dus baie tyd om die potte en struike nat te maak. Daar is geen beter terapie in die wêreld nie!”

0116gdnkiewiet-021

Selfs die tuinslang het ’n spesiale ophangplek!

0116gdnkiewiet-017

“Ek kan nie ’n ou stoel of ’n verweerde ding weerstaan nie. Alles word huis toe gesleep,” sê sy.

0116gdnkiewiet-019

“Toe ek hier in die Kaap kom en buite Stellenbosch die Aspidistra-tuinsentrum van Willie Schmidt, Pasella se tuinghoeroe, ontdek, het ek besef ek is nie die enigste een met dié kreatiewe streep nie. Net soos Willie gebruik ek enige ding om plante in te sit, en skuif ek goed rond en verander hoekies om die tuin interessant te hou.”

0116gdnkiewiet-011

Ou sinkbaddens, kruiwaens – selfs ’n bababadjie – maak ideale planthouers, want hulle kan geskuif word soos die seisoene verander. Agter die huis sukkel die meeste plantjies in die winter, want dan kry dit geen son nie. Kiewiet skuif eenvoudig die planthouers na waar dit son kry.

0116gdnkiewiet-012

"My tuin verg min onderhoud en prikkel die sintuie. Daar is altyd iets om na te kyk en geurige plante om te ruik." – Kiewiet

0116gdnkiewiet-003Die voortuin met sy sirkelbedding is semiformeel, met gesnoeide roosmarynheinings, gruisklippaadjies, salies om voëls te lok en ’n ry olyfbome – net omdat dit vir Kiewiet mooi is. Kiewiet glo ’n sirkel is ’n kragtige ontwerpelement in ’n kleiner tuin. Dit laat ’n klein ruimte groter vertoon en vang dadelik die oog.

Lekker by die see, maar...

• In die middag begin die wind waai en dan verdamp besproeiingswater vinnig. Maak vroegoggend nat.

• As jy potte het, maak hulle elke dag nat, veral in die somer.

• Plant inheemse struike wat goed in jou omgewing aard. Maar maak seker struike wat in die son hoort, kry genoeg son.

• Maak aantekeninge van waar die son val, veral in die winter. Skryf dit in jou dagboek neer (want jy gaan nie meer volgende winter onthou nie) en maak daarvolgens tuin.

• Los gesiggies en salies om hulself eers te saai voor jy dooie blommetjies verwyder. Hulle kom oral wild op – te pragtig!

• Ek glo aan kompos, kompos en nogmaals kompos. Jy kan nooit genoeg kompos maak en gebruik nie.