Is gryswater die oplossing vir ons waterprobleme in Suid-Afrika?

Andy Horn, ’n argitek met meer as 24 jaar ervaring van die ontwerp en bou van ekovriendelike geboue en die eienaar van Eco Design – Architects and Consultans, sê: Gryswater is ’n komplekse saak. Dit kan byvoorbeeld nie lank gestoor word voor dit septies raak en begin sleg ruik nie. Tensy jy duur, energieverkwistende stelsels gebruik om die water te filtreer, is dit net vir tuinmaak geskik. Boonop kan sepe en wasmiddels jou grond benadeel – gebruik dus ekovriendelike produkte; selfs dan is kombuiswater nie geskik nie, aangesien dit heelwat vet bevat.

Gryswater is net ’n deel van die oplossing; wat ons nodig het, is ’n algehele waterstrategie wat die beskerming, bewaring, doeltreffende benutting en hergebruik van water insluit. Om byvoorbeeld in die eerste plek nie water te besoedel nie, ’n waterbesparende stortkop en ’n waterwys toilet te gebruik, reënwater op te vang en gryswater te benut – dis hoe die pad vorentoe behoort te lyk.

JJ van Rensburg, ons tuinkenner voeg by:  Badwater en gewone wasmasjienwater is veilig, solank jy dit met vars water afwissel en die gryswater nie meer as een keer elke twee weke op dieselfde plek gebruik nie. Keer dat ’n kors op die grond vorm deur gereeld die grond met ’n tuinvurk te breek, dan sal jou plante nie versmoor nie. En oorweeg dit om na bioafbreekbare wasmiddels oor te skakel.

Só kan jy gryswater na jou tuin herlei

Kyk hier hoe een van die Tuis|Home-span gryswater hergebruik om sy tuin nat te lei. Met behulp van swaartekrag is dit so eenvoudig!

andrew-gryswater-herlei

  • Die wasmasjen se uitlaatpyp verbind deur die muur aan ’n swart 35 mm-besproeiingspyp.

  • Wit PVC-waterpype herlei badwater van die drein na die tuin.

  • Die water loop met behulp van swaartekrag in die tuin.

  • Daar is gate in die pyp geboor om die blombeddings deur middel van drupbesproeiing nat te maak.

  • Swart besproeiingspyp, wit PCV-waterpype en hegstukke is beskikbaar by die meeste ysterwarewinkels. Jou plante sal ná ’n ruk so geil groei dat die pyp glad nie meer sigbaar sal wees nie.