Kweek dit so: Koljander groei die beste in die lente en herfs in volson en ryk grond wat goed dreineer. Dit moet gereeld natgemaak word. Dié plant groei goed saam met aartappels en anys, maar nie vinkel nie.

Verskillende soorte: Eenjarige koljander lyk en groei soos Italiaanse pietersielie met ’n hoogte van 50?cm en ’n breedte van 30?cm. Meerjarige Viëtnamese koljander (Persicaria odorata) is ’n ander spesie met dieselfde geur, maar ’n sterker, peperagtige nasmaak. Dis rypbestand, het ’n spreidende groeiwyse en hou van grond wat heeltyd nat is. Die blare kan langer gekook word en werk besonder goed saam met brandrissies, knoffel, gemmer en suurlemoengras.

Wenk: Pluk dit net voordat jy dit gebruik; die sagte blare verlep vinnig.

Het jy geweet?: Eenjarige koljander se wortels en saad is ook eetbaar. Versamel die wortels wanneer jy die plant uit die grond haal; dit het ’n neutgeur. As jy die saadjies wil gebruik, moet jy die plant laat blom. Wanneer die plant vrek, haal dit uit die grond, hang dit onderstebo in ’n bruin papiersak – die saadjies sal daarin val.

Algemene probleme: Koljander is geneig om in die middel van die somer te begin blom; daarom is dit die beste om dit in die koeler seisoene te plant.

Gebruike: Gebruik die blare in Oosterse geregte, roerbraaie, salsas, guacamole en slaaie, op toebroodjies, saam met hoender, vark en beesvleis en as garnering vir dhal en kerries. Voeg die saadjies by kerries, brode, koeke, koekies, piekels, tamatieblatjang, marmelade, worsies en boerewors. Rasper die wortels in Thai-geregte, soppe en kerriepastas.