0914gdngravelgarden-074

Menige tuinier wil hul eie kompos maak, maar vir sommige klink dit na net te veel moeite. “Dit hoef glad nie die geval te wees nie,” sê Pieter Kotzé van Reliance Compost. “Nou in die lente, wanneer dit begin warmer word, is die perfekte tyd om te begin! “As jy jou eie kompos maak, doen jy jou tuin en die omgewing ’n guns. Jy herwin tuin- en kombuisafval wat op die stortingsterrein sou beland, spaar petrol deur dit nie weg te ry nie én jou tuin vind baat by die tuisgemaakte produk.” ’n Mens maak natuurlik nie regtig kompos nie – jy skep net gunstige omstandighede sodat die natuur die werk vir ons kan doen. “Fyner organise materiaal soos blare en sagte plantreste wat net in die natuur gelos word sal sowat 12 maande neem om kompos te word; die growwer houtagtige dele selfs jare,” sê hy. “Maar as jy die regte metode volg kan jy in jou tuin binne vier tot ses maande kompos hê.”

’n Hoop of ’n houer? Dit maak nie saak of jy kompos maak in ’n houer of op ’n hoop nie. Vir kleiner tuine is ’n komposhouer netjieser. Maak sommer self een van houtplanke of koop een van plastiek by jou naaste kwekery of ysterwarewinkel. Jy kan ook ’n ou drom gebruik waarvan jy die bo- en onderkant verwyder – onthou net dat jy ’n paar gate in die wande moet boor. Jou komposhouer moet stewig staan en sonder ’n bodem wees sodat die afval daarbinne met die grond kontak kan maak, en sodat insekte wat help met die afbeekproses vrye toegang tot die inhoud het.

Hoeveel plek het jy nodig?

Die grootte van jou tuin gaan bepaal hoe groot jou komposhouer of -hoop kan wees. ’n Komposhouer van sowat 1,5 x 1,5 m en 1 m hoog is heeltemal groot genoeg vir ’n klein tot middelslag-dorpstuin. As jou tuin groot is en jy baie tuinafval het, kan jy ’n groter hoop maak, wat natuurlik meer moeite en tyd gaan verg.

Hoeveel komposhouers is nodig?

Ideaal gesproke het jy twee houers nodig. Wanneer die een houer vol is en jy wag dat dit kompos word, kan jy jou vars tuin- of kombuisafval in die ander een gooi. So sal jy die proses aan die gang hou en altyd ’n houer hê wat so amper-amper kompos is. As jou plek min is, is dit glad nie nodig nie – maak jou houer vol en wag tot jou hele houer kompos is voor jy dit gebruik. En begin dan weer van voor af.

Wat hoort in jou komposhoop?

Hoewel alle organiese materiaal geskik is vir kompostering, is afval soos vleis en ander dierprodukte nie ideaal vir die agterplaas nie. Gebruik daarom net groen afval wat stikstofryk is en bruin afval wat koolstofryk is.

  • Groen afval is vars grassnysels en groen tuinmateriaal, dooie blomme en ook kombuisafval soos skille, fyngemaakte eierdoppe, koffiemoer, gebruikte teesakkies, onkruid wat nog nie saad geskiet het nie en groen blare. Smeerwortel, vlierboom en duisendblad is baie goeie groen afval, want hulle breek maklik af en sit voedsame minerale in die kompos.
  • Bruin afval is enige dooie plantmateriaal soos herfsblare, droë takke, stokke, strooi en ook karton, koerantpapier en eierdosies. (Koerantpapier, karton en eierdosies moet in kleiner stukke geskeur word voor jy dit byvoeg.)

0914gdngravelgarden-0990914gdngravelgarden-0840914gdngravelgarden-083

Wat moet jy vermy?

As jy nie ’n komposkenner is nie, vermy liefs gaar en rou vleis, vis, suiwelprodukte, verwerkte produkte soos oorskietkos en produkte wat suiker bevat – dit kan rotte en muise lok en sleg ruik. Hout wat met chemiese middels behandel is en honde en katte se mis is ook taboe. Hout moet net in baie klein hoeveelhede bygevoeg word.

Kan jy al jou herfsblare in die komposhouer gooi?

Droë blare neem heelwat langer om af te breek as groen tuinafval. En as jy te veel daarvan in jou kompos gebruik, sal dit die inhoud in jou komposhouer te dig maak, wat die suurstof en dus ook die mikro-organismes se aktiwiteit sal beperk. Dit sal die hele houer se afbreekproses vertraag.

Wenk Maak blaarhumus as jy baie bladwisselende bome in jou tuin het. Maak ’n aparte houer hiervoor – jy kan dit doen deur bloot 4 houtpale in die grond te druk en ogiesdraad rondom te span. Gooi blare sowat 10 cm diep daarin en bedek dit met ’n dun lagie tuingrond. Herhaal die proses tot die houer vol is en laat staan vir sowat ’n jaar en jy sal blaarhumus hê wat jy as ’n deklaag in jou beddings kan gebruik.

Al dié kombuis- en tuinafval is geskik vir jou komposhoop of -houer:

  • groente- en vrugteskille
  • fyngemaakte eierdoppe
  • gebruikte teesakkies
  • grassnysels
  • gebruikte koffiemoer
  • plantmateriaal
  • groen blare
  • blomme (lewend of dood)

0914gdngravelgarden-0800914gdngravelgarden-0810914gdngravelgarden-072

Kry die regte plek in jou tuin, verkieslik iewers in ’n sonnige hoek en uit die oog. Hou ’n vurk byderhand waarmee jy die kompos van tyd tot tyd kan omdolwe. Jou komposhoop het genoeg suurstof, hitte, water en kos nodig sodat die mikroorganismes wat die afval afbreek hul werk kan doen. Volg dié stappe:

Doen dit in lae

Vul jou komposhoop in lae, maar wees realisties: jy gaan nie noodwendig die regte afval en genoeg daarvan op die regte tyd hê om ’n hele laag te gooi nie. Pas die proses daarby aan. Maak wel seker jy handhaaf ’n balans tussen groen en bruin afval, en ook fyner en growwer materiaal.

Growwe goed eerste

Begin met ’n laag takke en grower stukke tuinafval heel onder. Dit help met dreinering en om lug deur te laat. Gooi nou ’n laag bruin afval in en daarna ’n laag groen afval. Maak elke laag sowat 10 cm dik as jy genoeg materiaal het, maar minder sal ook werk. Bedek die twee lae nou met sowat 3 cm tuingrond. Takke en groter stukke plantmateriaal moet eers fyner gesny word voor jy dit in die komposhouer gooi. Niks in die houer behoort groter as 3–5 cm te wees nie.

’n Bietjie beesmis

As jy droë beesmis kan kry, strooi so twee hande vol per laag bo-oor die grond. Die beesmis verskaf mikro-organismes en stikstof, maar is nie noodsaaklik om goeie kompos te verseker nie.

Draai dit om!

Dolwe jou hoop so twee weke na jy dit begin maak het vir die eerste keer om. Daarna kan jy dit elke week of drie draai om dit aan suurstof bloot te stel en te keer dat koolsuurgasvlakke opbou.

Gooi nat

Maak na elke twee lae jou kompos nat en ou dit klam. Maar die afval moet nie so nat wees dat die water onder die houer uitloop nie; dan word dit net ’n slymerige gemors. As die hoop te nat is, draai dit meer gereeld om as gewoonlik en as dit te droog is, sit water bietjie-bietjie by.

Wenk Sif jou kompos oor ’n kruiwa wanneer jy dit wil gebruik. Maak ’n sif van ’n houtraam waaroor fyn ogiesdraad gespan is. Sit jou sif bo-op die kruiwa en skep die kompos daaroor. Gooi die growwer dele wat agterbly terug in jou komposhouer om verder af te breek.

Wat is kompos?

Kompos is net ’n plant- en grondopknapper, en hoewel dit voedingstowwe bevat, is dit nie primêr ’n misstof wat jou tuin gaan voed nie. Jy kan nooit te veel kompos in jou tuin gooi nie, want dit kan nie skade aan jou plante of grond aanrig nie.

Hoe moet dit lyk, ruik en voel?

Goeie kompos moet beslis nie sleg ruik nie. As dit ’n onaangename reuk het, is dit ’n aanduiding dat iets iewers in die proses verkeerd geloop het. Dit moet ’n donkerbruin kleur hê en soos grond ruik en voel. Dit het ’n brosserige tekstuur en is klammerig, maar nie nat, slymerig of klonterig nie. Daar moet ook niks in wees wat jy nog kan herken nie.