Jou groentetuin

  • Hou aan om groente te oes. Plant ’n paar losblaarslaai-saailinge waar dit middagskadu kry, hou die grond klam en oes die jong, bros blare. Vinnig groeiende groente wat gewild is in roerbraai, sop en slaai is Chinese kool soos pak choi, en boerkool, daikon en Chinese mosterd. Saai elke twee of drie weke en oes gereeld om ’n volgehoue voorraad te hê.
  • As jy min spasie het, kan jy kruie in potte kweek.
  • Knyp die blomme by basilie- plante af om geil blaarvorming aan te moedig.
Wenk van die maand
Sit geurryke blomme in potte op die stoep, dan is die soel someraande buite nog aangenamer.

Doendinge dié maand ...

Plante onder die oorhange van jou huis moet met die hand natgemaak word, want reënwater kan dit nie bereik nie.
  • Hou die grond rondom asaleas en kamelias se wortels klam met ’n dik deklaag van kompos; dit sal keer dat hulle botsels afgooi.
  • Snoei krisante terug om bosagtige groei en meer blomme in die herfs aan te moedig.
  • Sukkel jy met ruspes in jou grasperk? Dien Efekto se Wonder 4:1:1 With Insecticide toe; dis ’n kunsmis met insekdoder wat op kontak werk en in die ruspe se maag opgeneem word.
  • Hou ’n oog oop vir geel-en-swart ruspes wat in die bolle van nerinas, clivias en amarillisse boor, en ’n roomkleurige ruspe met swart kolle wat in agapante se blomknoppe sit en in die middel van die plante inboor; spuit met Margaret Roberts Biological Caterpillar Insecticide.
  • Tel vrugte op wat van bome afval en met vrugtevlieglarwes besmet kan wees. Stut takke wat swaar dra aan vrugte om te keer dat hulle afbreek in sterk wind.
  • Hou die vogvlakke van plante wat onder dakrande, in hangmandjies en potte groei dop, aangesien reënwater nie by hulle kan uitkom nie.
  • Plantluise wat aan sappige nuwe groei vreet, kan maklik met ’n straal water of seepwater afgespuit word.
  • Om verdamping te beperk, maak plante vroeg soggens nat, en nie op die warmste deel van die dag nie. Maak ook seker die water bereik jou plante se wortelarea.
  • As jy in ’n streek met droë somers woon, stel jou grassnyer se lemme hoër sodat die gras langer bly en die strawwe son nie die grasperk se wortels skroei nie.

Bespaar tyd
  • Smal sementstroke tussen ’n grasperk en ’n bedding maak dit makliker om die gras te sny en voorkom dat die gras in die bedding ingroei. Die plaveisel moet net nie hoër as die gras wees nie; dit sal die grassnyer se lemme beskadig.
  • Strooi ’n dik organiese deklaag rondom plante om water te behou, onkruid te onderdruk en verdamping te beperk. Dié deklaag sal mettertyd ontbind en die grond verryk en vrugbaarder maak. Maak seker die grond is klam voor jy die deklaag strooi. ’n Deklaag is soos ’n spens vir voëls, paddas en insekte en sal hulle aanmoedig om daar te kom kos soek.
  • Maak ’n vlak dammetjie rondom nuutgeplante bome en struike, asook groente soos tamaties en skorsies, sodat water stadig by die grond kan insyfer.
Krismisrose (Foto: Vergelegen-wynlandgoed)

Koel somerkleur

Blou plante skep altyd ’n koel gevoel op ’n warm dag, ongeag watter skakering jy in jou tuin het. Diegene wat dink blou op sy eie is te saai, kan dit ophelder met silwergrys loof of kolle geel suurlemoen-petunias, madeliefies, daglelies of Achillea.

Krismisrose blom in blou of pienk, afhangend van die grond en water-voorraad. Ouer variëteite maak uitstekende agtergrondstruike in gefiltreerde skaduwee en klam grond uit, terwyl moderne kultivars kleiner en kompakter is – die ideale plant vir voorlangs in ’n randakker met ligte skadu, of in potte, ook in ligte skadu.

Miniatuur-, middelslag- of hoog-groeiende agapante groei in volson met blomskerms wat wissel van bleekblou tot ’n dieppers.

Felicias met hul fyn madeliefie-agtige blomme in ligte of diepblou is netjiese, laaggroeiende struike, perfek vir sonnige rotstuine, potte en voor in ’n randakker.

Rond beddingrande en potte af met blou lobelias en kweek Torenias in ligte of gedeeltelike skadu.

Nuut in die kwekery
‘Strawberry Blonde’-afrikaners spog met pragtige nuwe pastelkleure soos pienk, roos en geel – maar met ’n kinkel: In warmer weer is die blomme geelpienk, terwyl die pienkpers kleur uitkom in koeler weer. Die plante is gerond en bosagtig, en wanneer hulle eers gevestig is, kry niks hulle onder nie. Plant hulle in volson in komposryke grond. Hulle vaar uitstekend in ’n pot en is veral treffend in plate van dieselfde kleur.
‘Strawberry Blonde’-afrikaners