Maak jou plante meer deur hulle te verdeel.

Jy kan dit enige tyd van die jaar doen, maar ’n goeie riglyn is: Verdeel meerjariges wat in die lente blom in die laatsomer of vroegherfs, en dié wat in die somer en herfs blom ná die winter voor die groeiseisoen weer begin.

Wanneer jy die plante verdeel, is dit ook die ideale geleentheid om kompos by die grond in te werk. Plant weer dadelik ná verdeling en maak goed nat. Kies plante met sterk wortelstelsels – dié met yl wortels sal heelwat langer neem om goed te vestig.

Só maak jy

Grawe die plant wat jy wil verdeel uit en spoel die meeste grond van die wortels af sodat jy kan sien wat jy doen. By plante met vlesige wortels wat digte polle vorm, soos agapante en daglelies, is dit die maklikste om twee tuinvurke rug aan rug in die pol te druk. Wikkel die vurke van mekaar in ’n hefboom-aksie – dit sal die pol uitmekaartrek.

Onthou, hoe kleiner jy die polle verdeel, hoe langer gaan jy wag dat die bedding weer ’n meer gevestigde voorkoms het. Agapante wat een-een geplant word, vertoon heelwat yler as polle met ’n paar plante in. Baie tuiniers verkies om die nuut verdeelde plante se blare korter te sny, maar dis nie nodig nie.

Kleiner plante soos lamsore en shastamadeliefies kan met die hand verdeel word, en jy kan grondbedekkers soos Erigeron met ’n graaf afsteek en elders plant. Dis nie nodig om die hele plant uit te haal nie.

Kies altyd gesonde plante om te vermeerder. As jy siek plante vermeerder, of dié wat nog nooit mooi geblom het nie, sal die nuweling jou heel moontlik ook nie met ’n mooi vertoning beloon nie.

Plantlys

Verdeel maklik:

Agapante (Agapanthus)

Boslelies (Clivia miniata)

Botterblomme (Gazania-hibriede)

Daglelies (Hemerocallis-hibriede)

Groot wilde-irisse (Dietes grandiflora)

Japanse anemone (Anemone-hibriede)

Lamsore (Stachys byzantina)

Perswildeknoffel (Tulbaghia violacea)

Shastamadeliefies (Chrysanthemum maximum)

Vuurpyle (Kniphofia)

Jy kan ook steggies maak. Dis net so maklik soos om te verdeel, solank jy die regte toerusting het:

• ’n Houer met dreineringsgaatjies onderin (enigiets sal werk, selfs ’n jogurtbakkie).

• ’n Grondmengsel soos potgrond wat maklik dreineer.

• ’n Skerp en skoon snoeiskêr.

• ’n Stukkie van ’n gesonde, sterk moederplant.

Só maak jy

Sny ’n takkie van sowat 5–10 cm van die moederplant af. Maak die snit net onder ’n lit of ’n blaar, want dit is waar wortels die maklikste vorm. Verwyder die onderste blare en plant dit in jou houer met potgrond. Jy kan die steggie in hormoonpoeier druk om dit vinniger te laat wortelskiet, maar dis nie noodsaaklik nie; steggies wat op die regte tyd van gesonde groei gemaak word, sal maklik vanself wortels vorm. Moenie die steggies te nat maak nie, maar hou dit klam.

Sit die houers met steggies aanvanklik in die skaduwee totdat die steggies goed gevestig is. Plant dit oor in ’n groter bakkie sodra hul wortels deur die dreineringsgaatjies begin groei. Voed die steggies elke week met ’n vloeibare bemesting soos Seagro of Nitrosol. Plant steggies in die tuin uit wanneer hulle sowat 20 cm hoog is.

Sommige plante soos spekboom, vlytige Liesbet en spoorsalie maak maklik wortels as dit in water gelos word. Maak die houer gereeld vol water en plant die steggie oor in ’n potjie met klam potplantgrond wanneer die wortels sowat 2-3 cm lank is.

Ken die verskil 

Sagtehoutsteggies

Sagtehoutsteggies maak jy van die nuwe, sagte groei van plante soos fuchsias en spoorsalies. Doen dit in die laatlente en vroeë somer sodra die groeiseisoen weer begin. Gebruik ’n sterk, maar buigbare takkie. Dit neem ongeveer 2 tot 4 weke vir sagtehoutsteggies om worteltjies te vorm.

Hardehoutsteggies

Hardehoutsteggies maak jy in die herfs en winter, dit wil sê wanneer plante soos krismisrose, rose, skoenlapperbos (Buddleja davidii) en hibiskusse gesnoei word. Die ouer en harder groei word vir hardehoutsteggies gebruik. Dit neem oor die algemeen langer voordat hardehoutsteggies wortelskiet.

Plantlys

Steggies wat maklik groei:

Fuchsias (Fuchsia-hibriede)

Krismisrose (Hydrangea)

Laventel (Lavandula)

Madeliefies (Chrysanthemum)

Malvas (Pelargonium)

Salies (Salvia-spp.)

Roosmaryn (Rosmarinus officinalis)

Spekboom (Portulacaria afra)

Spoorsalies (Plectranthus ecklonii)

Vlytige Liesbet (Impatiens walleriana)