Die tyd wanneer jy snoei, het ’n invloed op hoe die plant daarop reageer. Plante wat in die laatwinter en vroeglente gesnoei word, reageer deur baie nuwe groei te produseer, terwyl snoei in die somer meer blomme en vrugte tot gevolg het. Somersnoei verleng plante se blomseisoen, en selfs al sny jy net dooie blomkoppe af, is dit ’n vorm van snoei en sal die plant vir langer aanhou blom.

Snoeityd word grootliks bepaal deur wanneer die plant blom en of die plant blomme op ou of nuwe hout dra. Sommige struike blom op ou hout wat die vorige seisoen geproduseer is, ander blom weer op nuwe groei. Plante wat op die vorige jaar se hout blom, kan direk ná blomtyd gesnoei word, terwyl struike wat op nuwe groei blomme dra, ook ná blomtyd of laatwinter en vroeglente, voor die nuwe groeiseisoen begin, aan die beurt kom.

Snoei struike so

• Begin deur eerste die dooie takke of dié wat besig is om dood te gaan en wat siek of beskadig is, af te sny.

• Maak altyd jou snit diagonaal teen ’n 45-grade-hoek sodat water nie op die bopunt van die afgesnyde tak bly lê nie.

• Sny altyd die tak sowat 5 mm bo ’n gesonde botsel af. As jy te na aan die botsel sny, kan jy dit beskadig en as jy weer te ver van die botsel af sny, kan die stukkie bo die botsel doodgaan en is die plant geneig om meer vatbaar te wees vir siektes. Onthou dat die tak gaan uitgroei in die rigting waarin die botsel wys – kies dus ’n botsel wat na buite groei.

• As jy nie weet wanneer om ’n bepaalde plant te snoei nie, doen dit nadat dit geblom het, behalwe as dit soos ’n bloeiselboom moet vrugte dra. Veral plante soos jasmyn, bloureën en blomperskes wat in die lente blom moet juis nie in die laatwinter teruggesny word nie, want dan sny jy die takke af waarop dit blomme dra.

• Wag met die snoei van rypgevoelige plante tot die ergste ryp verby is – snoei stimuleer nuwe groei wat met ryp ’n knou sal kry.

• Hoe harder jy ’n plant terugsnoei, hoe lewenskragtiger sal dit teruggroei en nuwe groei vorm – dit geld vir die meeste plante. Maar as jy onseker is hoe ver jy ’n spesifieke plant kan terugsnoei, sny die plant eers net met sowat ’n derde terug en kyk wat gebeur.

• Wanneer jy struike met houtagtige takke terugsnoei, moenie die plant onmiddellik terugsny tot in die houtagtige dele waar daar niks blare is nie. Sny eers net ’n derde af of tot daar waar die plant blare het. Wag dat daar weer blare op die kaal takke ondertoe uitloop en sny dan eers die plant met nog ’n derde terug. Dis veral belangrik by plante soos proteas, erikas, laventel en roosmaryn wat eerder ligter en meer gereeld gesnoei moet word.

• Gee jou plante ná jy gesnoei het kos om nuwe groei aan te moedig; ’n goeie deklaag van goed verrotte kompos en ’n algemene bemesting soos 2:3:2 of Bio Ganic sal ook nou jou plante ’n goeie hupstoot gee. Maak jou gesnoeide plante ook goed nat.

Snoei bome so

• Die laatwinter (en net voor die groeiseisoen weer begin) is die ideale tyd om bladwisselende bome te snoei. Terwyl die boom sonder blare is, is dit makliker om die vorm van die boom te sien. Dis ook dan wanneer die boom meer sap begin produseer, wat die snoeiwond vinniger sal laat genees. Bome met ’n oorvloed sap, soos berkebome (Betula-spp.), okkerneute (Juglans-spp.), populiere (Populus-spp.) en esdorings (Acer-spp.) moet eerder aan die einde van die somer, wanneer hul sapproduksie afneem, gesnoei word.

• Immergroen bome kan in die lente gesnoei word.

• Om jou bome mooi te vorm, snoei hulle wanneer hulle nog jonk is. Sny takke wat oor mekaar of na binne groei, uit. Kyk ook dat jy die sterkste en gesondste takke behou en sny dié wat nie hul kant bring nie, af.

• Dit is nie altyd maklik en veilig om ’n groot boom self te snoei nie – veral hoë bome met dik takke verg professionele hulp. Wanneer jy tog ’n dik tak self wil afsaag, verwyder eers al die kleiner sytakke wat uit die dik tak groei. Begin ook by die punt van ’n lang tak en saag dit stuk-stuk af, eerder as om dit met een snit te probeer afkry. Wanneer die tak sowat 30–45 cm lank is, kan jy ’n voorlopige snit van onder af maak – sowat ’n derde van die dikte van die tak. Die snit van onder sal keer dat die tak afskeur wanneer jy dit nou van bo af deursaag. Saag die tak so na moontlik aan die hoofstam af, maar moenie die bas van die boom beskadig nie.

Snoeityd verskil van plant tot plant. Hier is raad vir enkele staatmakers.

Asaleas (Rhododendron) Snoei asaleas direk ná dit geblom het, aangesien jy die volgende seisoen se blomme kan verloor as jy dit te laat doen. Sny die lang takke wat die plant se vorm bederf tot by ’n gesonde botsel terug; as jy kans sien, kan jy ook al die dooie blomme afsny.

Krismisrose (Hydrangea) Snoei laatwinter terug. Sny al die ou hout heeltemal terug en sny die takke waarop dit in die vorige seisoen geblom het tot by die tweede of derde ogie terug. Maak steggies van die nuwer hout.

Laventel (Lavandula) hou nie daarvan om te hard en tot in die ou hout teruggesnoei te word nie. Sny dit liewer meer gereeld en ná blomtyd terug om te verhoed dat die plant in die middel kaal en takkerig raak. En wanneer jy dit snoei, sny net die blomme en nog sowat 2 cm van die tak af.

Kamelia (Camellia) Sny jou kameliaheinings in Desember/Januarie terug; sny ook kameliastruike dieselfde tyd met sowat een derde terug. So behou die bos ’n mooi vorm en sal dit mooier blom. Onthou ook om kamelias genoeg water en kompos in die somermaande te gee.

Bloureën (Wisteria) Snoei dié ranker eers ná dit geblom het. Dis ’n geharde plant wat wild kan groei! Probeer om jou plant so te snoei dat dit ’n enkelstam het waaruit sytakke alkant toe groei. Snoei ná blomtyd die sytakke met sowat ’n derde terug. Die hoofstam kan tot sowat ’n meter bo die hoogste sytakke teruggesny word.

Salies (Salvia) Sny in die winter met sowat twee derdes terug en maak steggies. Jou salies sal ook baat vind by ’n somersnoei in Januarie/Februarie. Sny hulle dan met een derde terug, al lyk dit of hulle wil begin blom – hulle sal jou met meer blomme en ’n langer blomseisoen beloon.

Hibiskus Snoei jou hibiskusse vroeg in die lente terug. Wag in rypgebiede net tot die ergste ryp eers verby is. Sny dit in die meeste gevalle met sowat ’n kwart terug (dit hang af van watter variëteit jy in jou tuin het), en jou plant sal ’n mooi bosagtige voorkoms hê.

Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides) Sny in die winter jou sterjasmyn wat as ’n klimplant groei terug tot op die struktuur waarteen dit rank. Dié wat as grondbedekkers groei, kan dieselfde tyd met ’n derde teruggesny word. Sny dit in die somer ná dit geblom het weer met sowat ’n derde terug as jy nog blomme in die herfs wil hê.