Die somerwarmte droog jou tuingrond vinniger uit as wat jy dink – en dis iets wat jou plante kan laat swaarkry. Daarom is deklae veral belangrik in nuwe tuine met jonger plante, waar grondbedekkers nog nie die grond toegegroei het nie.

Maar dis ook onontbeerlik in gevestigde tuine:

• dit hou die grond koel;

• dit keer dat die grond uitdroog weens verdamping en voorkom dat water wegloop – jy spaar dus water;

• dit beperk onkruidgroei; • namate organiese deklae afbreek, verbeter dit die grond se tekstuur en verskaf dit broodnodige voedingstowwe aan die grond;

• dit help die erdwurms met hul werk – hulle floreer danksy die organiese materiaal.

Só maak jy

Presies wanneer jy dit doen, hang af van waar jy bly: In winterreënstreke is die begin van die lente ideaal wanneer die grond begin uitdroog maar nog lekker klam is; strooi deklae in somerreëngebiede terwyl die grond nat is ná die eerste reën.

Maar dis nooit te laat nie – as jy dit nog nie gedoen het nie, spring dadelik in. Skep met ’n graaf genoeg van die deklaag rondom die plante en versprei dit met jou hande sodat jy kan voel hoe diep dit oraloor is.

’n Deklaag moet sowat 5−10cm dik wees rondom al die plante in jou tuin – ’n bietjie dikker by bome en struike, en dunner by een- en meerjariges. Lig die takke en blare op om seker maak die materiaal word goed versprei.

Moenie die deklaag van ’n afstand in jou beddings gooi nie, want dan kan dele van jou kleiner plante daaronder beland. As dit gebeur, krap die plante oop sodat hulle genoeg son kry en nie beskadig word nie.

‘Beacon Silver’

Ken die verskil

Kies jou deklaag

Organiese materiaal, soos kompos: “ ’n Tuin moet in elk geval elke jaar met ’n laag kompos gevoed word,” sê Wouter Kruidenier van De Kruidenier Eksklusiewe Tuine. “Kies wel goeie kompos wat sover moontlik onkruidvry is,” is sy raad. “Nie dieremis nie, want behalwe dat dit onkruidsade kan bevat, kan dit ook jou plante brand.” As alternatief kan jy snoeisels, strooi, droë grassnysels, blare, hout- of bassplinters of selfs repe koerantpapier gebruik.

Anorganiese materiaal: klip en gruis van alle groottes en kleure, asook onkruiddoek. Lewende deklae sluit grondbedekkers soos Lamium maculatum ‘Beacon Silver’ in.

Lewende deklae sluit grondbedekkers soos Lamium maculatum ‘Beacon Silver’ in.

Deklae is ook nodig in die winter, veral in streke met swaar ryp waar dit die plantwortels help warm hou.

KONTAK Wouter Kruidenier (dekruidenier.co.za)