Foto's: Francois Oberholster en verskaf

Jou tuin in April

Deur Kay Montgomery

Pragtige loof

Om die ware bekoring van die herfs te ervaar moet jy opkyk na die hoë boomtoppe en afkyk na die grond. Blare in hul najaarkleure verfraai eers die bome voordat hulle grond toe val en tapyte in geel, goud, oranje, bloedrooi en robynrooi vorm.

Bome met mooi herfsblare sluit die riviervaderlandswilg (Combretum erythrophyllum), amberboom (Liquidambar styraciflua), naaldeik (Quercus palustris), Japannese blomkersie (Prunus serrulata), kornoelie (Cornus), tulpeboom (Liriodendron tulipifera) en trots van Indië (Lagerstroemia speciosa) in. In klein binnelandse tuine is die Japannese esdoring (Acer palmatum), met sy ryk herfsloof en grasieuse vorm, of die inheemse laventelboom (Heteropyxis natalensis), met sy laventelgeurige loof wat rooi verkleur namate die weer koeler raak, goeie opsies. Plant laasgenoemde op sy eie of in ’n groep.

Doen jou deel vir Moeder Natuur deur ’n boom te plant op Aardedag, 22 April. Bome verfraai jou tuin, maar bied ook ’n habitat vir natuurlewe, gooi skadu in die somer en verbeter die luggehalte.

Subtiele skakerings

Sagter skakerings van laventelpers en mauve-pienk verleen diepte en skadu aan die herfstuin. Probeer dié skoonhede:

• Sambreelboom (Karomia speciosa sin. Holmskoldia speciosa), ’n enkel- of veelstammige struik, is immergroen in rypvrye gebiede en bladwisselend in koue tuine. Die olyfgroen blare is bleekgroen aan die onderkant. In die laatsomer verskyn trosse papieragtige blomme wat hoofsaaklik blou-violet is, maar mauve-pienk by die basis. Wanneer die hoofdeel afval, bly die pienk basis agter. Die nektarryke blomme lok bye en skoenlappers.

Russiese salie (Perovskia atriplicifolia) dra ligte laventelpers blomme op regop silweragtige stele, en die aromatiese silwergrys loof het ’n veeragtige voorkoms. Plant dit in volson en goed gedreineerde grond.

• In die regte klimaat en toestande sal jy die baardsuikerbos (Protea neriifolia) se pienk skutblare met hul blouswart punte in die herfs en winter sien; die kelkvormige blomme van die opregtesuikerbos (P. repens) verskyn weer van die herfs tot in die lente.

• Die plat blomkoppe van Sedum spectabile ‘Autumn Joy’ verkleur van dofpienk tot roesrooi, ’n lieflike kontras met hul grysgroen vetplantagtige blare.

Wenk van die maand
Los blomme se saadkoppe aan vir voëls om te eet en om ekstra tekstuur en struktuur aan jou herfstuin te verleen.

Yslandse papawers en Viooltjies

Take vir die maand

1 Plant winter- en lenteblommende struike terwyl die grond nog warm is. Dis ook ’n goeie tyd om gevestigde bome en struike te skuif sodat hul wortels kan vestig voor die winter.

2 Plant saailinge van gousblomme, lupiene, nemesias en gazanias so gou moontlik sodat dit tyd het om gevestig te raak terwyl die grond nog warm is. Dis die beste tyd om die saad van pronkertjies en Namakwalandse madeliefies in goed voorbereide grond te saai.

Ludwig Taschner van Ludwig’s Roses sê Yslandse papawers is die mees geskikte winterblommende jaarplant vir ekstra kleur in roosbeddings omdat die blare lae polle vorm wat nie die sonlig afkeer wanneer die rose ná ’n wintersnoei uitloop nie. Geskikte jaarplante vir die rande van roosbeddings sluit gesiggies, viooltjies, petunias en dwerg-leeubekkies in.

3 Plant ’n wintergroentetuin met boerbone, broccoli, spruitkool, kool, blomkool, wortels, uie, ertjies, spinasiebeet, spinasie, seldery, preie en rape.

4 Verdeel oorgroeide meerjariges en gee die tuin ’n dosis organiese bemesting.

5 Waar vroeë ryp verwag word, maak jou tuin laat soggens nat sodat plante kan uitdroog en die grond kan opwarm voor sononder. ’n Kommersiële rypbedekking laat lug, lig en water deur en jy kan dit reg deur die winter op die plante los.

6 Voorkom skade weens sipresluise in die winter en vroeë herfs deur insekdoderkorrels om die stam van sipresbome te strooi. Spuit klein konifere met ’n plantluisdoder.

1Druifhiasint, 2 Aquilegia, 3 Ixia, 4 Gousblom, 5 Freesia

Die beste bolle

Herfs is die regte tyd om bolle te plant wat in die lente blom. Kies geurryke bolle (freesias, hiasinte) vir ’n bedding naby ’n oop venster of deurgang en plant bolle van een kleur (druifhiasint) in stroke langs paadjies. Of plant dit in potte vir ’n spatsel kleur op jou kuierstoep. Jy kan ’n pragtige effek skep met bolle as jy dit tussen ander vroeg blommende plante soos Helleborus, Aquilegia, primulas, ridderspore, nemesias, vilette en gousblomme plant. Van die mooiste lenteblommende bolle is inheems in Suid-Afrika. Freesias, fluweeltjies (Sparaxis), Babiana, Ixia en Tritonia sal ingange, randakkers, rotstuine en houers met hul helder juweelkleure opvrolik.

Die voëlkyker se Bybel

Die jongste uitgawe van die Roberts Voëlgids deur Hugh Chittenden, Guy Upfold en Ingrid Weiersbye (Jacana, R280) is die eerste veldgids wat die verspreiding van voëls op die vasteland aandui met veelkleurige kaarte.

Nog ’n interessantheid is die betekenis van voëls se wetenskaplike en volksname in 13 tale. Maar die rede waarom voëlkykers so ’n gids wil hê, is om voëls te identifiseer – en daarvoor sorg 166 kleurplate wat bepaalde kenmerke, seisoenale, ouderdoms- en geslagsverskille duidelik uitlig.

Nuut by die kwekery!

Petunia ‘Lightning Sky’ sal sprankel aan jou tuin verleen! Elke blom is verskillend. Die meeste het ’n geel oog op ’n fluweelrooi agtergrond met spatsels geel wat soos vonke lyk.

Die plant het ’n semi-slingerende groeiwyse, blom vryelik en werk goed as grond-bedekker of in ’n randakker in die tuin, maar dit sal ook goed vaar in mandjies en houers. Vir intense, helder kleure moet die plant genoeg son kry.

Bemes gereeld om te verseker dat dit heeltyd blom en laat die plant effens uitdroog voor jy weer natmaak. ‘Lightning Sky’ blom amper heeljaar en is rypbestand.

KONTAK ballstraathof.co.za