Die “Jungalow”-effek

Jungalow, ’n kombinasie van “jungle” en “bungalow”, verwys na die huidige mode om wat buite is binnetoe te nooi en jou met groenigheid te omring.

Nes jy in jou tuin plante in lae sal inspan, kan jy dieselfde in jou huis doen met palms, varings, filodendrons, skoonma-se-tong (Sansevieria), geraamteplante, die grootblaardrakeboom (Dracaena) en vredeslelies (Spathiphyllum).

Hang ’n paar kokedamas – kies plante met ’n rankende groeiwyse – en versterk die woudtema met rottangmeubels, mandjies en helder matte en kussings.

Al die veld is vrolik

Wêrelderfenisdag (18 April) en Internasionale Aardedag (22 April) herinner ons hoe belangrik dit is om die wêreld se veldblomme te bewaar – dis ryk aan geskiedenis, tradisie en die romanse van vervloë jare. Ongelukkig loop dié plante gevaar om te verdwyn as gevolg van verstedeliking en verwoesting van die omgewing.

Veldblomme lok bestuiwende insekte! In Suid-Afrika kan ons veldblomme help bewaar, mits hulle nie ’n bedreiging vir ons inheemse flora is nie. Enige stukkie grond het die potensiaal om ’n meer naturalistiese landskap te huisves, byvoorbeeld:

  • ’n Sonnige lappie grond kan ’n miniatuurgrasveld word.
  • ’n Sypaadjie is ideaal vir geharde waterwys blomme.
  • ’n Klam holte kan gevul word met plante wat van nat toestande hou.
  • Die grond onder bome in ’n meenthuistuin is die perfekte plek vir skaduliewende bolle.

Maak nie saak of jy jou veldblomme by saadverkopers of by die kwekery kry nie, jy gee jou tuin daarmee ’n landelike gevoel en help terselfdertyd die wêreld se veldblomme bewaar.

Tyd vir bolle plant

Bolle is beskikbaar in baie vorms en groottes, en kan jou lentetuin verryk met ’n wye kleurpalet. Maak seker jy kies bolle wat ferm en sonder merke is en wag totdat die grond ’n bietjie koeler is voor jy plant.

Kies inheemse lenteblommende bolle soos mauve, rooi en blou bobbejaantjies (Babiana), fraai kalkoentjies (Tritonia), fluweeltjies (Sparaxis) en kalossies (Ixia) met hul hoë stele en stervormige blommetjies in skakerings van pienk, geel en wit en ’n hartjie in ’n kontrasterende kleur. Dié plante lyk op hul mooiste in groepe, rotstuine en in potte.

Kammetjies met hul delikate geur is nommerpas buite ’n oop venster of deur, en geurige wit hiasinte is perfek vir ’n pot op die stoep. Druifhiasinte (Muscari) kan ’n treffende blou rand langs ’n paadjie vorm, gemengde ranonkels sal pragtige kleur verskaf in ’n randakker, en dofpienk sandlelies (Veltheimia bracteata) in trosse lyk lieflik in ligte skadu.

Doendinge dié maand

  • Snoei enige ou stele terug by somerblommende agapante, shastamadeliefies, skildblomme en salies, en verdeel dié wat oorgroei is.
  • Haal somerjaarplante uit wat verby hul fleur is en werk kompos in om die grond te verfris vir winteraanplantings.
  • Nou is die beste maand om pronkertjies te saai in komposverrykte grond.
  • Strooi ’n deklaag van blare rondom struike.
  • In die winterreënstreek is nou die beste tyd om fynbos te plant.
  • Plant gesiggies en somerviooltjies as ’n randafwerking, in potte of as grondbedekker om bolle onder die grond te beskerm.
  • ’n Sonnige posisie en gewone tuingrond is al wat Namakwalandse madeliefies nodig het. Saai dit dun genoeg dat elke plant sonder mededinging kan groei.
  • Plant saailinge van Yslandse papawers (foto bo), gousblomme en vilette op ’n sonnige plek vir vroeë kleur in die winter en lente.
  • Plant wintergroente soos beet, boerbone, kool, wortels, blomkool, preie, ertjies, spinasie en rape in volson en goeie grond.
  • Beskerm jou tuin teen vroeë ryp – belê in kommersiële rypbedekking wat lig en water deurlaat.

Nuut by die kwekery

Agastache ‘Arizona Sun’ is ’n kompakte kort meerjarige hibried (20–25 cm hoog en wyd) met ’n digte massa heldergeel blomare wat dit ’n spogplant maak vir beddings, randakkers en potte. Die eetbare blomme het ’n effense mentgeur en lok skoenlappers en nektarliewende voëls. Dis droogtebestand en wanneer dit eers gevestig is, blom dit regdeur die somer tot in die herfs. Plant in volson in normale tot sanderige grond. Die plant is gedeeltelik rypbestand en sal weer uitloop as jy dit aan die einde van die winter terugsnoei. Besoek ballstraathof.co.za.