Take vir Augustus

Waar woeste winde waai

’n Ligte bries is enige tuin se vriend, maar ’n sterk wind kan takke beskadig en blomstele breek. Hier is ’n paar planne:

  • Stut hoogstamrose en -struike, asook nuut geplante struike wat nog nie ’n sterk wortelstelsel het nie. Gaan ou plantstutte na en vervang indien nodig.
  • As jou tuin onder baie wind deurloop, is kompakte plante soos Kaapse madeliefies (Osteospermum-spp.) die antwoord – hulle lyk veral mooi in massa-aanplantings. Met hul groot verskeidenheid kleure, besonderse blomblaarvorms en ongewone patrone is dié madeliefies ’n lus vir die oog in enige tuin.
  • Plant ’n grens vir beskutting met geharde bome soos die witolienhout (Buddleja saligna), karee (Searsia lancea) en bergkaree (S. leptodictya), olienhout (Olea europaea subsp. africana), kusvaalbos (Brachylaena discolor) of notsung (Halleria lucida), en struike soos saliehout (Buddleja salviifolia), sandolien (Dodonaea viscosa var. angustifolia), wildekanferbos (Tarchonanthus camphoratus) of blinkblaar (Rhamnus prinoides) om wind te help afkeer.
  • Kweek minder geharde struike voor dié windskerm waar dit meer beskut sal wees.
  • Beskerm patio’s met ’n toegerankte prieel.
Wenk van die maand
As jy ’n struik wil plant, maak dit die vorige dag vir ’n halfuur in ’n emmer water staan om seker te maak die wortelbal is goed nat.

Foto Kay Montgomery

Doendinge dié maand ...

  • Wat is nou ’n meer gepaste herdenking van Nasionale Vrouedag as om ’n pragtige inheemse boom soos die vanwykshout (Bolusanthus speciosus) te plant? Met sy effens hangende takke en trosse mauve blomme in die lente is dit ’n hulde- blyk aan die krag en skoonheid van alle Suid-Afrikaanse vroue.
  • Snoei fuchsias aan die einde van Augustus of wanneer die rypgevaar verby is. ’n Praktiese reël is om met twee derdes terug te snoei en dooie stele, asook dié wat swak vaar of binnetoe groei, af te sny.
  • Baie meerjariges sal nou nuwe groei dra. Snoei ou blomstele en dooie blare terug sodat water en lig die kroon kan bereik. Werk kompos en ’n hand vol 3:1:5 by die grond in en maak goed nat.
  • Sodra die grond warm genoeg is, kan jy jaarplante soos die beddingdahlia, Gomphrena, afrikaner, kappertjie, portulak, salie en jakobregop saai vir ’n helder vertoning in die somer.
  • Aan die einde van die maand kan jy somerblommende bolle en knolplante soos aronskelke, dahlias, pynappelblomme, Galtonia, swaardlelies, tierblom (Tigridia) en soetamaling (Polianthes tuberosa) in die grond sit.
  • Gebruik ’n harde besem of tuinhark en verwyder droë gras in die grasperk. Vul enige holtes met ’n kommersiële grasperk-bolaag en dien ’n grasperkmisstof toe. Maak dadelik agterna goed nat om te keer dat die korrels tussen grashalms gaan sit.

Pentas, Kanferfoelie, Valsjasmyn, Kannabas, Dicksonia antarctica, Agapant

Met ’n skilder se oog

Plante van verskillende kleure, teksture en vorms kan in die tuin ingespan word net soos ’n skilder met verf op ’n skilderdoek te werk gaan deur kleure te kombineer en te meng om verskillende buie te skep.

’n Lewendige bui

Rooi is ’n stimulerende kleur wat na jou toe uitspring; dis perfek om die aandag op ’n ingang te vestig, vir ’n trap of vir ’n fokuspunt. Rooi kan óf ’n dinamiese, opwindende kleur óf warm en aanloklik wees.

’n Vrolike bui

Geel is ’n gelukkige kleur; dit straal sonskyn uit en bring lig en lewenskrag by ’n tuin in. Maak dit die hoofkleur in ’n kleurskema of gee dit ’n sekondêre rol in ’n beddingrand; anker ’n pastel kleurskema daarmee of span dit in as aksentkleur. Geel helder ook donker plekke op.

’n Sagmoedige bui

Wasige blou en mauve is onmisbaar in ’n kunstenaar se palet en waardevolle kleure in die tuin. Dit het ’n kalmerende en vreedsame effek, en verskaf skaduwees en diepte. Deurweef deur ander kleure is dit kalmerend en help dit visuele samehorigheid skep.

’n Kalm bui

Groen is ’n rustige, koel, kalmerende kleur. Talle struike en varings in verskillende vorms en teksture spog in wisselende skakerings van groen. Wanneer donkerder skakerings met ligteres gekombineer word, skep dit patrone van lig en skadu.

’n Ontspanne bui

Nie net is pastel skakerings sag op die oog nie, dis rustig en sal ’n lieflike prentjie skep by die ingang van jou huis. Dit verleen ’n ontspanne, opgeruimde atmosfeer aan ’n tuin.

’n Gesellige bui

Oranje is die ekstrovert van die blommewêreld, ’n feestelike kleur vol energie en opwinding. Teen volle sterkte tref dit die oog en is dit warm en verwelkomend naby buite-kuierareas. Perske, nartjie en vermiljoen – almal skakerings van oranje – is opwindende moontlikhede vir buitedeure, -mure, -hekke en -meubels.

Nuut by die kwekery!

Lavandula stoechas LaVela is ’n laventelsoort wat vroeg blom, tot ’n maand vroeër as ander stoechas-variëteite. Dit het ’n aangename geur en lok bestuiwers. Dié plante is stewig, netjies en kompak (38 cm hoog en 30 cm breed), met silwerige loof en blomme in lewendige kleure. Dit lyk die beste in groepe geplant; dit gedy in volson en grond wat goed dreineer. Snoei terug nadat dit in die lente geblom het.

KONTAK ballstraathof.co.za

Huisplant van die maand

Schizanthus ‘Atlantis’

Schizanthus ‘Atlantis’, ook bekend as die “arm man se orgidee”, is net so mooi soos sy naamgenoot. Die blomme lyk soos orgideë, die plant is maklik om te versorg en dit aard binne én buite. Gedurende die koeler maanade blom Schizanthus ‘Atlantis’ sonder ophou; in die huis het dit helder indirekte lig en gereelde natmaak nodig. Pasop vir te min of te veel water en moenie dat die pot in water staan nie. Voed twee keer per maand met ’n vloeibare bemesting om die blomtyd te verleng. Sy kompakte, bosagtige groeiwyse (20 cm hoog en breed) maak dit ’n mooi tafelrangskikking; jy kan dit later in die tuin uitplant in vrugbare, komposverrykte grond in gedeeltelike skadu.

KONTAK ballstraathof.co.za