Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Jou tuin in Desember

Deur Kay Montgomery

’n Afrika-somer

Dié maand vier ons alles wat mooi en vrolik is in die veld en in ons tuine.

Daar is ’n reënboog van kleur te sien in die fraai pienk-en-maroen blomme van die wildekastaiing (Calodendrum capense) en pienk blomtrosse van die kannabas (Dais cotinifolia), asook Leucadendrons, speldekussings, pelargoniums en grondbedekker-madeliefies soos Ursinia wat teen skuinstes groei.

Graslande word verfraai deur pienk Oranjerivierlelies (Crinum bulbispermum), orgidee-spesies, mauve grasklokkies (Dieramas) en Watsonia, die wit klokkievormige blomme van die berglelie (Ornithogalum candicans), Eucomis met hul koddige, pynappelvormige blomme en blou agapante.

Rooirivierlelie (Hesperantha coccinea), oranje en geel vuurpyle (Kniphofia) en die kalwerbossie (Dissotis canescens) met sy magenta blomme gedy langs strome en op ander klam plekke.

Ons het lankal by die natuur geleen en het baie van dié pragtige veldblomme in ons somertuine ingenooi vir kleur – blousyselbos en bloumagriet, oranje gousblomme en vlam-van-die-vlakte (Bauhinia galpinii ), die nektarryke Kaapse kanferfoelie (Tecomaria capensis), Indigofera en Anisodontea.

Wenk van die maand
Sit krismisrose met ’n kompakte groeiwyse in potte vir ’n mooi fokuspunt op jou stoep en by skaduryke ingange.
Het jy geweet? Die Kersboom-tradisie het in die 16de eeu in Duitsland ontstaan.

Kerstradisies

Pleks van ’n gewone boom, kies ’n inheemse boom soos Henkel-se-geelhout (Podocarpus henkelii ) met sy blinkgroen hangende loof, wit katjiepiering (Gardenia thunbergia) met sy stywe takke en blinkgroen blare, of die olienhout (Olea europaea subsp. africana) met sy silwergrys loof. Versier jou ekovriendelike boom met saadpeule, klein dennebolle en plaaslik gemaakte draad- en kraalversierings. Vir iets spesiaals kan jy die droë blomkoppe van die kandelaarboom (Brunsvigia) gebruik en dit versier met jou gunsteling-Kersdekor.

Winkels toe!

1. Maplegrove-voëlvoerder (37 cm H x 8 cm B) R299,99, mrphome.com

2. Ralph-hasie (4,2 kg, 41 cm H x 24 cm B) R499,99, mrphome.com

3. Shweshwe-plantpot (10 cm H x 11 cm D) met drupbak, grond, saad en kunsmis R140, reelgardening.co.za

4. Brookwood-plantrak (96 cm H x 41 cm B) R599,99, mrphome.com

Geskenk-idees vir groen vingers

  • Moenie vergeet van Kersgeskenke vir die tuiniers in jou familie nie. Hier is ’n paar goeie keuses: ’n Inskrywing vir Tuis, plus ’n tuinboek of twee.
  • Voëlbaddens, -voerders en -tafels vir die voëlliefhebber.
  • Bakkies blommende saailinge en ’n sak kompos.
  • ’n Mandjie vol kruie vir die ywerige kok.
  • ’n Betonbeeld vir die hoek van ’n bedding om die tuinslang te keer.
  • ’n Tuindagboek of -kalender om seisoenale aanplantings en blomtye aan te teken.
  • ’n Vogmeter om die vogvlakke van die grond in potte en beddings na te gaan.
  • ’n Reënmeter om reënval akkuraat te meet.
  • ’n Knielmat en handgereedskap vir dié wat fluks onkruid uittrek.
  • ’n Mooi deurmat en skraper vir modderige tuinskoene.
  • ’n Tuintafel of -bankie.

1. Asalea 2. Krisante

Doendinge dié maand ...

  • Kry blommende jaarplante in potte by jou plaaslike tuinsentrum en gebruik dit om kaal kolle in houers en beddings te vul.
  • Strooi ’n deklaag van basstukkies om struike sodat dit minder water vra, jy minder onkruid hoef uit te trek en die bogrond nie wegwaai nie.
  • Vrugte wat van die boom afval, moet vernietig of begrawe word, want dit kan vrugtevlieglarwes huisves. Steun takke wat swaar dra.
  • Moenie dat die wortelarea van asaleas en kamelias uitdroog nie, want hulle is nou besig om volgende jaar se knoppe te ontwikkel.
  • Snoei krisante terug om bosvormige groei en meer blomme aan te moedig.
  • Maak seker daar is altyd vars water in voëlbaddens vir voëls, bye en skoenlappers en dat jou troeteldiere ook genoeg vars water het.

Nuut by kwekerye!

Min plante kan kers vashou by Catharanthus roseus as dit kom by sy vermoë om in warm, droë weer te gedy. Nou spog dié staatmaker in ’n nuwe gewaad. Die ‘Tattoo’-reeks het treffende blomme in skakerings van swart kersie, framboos, papaja en mandaryn met swart “ogies”. Die blomblare oorvleuel en elke blaartjie lyk of dit ’n sweempie swart met ’n sagte kwashaal gekry het. Die plant groei bosagtig, sowat 25–36 cm hoog en met heelwat takke wat ’n oorvloed blomme dra. Plant dit in volson om die intensiteit van die blomkleure te beklemtoon. Hoe warmer dit raak, hoe beter vertoon die swart oog. Die plant vra grond wat goed dreineer en moet in die vroeë groeistadium gereeld natgemaak word. Sodra dit gevestig is, kan dit klaarkom met water een keer ’n week.

Let wel Al is die Catharanthus roseus op die indringerlys, is steriele kultivars of hibriede soos dié een nie gelys nie.

KONTAK ballstraathof.co.za

Nuwe roos!

‘Nomzamo’ is ’n nuwe plaaslik gekweekte struik wat ’n nimmereindigende drag van digte rosetvormige blomme met ’n ligte geur lewer. Die kleur is ’n warm salm-appelkoos. Groepeer drie plante saam as ’n fokuspunt in die tuin, of plant dit as ’n heining om ’n muur op te vrolik of ’n deel van die tuin af te baken. Die roos is genoem na die TV-aktrise Nomzamo Mbatha, wat bewustheid vir die lot van vlugtelinge bevorder deur haar werk saam met die VN se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge. Dis te koop by alle takke van Ludwig’s Roses.