Blomme vir romanse

In die taal van blomme is rose sinoniem met liefde, en niks is meer gepas as ‘Cécile Brunner’, met sy soet geur en pienk miniatuurblomme nie.

’n Mens dink nie sommer aan kruie as iets romanties nie, maar het jy geweet dat sekere kruie spesiale betekenis het? Dit geld byvoorbeeld vir laventel (toewyding), salie (agting), roosmaryn  (herinnering), tiemie (teerheid), basilie (goeie wense) en marjolein (ewige trou). As jou Valentyn ’n kruieliefhebber is, is kruie ’n wonderlike geskenk.

In die koelte van die aand sal kerse, potte met wit mot-orgideë (Phalaenopsis) en geurige wit katjiepierings op die stoep boonop ’n romantiese atmosfeer skep.

Grondlangs

Grondbedekkers is ’n goeie plaasvervanger vir ’n grasperk, help gronderosie voorkom, groei goed teen skuinstes en is ideaal om kaal grond onder bome te bedek. Dit kan ’n plant met ’n lae, spreidende groeiwyse of ’n spreidende wortelstelsel wees, of massas laag groeiende plante wat ’n groot oppervlakte bedek. Stel dié staatmakers op die proef:

  • Dwerg-agapante, brakvygie (Aptenia cordifolia), Arctotis, tapytmadeliefie (Dymondia margaretae), swenkgras (Festuca glauca), gousblomme, Osteospermum, vygies en tiemie werk almal goed wanneer hulle dig opmekaar geplant word.
  • In skadukolle kan jy Ajuga reptans, kleinbosviooltjie (Barleria repens), hen-en-kuikens (Chlorophytum comosum), Lamium maculatum-kultivars, Liriope spicata en Chaenostoma cordatum probeer.

Oorlewingsplanne

Februarie is een van die warmste maande van die jaar, en sommige dele van die land ervaar kwaai haelstorms. Probeer dié planne om te verseker jou tuin oorleef:

Hitte

Strooi ’n deklaag rondom struike (los ’n opening rondom die stam). ’n Deklaag (bo) sal die grond koel hou, water in die grond help behou, die ontkieming van onkruid ontmoedig en grond teen strawwe hitte beskerm. Gepaste materiaal sluit in growwe kompos, dennenaalde, basstukkies, neutdoppe en perskepitte. Strooi lyk nie mooi in ’n ornamentele tuin nie, maar dis doeltreffend en aanvaarbaar tussen rye groente en kruie.

Humiditeit

Swamsiektes gedy in warm, humiede toestande. Laat genoeg ruimte tussen plante sodat lug goed kan sirkuleer. Spuit aangetaste loof met Funginex of Rosecare. Party plante wat van die Mediterreense en winterreënstreke afkomstig is, sal minder geneig wees om te verrot met ’n nie organiese deklaag soos gruis of klippies.

Hael

In streke wat gereeld gebuk gaan onder haelstorms, kan dit hartverskeurend wees om te sien hoe haelstene jou pragtig versorgde tuin verwoes. Maar moenie dadelik ná die storm beskadigde blare afpluk nie; dit sal nuwe groei help beskerm teen sonbrand. Tel beskadigde vrugte op, maar moet dit nie op die komposhoop gooi nie; vrugtevlieë broei graag uit in verrottende vrugte.

Beskadigde bas op vrugtebome moet teen sonbrand en siektes beskerm word deur kommersiële boomlap om die stam te draai. Die hoeveelheid stikstof in hael is minimaal – moet dus nie jou bemestingsprogram aanpas nie.

Dié maand ...

  • Tradisioneel saai tuiniers hul eerste pronkertjies op Valentynsdag. Week die saad oornag en saai dit dan in ’n oop area in grond wat goed met kompos verryk is en genoeg son kry.
  • In jou kombuistuin kan jy groente wat klaar gedra het, uithaal en die grond verfris met ’n ruim hoeveelheid kompos. Plant beet, broccoli, wortels, seldery, eiervrug, kropslaai (kies hittebestande variëteite), soetrissie, spinasie en spinasiebeet. In koue tuine kan jy jou eerste lot ertjies saai, en jou laaste lot boontjies. Verleng die oestyd van kool en blomkool deur kultivars te kweek wat op verskillende tye plukgereed is.
  • Verdeel oorgroeide baardirisse en plant dit oor in verrykte grond op ’n sonnige plek; maak seker die bopunt van die risoom steek net-net bo die grond uit.
  • Snoei onnet groei terug op abelias, Kaapse kanferfoelie (Tecoma capensis) en Plumbago.
  • Identifiseer en vereenvoudig dié dele in jou tuin wat baie onderhoud vra. Behou jou gunstelingplante en raak ontslae van ander wat waardevolle plek in beslag neem of hul area oorgroei het. Plant meer van een soort pleks van ’n groot verskeidenheid en kies lae onderhoudplante soos agapante, daglelies en wilde-irisse.
  • Moenie rondom die wortelarea van fynbosplante grawe nie; hulle hou glad nie daarvan dat hul wortels versteur word nie. Strooi ’n deklaag (met oop ruimte rondom die hoofstam) om onkruid te help voorkom.
  • Kyk uit vir rooispinmyt op die onderkant van fuchsias en krismisrose se blare. Beheer dit met Efekto Redspidercide, wat nie giftig is vir bye en gawe insekte nie.

Nuut by die kwekery

Angelonia angustifolia ‘Archangel Cherry Red’ is ’n hittebestande plant perfek vir warm kolle in ’n tuin, beddings in volson of dele wat strawwe namiddagson kry. Die plant kan ook hoë humiditeit hanteer. Elke plant dra ’n oorvloed blomstele met ritse kersierooi blommetjies. Dit groei kompak (25 cm hoog en wyd) en is geskik vir die middel of voorkant van ’n bedding. Twee of drie plante maak ook ’n mooi vertoning in ’n groot houer. Wanneer dit eers gevestig is, sal dit met min water klaarkom.