Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Jou tuin in Februarie

Deur Kay Montgomery

Liefdesnessies

’n Boom speel ’n belangrike rol in ’n voëltuin vir nes bou – hetsy in ’n mik of in ’n holte in die stam.

Solank dit nie mense of eiendom in gevaar stel nie, is dooie bome of dooie takke ideale nesmaakplekke. Andersins kan sisalnesmaakstompe of -bokse hoog tussen die takke gesit word. Posisioneer die bokse só dat die ingang teen reën beskut is.

’n Ruigte van struike in ’n afgeleë deel van die tuin dien as beskerming teen roofdiere en ongure weer, en is ook nesmaakplek. Vlam-van-die-vlakte (Bauhinia galpinii ), blouklokkiesbos (Mackaya bella) en syselbos (Plumbago) bied skuiling vir sku voëls soos vleiloeries en lysters. Grasse, palms, blare en takkies verskaf die ideale materiaal om neste mee te bou.

’n Tuin met verskillende lae is ideaal vir voëls: groepe struike en meerjarige plante bied skuiling, terwyl bome en ornamentele grasse nesmaak-materiaal verskaf.

Heeltyd mooi

As jou vroegsomer-tuin begin kwyn, is daar plante wat jou blomtyd sal verleng.

’n Klein maar treffende, hittebestande boom vir jou somertuin is prag-van-Indië (Lagerstroemia indica). Die kultivar ‘Black Diamond’ het swart loof en pragtige, geplooide blare. Plant dit as ’n fokuspunt in ’n klein tuin, langs ’n inrit of in ’n groot houer in ’n sonnige kol.

Laatsomer-tuine word gekenmerk deur ’n oorvloed inheemse struike. Die gekrulde blomme aan die stele van wildedagga (Leonotis leonurus) is gewoonlik oranje, maar daar is ook variasies in room en appelkoos skakerings.

Die nektarryke Kaapse kanferfoelie (Tecomaria capensis) kan as ’n skerm, hoë struik of lae heining gekweek word. Kultivars in skakerings van suurlemoen, goud, salm, oranje en rooi is geneig om kleiner te wees.

Die appelkoos blomme van die suikerbekkiebos (Metarungia longistrobus) is ’n groot gunsteling onder dié voëls, vandaar die volksnaam. Dit verkies halfskaduwee en kan ook met sukses in potte geplant word.

In randakkers gevul met meerjariges kan jy kleurryke lede van die madeliefie-familie – kombersblom (Gaillardia), pienk en blospienk skakerings van Echinacea en geel-en-swart Rudbeckia – kombineer met grasagtige plante om die voorkoms van ’n grasveldtuin te skep.

Baie somer-staatmakers, soos kannas en dahlias, sal aanhou blom as jy gereeld dooie blomkoppe afbreek, natmaak en voed. Daglelie-variëteite wat laat blom, sal jou beloon in groepe van dieselfde kleur of gemeng in ’n bont kleurspel.

Hanekamme
Impatiënts
Angeliere
Ysterkruid

Jaarplant-saailinge wat nou geplant word, sal tot diep in die herfs blom. Vir skadukolle kan jy impatiëns, coleus en beddingbegonias probeer, en plant hanekamme (Celosia), angeliere (Dianthus) en ysterkruid (Verbena) in sonkolle.

Wenk van die maand

Strooi dik deklae sodat dit jou plante teen Februarie se kwaai hitte kan help beskerm en om water in die grond te behou.

Take vir die maand

  • Saai winterblommende jaarplante soos pronkertjies, gousblomme, lupiene, vilette, Yslandse papawers, gesiggies, viooltjies en bokbaaivygies van middel Februarie af.
  • Plant nou winterblommende bolle soos maartlelies (Amaryllis belladonna), Lachenalia, sanduie (Veltheimia bracteata) en swaardlelies.
  • Jy kan dié maand beet, wortels, blomkool, preie, uie en kropslaai saai.
  • Sny grasperke gereeld en voed met ’n stadig vrystellende kunsmis; maak dadelik agterna nat.
  • Maak kamelias en asaleas gereeld nat om te keer dat dit botsels afgooi.
  • Voed plante in houers elke twee weke met ’n vloeibare bemesting.
  • Ná ’n haelstorm moet jy beskadigde loof aan die plante los sodat dit die nuwe groei kan help beskerm teen sonbrand.

Nuut by die kwekery!

Vygies is ware tawwe tienies in die tuin met hul helderkleurige, madeliefie-agtige blomme wat enige plek sal groei. Twee nuwe byvoegings tot die ‘Lido’-reeks is ’n oranje en geel vygie, elkeen met ’n helderwit oog.

Die klein, vetplantagtige blare behou water, wat dit bestand maak teen droogte, hitte en humiditeit. Al wat die plant vra, is goeie lig, volson tot gedeeltelike skadu en goed gedreineerde grond. Jy moet dit aanvanklik ’n bietjie vertroetel om dit gevestig te kry, maar daarna sal dit op sy eie regkom.

Dis perfek vir warm beddings langs ’n inrit, op die sypaadjie, in hangmandjies en houers en daardie warm, droë kolle in die tuin waar die tuinslang nie lekker kan bykom nie.

KONTAK ballstraathof.co.za