Foto’s: Francois Oberholster en verskaf

Jou tuin in Januarie

Deur Kay Montgomery

Pentas

Buitentoe!

Die vooruitsig vir tuinmaak in 2019 lyk goed, en vanjaar val die fokus op sterker bande met die natuur. Weens werk- en ander verpligtinge en die toenemende rol wat elektronika deesdae in ons lewe speel, is ons al hoe minder buite.

“Stadsbewoners het al hoe minder kontak met die natuur; daar is ’n skeiding tussen ons en die omgewing,” sê Angelique Kritzinger, ’n dosent by die departement plant- en grondwetenskap aan die Universiteit van Pretoria. Maak dit daarom jou doel in 2019 om meer tyd buite deur te bring – en jou tuin is die beste beginpunt!

Lê byvoorbeeld ’n ekovriendelike tuin aan waar goeie insekte, voëls en vlinders welkom voel. Plant by-vriendelike blomme in randakkers, bou mure van stompe pleks van stene, begin ’n komposhoop, timmer ’n “insekhotel” – en wat van ’n dammetjie vir paddas en naaldekokers?

Waterbewuste tuiniers sal steeds fokus op plante met lae waterbehoeftes; installeer reënwatertenks by afvoerpype en lê jou tuin so uit dat reënwater ná ’n storm nie onnodig vinnig wegloop nie, maar stadiger vloei sodat dit by die grond kan insypel.

Kweek by-vriendelike plante soos papawers of bou ’n dammetjie om dierelewe na jou tuin te lok.

Goeie leesstof

In sy boek The Moth Snowstorm praat die omgewingskrywer Michael McCarthy van die “uitdunning van die insekwêreld” en die dringende behoefte dat ons met die natuur saamwerk om die omgewing te beskerm en te red – want dit sal uiteindelik óns redding wees. Om dit reg te kry moet ons nie net blomme vir bye plant nie, maar ook struike soos Buddleja, Pentas en Freylinia, asook bome soos die inheemse akasia (Vachellia), witolyf (Buddleja saligna), witolienhout (Halleria lucida) en vlam-van-die-vlakte (Bauhinia galpinii) vir alle voordelige insekte.

Vachellia

Groen liefde

Die Griekse filosoof Aristoteles het die eerste keer verwys na “biofilie” – ’n verwysing na “’n liefde vir die lewe of lewende stelsels”. Daarna het die psigoanalis Eric Fromm dit in 1973 gebruik om te verwys na “’n liefde vir alles wat lewe”.

Die begrip is steeds relevant, en binne die konteks van ontwerp verwys dit na die neiging om stede en stedelike landskappe nader aan die natuur te bring – meer bome skep meer skadu en verbeter die luggehalte; meer groen ruimtes in die vorm van parke (groot of klein) bevoordeel inwoners; en vertikale en daktuine verkoel geboue.

Johannesburg is een van 45 stede wêreldwyd wat by die Wêreldhulpbroninstituut se Cities4Forests-inisiatief aangesluit het met die doel om dié stedelike woud te bewaar en herstel. Wêreldwyd hou infestasies van die boorkewer uit Asië ’n groot bedreiging in vir woude, ook die bome van Johannesburg. 

Vertikale tuine is trendy!
Kyk aanlyn by tuis.co.za hoe jy self een kan maak met palette. Daktuine verleen groenigheid aan geboue – soos dié een in Stellenbosch.

Take vir die maand

Jakobregop; Salie; Vinca; Gousblomme

  • Vir ’n skouspel van kleur laat in die somer, plant afrikaners, salie, jakobregops en Vinca.
  • Gee struike en rankers ’n ligte somersnoei as hulle te groot geraak het vir hul ruimte.
  • Waar bome keer dat sonlig plante op die grond bereik, kan jy een of twee van die laer takke verwyder; doen dit op ’n sonnige dag sodat jy weet presies watter takke om af te saag – en pasop vir te veel wegsnoei!
  • Kamelias moenie nou teruggesnoei word nie omdat hulle besig is om blomknoppe te vorm. Dit geld ook vir lenteblommende struike soos asaleas en rododendrons.
  • As jou omgewing goeie reën gekry het, het die kunsmis wat jy vroeg in die seisoen ingewerk het waarskynlik weggespoel. Voed jou plante weer om hulle gesond en produktief te hou.
  • Potplante in die huis het meer water en kos in die somer nodig. Skuif potte weg van direkte sonlig sodat die loof nie brand nie.
  • Kyk uit vir ’n roomkleurige ruspe met swart kolle in die knoppe van agapante; spuit met Margaret Roberts Biological Caterpillar Insecticide. 

Tuinkopies

Sonkrag

Die Irrigatia Solar Automatic Watering System werk met sonkrag, en pas jou tuin se natmaak-skedule aan volgens die heersende weersomstandighede. Hoe meer son jou tuin kry, hoe meer water verskaf die stelsel.

Jy koppel die stelsel aan jou reënwatertenk, en danksy die sonkragpaneel geskied benatting deur middel van beheerde drupbesproeiing. Geen tydtoestel is nodig nie.

Die Irrigatia-stelsel is maklik om te installeer en is ideaal vir klein tot middelslag-tuine en kan ook vir potte, verhewe beddings en hangmandjies tot 5 m bo die grond gebruik word. Dis nie geskik vir koppeling aan munisipale watertoevoer nie. Besoek irrigatia.co.za vir nog inligting.

Werk boontoe!

Aeroponika is die proses waarin plante in ’n lug- of newelsproei-omgewing gekweek word, sonder grond. Impilo Projects se torings, die eerste van hul soort in Suid-Afrika, kan gebruik word vir groente, kruie, blomme of medisinale plante. Dis in verskillende groottes te kry en kom met ’n ingeboude besproeiingstelsel. Kry meer inligting by impiloprojects.com.

Nuut by die kwekery!

SunPatiens ‘Compact White’ is ’n suiwer wit impatiëns-variëteit; dis nie net vir ’n tuin met ’n wit kleurskema nie, maar sal enige blombedding ophelder. Dit groei in gedeeltelike skadu, wat dit ’n nuttige plant maak vir kolle in die tuin wat ewe veel son as skadu kry. Dit het ’n netjiese, kompakte groeiwyse (60 cm hoog en breed), blom oorvloedig en is bestand teen donsskimmel. Die plant kan nat én droë toestande trotseer, maar in warm weer moet dit gereeld water kry indien dit in volson staan. Dit werk ook goed in ’n houer. KONTAK ballstraathof.co.za

Nuwe roos!

‘St Dunstan’s Centenary’ is ’n hibried-teeroos wat die wêreldbekende ‘Peace’-roos onder sy voorsate kan tel. Dié roos is so genoem om die eeufeesviering van St Dunstan’s College in Benoni te gedenk. Omdat dit ’n geharde Eco-Chic-roos is, is dit siektebestand en daarom minder vatbaar vir swartvlek en donsskimmel. Die struik groei regop, tot 2 m hoog, en dra gepunte geel knoppe wat stadig ontvou in vol, groot blomme met ’n pienk skynsel. Die oop blomme hou goed aan die struik en in ’n vaas.

Wenk van die maand Waterslim Gazania ‘Sunbathers’ is ideaal vir seetuine omdat dit maklik in sanderige grond groei; die helder blomme lok ook bye en skoenlappers.