Hou jou tuin in Januarie só kleurvol: strooi deklae om vog te behou in droogtegebiede, gee plantkos en verwyder dooie blomme.

tuintake-vir-jan17

Skadu in die tuin

Moenie skadu sien as ’n probleem nie; beskou dit eerder as beskerming teen die son en ’n geleentheid om skaduliewende plante te kweek.

Clivias helder skadukolle op, nie net in die lente wanneer C. miniata blom nie, maar ook in die herfs met C. gardenii en sy hangende blomme. Plectranthus groei in gefiltreerde of volskaduwee, en heelparty blom in die herfs. Sommige groei as struike met wit, pienk of pers blomme (P. fruticosis, P. ecklonii); ander is nuttige grondbedekkers vir klam grond (P. ciliatus, P. oertendahlii).

Nog uitstekende grondbedekkers in die skadu is die waterwys Crassula multicava met sy vetplantagtige blare en klein wit-en pienk blomme, hen-en-kuikens (Chlorophytum comosum) met gestreepte of groen blare en Liriope met sy klossies grasagtige, soms gestreepte loof en ligpers of wit blomme.

Plante vir subtropiese skadutuine sluit Anthurium en Spathiphyllum, varings, boomvarings, Coleus en bromelia in.

Kort en kragtig

Die mooiste plante is nie altyd die grootste nie, maar hul klein statuur dra net by tot hul sjarme. Tooi randakkers op met tiemie, Alyssum, Echeveria secunda met sy grys-groen roosvormige blomme en Geranium incanum met fyngesnyde blare en ligpers blomme.

Miniatuurrose soos ‘Antique Gold’, ‘Chasin’ Rainbows’ en ‘Green Ice’ groei kompak met trosse klein knoppies wat pragtig blom. Maar onthou, nie alle miniatuurrose het ’n kompakte groeiwyse nie.

Watter blou vir jou?

Blou blomme in die somertuin skep ’n gevoel van koelte en het ’n kalmerende invloed op ’n warm dag. Agapante in skakerings van blou is gunstelinge vir somertuine, so ook krismisrose.

Plant persblou Lavandula pinnata ‘Sidonie’ en Salvia nemorosa ‘May Night’, ‘Victoria Blue’ of ‘Black and Blue’ in groepe as fokuspunte in ’n randakker. Ander blomme in verskeie skakerings van blou sluit komkommerkruid, Campanula, Felicia, Hebe, lobelia en Nigella in.

Nuwejaarsvoornemens

• Help jou tuin deur droogte-tye deur ’n organiese deklaag van growwe kompos, basstukkies, gekerfde bas, dennenaalde, kakaodoppe of grondboontjiedoppe in beddings te strooi – dit sal mettertyd afbreek en die grond voed.

• Gebruik waterwys plante wat natuurlik in jou streek voorkom of wat goed aangepas is by plaaslike toestande.

• Lok voëls na jou tuin deur vir hulle kos, water, skuiling teen roofdiere en ’n veilige plek te bied waar hulle hul kleintjies kan grootmaak.

• Wees kreatief met plante in houers: Kombineer blomme, kruie en groente.

• Skep “vertrekke” in die tuin vir eet en ontspan; gebruik traliewerk

Tuinwenke vir Januarie

• Keer dat blaarslaai saadskiet deur dit onder tydelike skadunet te kweek. Plant ’n paar saailinge op ’n slag, en oes wanneer die blare sowat 6 cm lank is. Hou die grond klam.

• Party herfsblommende struike, insluitend Camellia sasanqua, vorm alreeds knoppe. Gee gereeld water en strooi ’n deklaag sodat dit aanhou om nuwe knoppe te ontwikkel.

• Gee rose ’n ligte somersnoei om ’n goeie vertoning in die herfs aan te moedig, maar los genoeg blare wat die wortels kan voed en keer dat die stam sonbrand opdoen.

• ’n Roostuin kan oninteressant lyk tussen blom-tye. Plant aromatiese kruie soos salie, origanum, laventel en Dianthus rondom die stam.

• Kruie kan in die somer vinnig groei. Snoei terug vir ’n meer kompakte vorm.