Skep ’n toevlug in jou tuin

Ontspanningsruimtes in die tuin kan baie vorms aanneem; dit kan enigiets wees van ’n tradisionele gazebo of prieel, ’n trendy buitekroeg of ’n boma met ’n vuurput tot ’n “man-cave” of ’n “she-shed”.

In die gejaagde tegnologiese lewe van 2018 moet jy ’n plek in jou tuin hê waar jy jou van die res van die wêreld kan afsluit, kan ontspan en jou stresvlakke verlaag. Rig so ’n buite-area – hetsy vir meditasie of joga – in die stilste deel van die tuin in. Kies ’n beskutte hoekie met ’n boom wat gefiltreerde skadu gooi, of waar immergroen struike wat min onderhoud verg dit afskerm van die res van die tuin. Sluit die strelende klanke van water in – dis helend en help die brein fokus op ontspanning. En omring jou met die sagte kleure en geure van gunstelingblomme of kies loof in kalm groen skakerings om die rustige gevoel te versterk.

Foto: Francois Oberholster

Weer wild

Het jy al ooit gehoor van “rewilding”? Dis wanneer tuiniers saam met die natuur werk en hul impak op die omgewing verklein deur net organiese en omgewingsveilige produkte te gebruik, en deur plante te kies wat bestuiwers sal lok. Die proses fokus op die gebruik van natuurlike elemente soos water, hout en groot klippe as glanspunte in die tuin. Maak dit ’n Nuwejaarsvoorneme om jou tuin weer wild te kry!

Water Kies ’n ekovriendelike swembad wat ’n swemdeel en ’n vlakker filtrasiedeel het waar plante groei. Dit het gewoonlik gruis pleks van grond, omdat grond te ryk aan voedingstowwe is. Dié miniatuur-vleiland tree op as ’n filter en lok voëls, insekte, paddas en naaldekokers wat muskietlarwes eet.

Hout Bome is belangrik in ’n tuin; dit bied skadu en privaatheid, verminder geraas en filtreer besoedelde lug. Voëls vind skuiling in bome en bou hul neste daar; selfs dooie bome of takke is die ideale sitplek en het dikwels gate waarin hulle kan nesmaak (mits sulke bome geen risiko vir mense of geboue inhou nie).

Klippe Moenie klippe verwyder nie; maak dit liewer deel van die landskap om plante te anker en te beklemtoon. Pak ’n muur van plat klippe of droë stompe as skuilplek vir insekte.

Doendinge dié maand ...

  • Verryk die grond met kompos voor jy nuwe jaarplante, meerjariges, struike en bome plant. Plant op die koelste tyd van die dag; maak daarna goed nat met grys- of reënwater en strooi ’n deklaag.
  • As jy in ’n somerreënstreek woon, vang enige reënwater wat op die dak val in tenks op. In areas met ’n droë somer is verstopte geute en dreine ’n brandgevaar; maak skoon en snoei takke naby geboue terug.
  • Waar water skaars is, moet liefs nie bemes nie, want dit lei tot baie sagte, geil groei wat meer water vra.
  • Moenie nou kamelias en lenteblommende struike, soos asaleas en rododendrons, terugsnoei nie – dit vorm al blomknoppe.
  • Beskerm jou hond teen bysteke deur nie plante wat bye lok naby sy slaapplek te plant nie. Honde het ’n koel lêplek vir warm dae nodig. As jy dit nie verskaf nie, gaan hulle self ’n koel plekkie uitsoek – dit kan dalk net in een van jou blombeddings wees!
  • Vee die blare van huispalms af met seepwater. Dit laat die blare asemhaal en help om dopluise te bestry. Spuit op warm, droë dae die loof van varings en ander huisplante met ’n newelspuit nat.
Pentas lanceolata ‘Glitterati’

Nuut by die kwekery

Pentas lanceolata ‘Glitterati’ is ’n nuwe meerjarige Pentas met ’n netjieser groei-wyse en stervormige blomme wat lyk asof hulle skitter. Dit groei 30–55 cm hoog en sprei amper net so wyd uit. Dit blom voortdurend van laat lente tot vroeg in die herfs; moedig nog blomme aan deur die dooie blomknoppe te verwyder. Die plant is bestand teen hitte en humiditeit, groei in volson en vaar die beste as dit gereeld water kry. Die blomme lok skoenlappers, bye en nektarliewende voëls.


’n Groentetuin

As jy sappige, geurige groente wil hê, moet jy die grond waarin dit groei met heelwat kompos verryk. Dit moet ook ses uur sonlig per dag kry en gereeld natgemaak word. Hoë temperature plaas plante onder druk. Strooi ’n deklaag om water in die grond te behou; dit keer ook dat onkruid rondom die plant groei. Maak soggens vroeg of saans laat nat. Tuiniers in rypvrye gebiede kan steeds tamaties, eiervrug en pampoen plant. In koue wintertuine kan tuiniers nog ’n laaste keer boontjies, skorsies, vlapampoentjies en murgpampoentjies plant. Plant ook broccoli, beet, kool, wortels en blomkool