Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Take vir Julie

Deur Kay Montgomery

Helleborus; Coleonema pulchellum

Helde

Helde kom in baie vorms – mense wat veg vir geregtigheid, plante wat die tuin in die skraal wintermaande ophelder, en habitat-helde wat die omgewing beskerm.

Nelson Mandela sou op 18 Julie vanjaar sy 100ste verjaardag gevier het. Hy was ’n ware held vir ons land en is al op verskeie maniere vereer. In die planteryk is daar ’n protea, orgidee, kraanvoëlblom en roos wat sy naam dra. Onlangs is ’n tweede roos – ‘Nelson Mandela’ – bekendgestel om sy 100ste verjaardag te vier.

1. Planthelde

Ons is dankbaar vir planthelde wat die koue trotseer en broodnodige kleur en vorm in ons wintertuine verskaf.

Een van die eerste plante wat in die winter blom, is nieskruid. Helleborus orientalis-kultivars het effens hangende, kelkvormige wit, room, pienk of pruim-kleurige blomme. Plant dit in gedeeltelike skadu in waterhoudende grond.

Ericas, speldekussings, proteas en, natuurlik, aalwyne is die helde in ons wintertuine met hul pragtige blomme wat nektarvreters lok. Coleonema pulchellum, met sy groen of goue naaldvormige loof, dra van die winter tot vroeg in die somer pienk of wit blomme met ’n soet geur.

Die inheemse blinkblaar (Rhamnus prinoides) is rypbestand met blink immergroen loof en klein rooi bessies wat voëls lok. Dié boom kan ook gesnoei word om ’n skerm te vorm.

Konifere beskut gevoeliger plante in koue wintertuine. Hulle is immergroen en kom in verskillende vorms – kolomme, piramides of spreidend, met groen, goue of grys loof. Strooi insekdoderkorrels rondom die stamme teen sipresluise.

Wenk van die maand
Vul oop kolle in beddings met gesiggies, viooltjies en ander jaarplante wat in die lente blom.

Habitat-helde

Jy kan ’n habitat-held in jou tuin wees deur plaaslike plante te kies, weg te bly van chemiese misstowwe en plaagdoders, en indringers uit te haal (sien “Ken jou indringers”).

Skep lae deur hoë bome te plant vir ’n kroondak, plant struike daaronder, en nektar- en stuifmeeldraende blomme wat voëls, skoenlappers, bye en ander insekte as bestuiwers lok. Dié gelaagdheid bied ook skuiling en kos aan voëls, ander klein diere en insekte.

Nog tuinhelde is voordelige insekte soos spinnekoppe, perdebye en hottentotsgotte wat vlieë, ruspes, motte en kewers vreet. Buiten die bekende rooi-en-swart liewenheersbesies is daar ook ander met strepe of kolle en verskillende kleure. Hulle is ’n aanwins vir enige tuin, want hulle vreet sagte insekte soos plantluise en witvlieë.

’n Verkleurmannetjie-vriendelike tuin het groot en klein struike met stele van wisselende diktes vir jong en volwasse verkleurmannetjies; hulle vreet vlieë, motte, skoenlappers en klein sprinkane.

En onthou tog die akkedisse wat ’n verskeidenheid tuinplae vreet, naaldekokers wat smul aan muskiete en vlieënde insekte, en paddas wat klaarspeel met lastige vlieë, slakke en naakslakke.

Dié maand ...

  • Julie is snoeityd vir rose, asook struike wat in die somer en herfs blom. Onthou dat jy struike wat laatwinter of in die lente blom, eers moet los; wag tot hulle klaar geblom het voor jy snoei. As jy onseker is oor wanneer jy kan snoei, vra raad by jou plaaslike tuinsentrum. Dra handskoene en toe skoene as beskerming teen krapmerke, dorings en moontlike infeksie.
  • Beskerm gevoelige plante teen ryp met ’n bedekking wat water en lig deurlaat.
  • Stut plante stewig om windskade in Augustus te voorkom. Nuut gevestigde plante is baie vatbaar vir sterk wind wat nuwe wortels kan loswikkel. Struike en bome met droë takke moet teruggesnoei word om te keer dat hulle weens die wind skeur en afbreek.
  • Potte vol ornamentele boerkool met hul wit, pienk of pers krulblare lyk lieflik in die winter.
  • Snoei varings terug om plek te maak vir nuwe groei; plant net dié oor wat swaarkry of hul pot ontgroei het. Klam potgrond aan voor gebruik.
  • Maak seker jy het genoeg onkruidvrye kompos om beddings op te kikker en holtes in jou grasperk op te vul.

‘Danessa Golden Shades’ en ‘Danessa Blue’

Huisplant van die maand

Primula acaulis ‘Danessa’

Die Engelse sleutelblom (Primula acaulis) is die winter se mooiste huisplant. ‘Danessa’ bly altyd kompak en netjies (14–18 cm hoog en wyd) en dra helder blomme in kleure soos blou, wynrooi, goud en roospienk soos ’n ruiker bo donker-groen blare. Dit vra helder, indirekte lig. Laat die grond effens uitdroog voor jy weer natmaak en voed een keer per maand met ’n vloeibare bemesting.

KONTAK ballstraathof.co.za

Nuut by die kwekery!

Pelargonium ‘Marcada’ is ’n sterk groeiende pelargonium wat ’n oorvloed blomme in skakerings van donkerrooi, pienk en magenta dra. Dié plant kan hitte asook koeler weer hanteer. Dis droogtebestand en moet droër as ander pelargoniums gehou word; laat die grond eers uitdroog voor jy weer natmaak. Pelargonium ‘Marcada’ groei ’n middelslag-pot of -hangmandjie vinnig vol en vaar ook goed in die tuin in ’n sonnige kol of in gedeeltelike skadu. Voed tuinplante een keer per maand en potplante elke twee weke.

KONTAK ballstraathof.co.za

Groen leesstof

Vir diegene wat nie naby die Wes-Kaapse wynland woon nie en dus nie vir ’n dag by Babylonstoren kan gaan inloer nie, is dié koffietafelboek ’n moet (gereelde besoekers sal dit ook geniet!). In The Garden of Babylonstoren (R400, Random House) verskaf die ontwerper Franchesca Watson inligting oor elke aspek van die 3,5 ha-tuin op dié welbekende Franschhoekse wynplaas – van die eiendom se geskiedenis tot die ontwerp en aanlê van die tuin, die mense daaragter en die plante wat daar groei. Dié wonderlike geskenk vir tuinliefhebbers is te koop by die plaaswinkel en voorste boek- winkels, of aanlyn by babylonstoren.co.za.