Mooi vorm

In die winter, wanneer tuine rus en die takke kaal is, sien ’n mens skielik elemente raak wat andersins verbloem sou wees: van harde landskap-elemente soos paadjies en priële, tot plaveisel, growwe gruis en bakstene.

Dis ook die seisoen wanneer ’n mens die skoonheid en vorm van plante kan waardeer. Van die treffendste en veelsydigste waterwys plante wat vorm, kleur en tekstuur aan ’n wintertuin verleen, is aalwyne – spesies sowel as kultivars. Boonop is hul helderkleurige blomme ’n waardevolle bron van nektar vir voëls en bye.

Plant groot aalwyne alleen as fokuspunt of tussen groot klippe of inheemse grasse. ’n Hele ry van net een variëteit is nommerpas vir ’n kontemporêre tuin. Vetplante soos Senecio mandraliscae en Sedum nussbaumerianum maak ’n lieflike tapyt tussen hul voete. Baie van die nuwe kultivars wat vir hul weerstandigheid teen koue gekweek is, is geskik vir klein tuine en potte.

Links na regs: Aloe aristata, Aloe variegata en Aloe mudenensis

Aalwyne kan ook die brandrisiko op jou erf verminder, veral waar dit aan ’n grasveld of plantasie grens. Soos ander vetplante het dit heeljaar ’n hoë voginhoud en gooi dit min droë blare af; gevolglik is dit minder geneig om te brand of brand dit stadiger.

Wenk van die maand
In die koue maande is dit beter om jou tuin soggens vroeg nat te maak; water wat oornag op blare lê, kan vries.

Sjokolade vir al jou sintuie

Sjokolade is ’n gewilde geskenk vir Vadersdag, maar het jy al gedink aan die potensiaal vir sjokolade in jou tuin? Daar is blomme en blare met ’n sjokoladegeur of -kleur, of wat na sjokolade genoem is.

Maak jou tuin nog interessanter deur jou sjokolade-skakerings aan te vul met maroen, mahonie, wynrooi, brons en bruin. Dié kleure skep diepte en skadu’s, twee belangrike elemente in tuinontwerp.

As jy dit in die hande kan kry, is ’n sjokolade-kosmos (Cosmos atrosanguineus) met sy fluweelagtige donker-rooibruin blomme en sjokoladegeur eerste prys. Maar daar is baie ander blomme wat ook gepas is vir so ’n tuin; probeer Heuchera ‘Obsidian’, Aquilegia atrata, swart aronskelke, gesiggies, irisse, daglelies, Rudbeckia ‘Cherry Brandy’ of die ‘ShockO’Lat’-sonneblom. Vir ’n titsel sjokolade op die stoep is die swart Anthurium perfek!

As jy graag plante met sjokoladebruin loof wil gebruik, kyk uit vir vetplante soos Aeonium ‘Zwartkop’ en Echeveria ‘Black Prince’; albei kontrasteer pragtig met ornamentele grasse soos die rooipers Pennisetum ‘Vertigo’ en die kompakte Carex ‘Bronze’.

Vir ’n boom met sjokoladebruin loof, oorweeg trots-van-Indië-kultivars (Lagerstroemia) uit die nuwe Black Diamond-reeks. Dié klein bome (3,5 m hoog x 2,5 m breed) is droogtebestand sodra hulle eers gevestig is, en van vroeg in die somer tot in die herfs dra hulle blomme in skakerings van wit, pienk, pers en rooi.

Onder die plante met sjokoladegeurige loof is daar ’n pelargonium met ’n sjokoladement-aroma en ’n ment met ’n sjokoladepeperment-geur – laasgenoemde is heerlik in nageregte, roomys en drankies.

Het jy geweet?
Afrika se eerste sjokolade-tuin is in Augustus 2017 op De Charmoy-landgoed noord van Durban aangelê. Dis die handewerk van die tuinontwerper Lindsay Gray en bestaan uit ’n versameling nie-indringende plante wat noukeurig uitgesoek is met spesiale oorweging van hul behoeftes en die plaaslike klimaat – alles met ’n sjokolade-tema, natuurlik! Besoek decharmoy.co.za of schoolofgardendesign.com.

Nuut by die kwekery

Petunia ‘Baby Doll’ dra pienk blomme met wit kolle (amper soos polkakolle) wat ’n pragtige fokuspunt uitmaak op die stoep, op balkonne of in die tuin. Dis ideaal vir droë winters of somers, bestand teen meeldou, jy hoef nie dooie blomkoppe af te knyp nie en vanweë sy spreidende groeiwyse sal dit vinnig ’n pot, hangmandjie of plekkie in die tuin toegroei. Voed een keer per maand en moenie te veel natmaak nie. Plant in volson tot halfskadu in grond wat goed dreineer.
KONTAK ballstraathof.co.za

Huisplant van die maand

Cyclamen ‘Smartiz’ Cyclamen ‘Smartiz’, met sy fyn miniatuur-blommetjies, is perfek om ’n oninteressante hoekie in jou sit-, slaap- of badkamer op te vrolik. Meng twee of drie kleure – ook spierwit – in ’n hangmandjie en hang dit waar die plante in helder indirekte lig sal wees (nie in die son nie; dit sal die blare brand). Dit sal jou amper die hele winter lank met ’n skouspel beloon! Maak net nat wanneer die grond droog voel.
KONTAK ballstraathof.co.za