Groente in die voortuin

Die tuin-tot-tafel-benadering is al jare ’n gier vir kranige tuiniers – dit moedig mense aan om hul eie kos te kweek met plante wat ewe mooi as smaaklik en gesond is. Groente is boonop nie meer net bykos nie maar hoofkos, en restaurante probeer vermorsing beperk deur dele van groente wat voorheen weggegooi is, op nuwe maniere voor te sit. So word broccoli-stele in skaafsels gesny en in slaaie bedien, rou murgpampoentjielinte word ’n slaai en blomkoolrys is ’n gewilde laekoolhidraat-opsie wanneer jy stysel wil beperk.

Deesdae is daar ’n nuwe gonswoord: “veggimentals”. Dis ’n samesmelting van die tradisionele met die informele: Groente, kruie en blomme word in blokke, trosse, driehoeke en vertikaal gekweek, wat ook beter bestuiwing tot gevolg het. Kontemporêre groentetuine is stylvol, kleurvol, maar ook elegant!

Kleure, teksture en vorms is sentraal tot die ontwerp, nie net in die plante nie, maar ook in die harde elemente.

Hekke, potte, stutte en obeliske word in treffende kleure geverf en paadjies word afgebaken met materiaal soos verweerde bakstene wat teen ’n hoek gelê word, tou of terracottateëls. 

Plant dié maand ’n wintersop-tuin – kies saailinge vir broccoli, kool, blomkool,seldery, spinasie en spinasiebeet en plant dit tussen jou ornamentele plante! 

Wenk van die maand

Die vroeë herfs is ’n goeie tyd om skoon te maak, bome en struike te plant en beddings voor te berei vir bolle en jaarplante wat in die lente blom. 

Aan die gang 

Dié tyd van die jaar is die grond nog warm, wat nuwe of oorgeplante struike en bome help om sterk wortelstelsels te vestig; teen die lente sal hulle dan stewige nuwe groei hê, bestand teen die wind en hitte.

• Verdeel groot, oorgroeide agapante. As dit dig inmekaargegroei is, trek die polle uitmekaar met twee vurke wat rug teen rug daarin gesteek is, of sny dit netjies deur met ’n skerp mes. Plant oor in vars grond op ’n sonnige plek, maar hou die polle redelik groot om te verseker dit blom volgende somer.

• Verdeel oorgroeide polle irisse en plant van die jong, buitenste groei uit in goed gedreineerde grond wat met kompos verryk is. Plant baardirisse só dat die bokante van die risome net-net aan die son blootgestel is.

• Bedek die risome van Japannese irisse met grond. 

Fynbos-feite

Plant proteas, speldekussings, tolbosse en ander lede van die fynbos-familie in ’n oop, sonnige posisie waar daar genoeg lugsirkulasie is. Die grond moenie verryk word nie en dit moet baie goed dreineer – ’n skuinste is ideaal. Maak die plante goed nat nadat jy geplant het, totdat hulle gevestig is. Fynbos hou niks van wortelversteuring nie; vermy ’n onnodige onkruid-uittrekkery deur ’n deklaag van kompos rondom die plant te strooi – net nie tot teen die hoofstam nie. 

Doendinge dié maand ... 

• Maart en April is die beste tyd om pronkertjies te plant. Plant hulle in ’n sonnige posisie in grond wat minstens tot graafdiepte omgespit en dan met kompos en ’n organiese bemesting verryk is.

• Koop nou lenteblommende bolle sodat jy die beste gehalte en keuse het, maar wag tot April wanneer die grond koeler is voor jy plant.

• Kamelias het gereeld water nodig om te keer dat hulle botsels afgooi. Strooi ’n dik deklaag van kompos of dennenaalde rondom die wortelarea, maar nie tot teen die stam nie. Die grasieuse groeiwyse van die herfsblommende Camellia sasanquas maak hulle geskik as skerm- of aksentplante.

• Haal bolle soos gladiolusse en dahlias uit wanneer hulle klaar geblom het en bêre op ’n koel plek. As jy die bolle in die grond los, merk die posisie sodat jy hulle nie per ongeluk raakspit in hul dormante fase nie.

• Daar is nou herfsblommende wit, pienk, mauve en pers Plectranthus- spesies te kry wat geskik is vir gedeeltelike skadu en ligte ryp, asook die mauve seeroog- blommetjie (Hypoestes aristata), wat meer son kan hanteer.

• Kombineer Namakwalandse madeliefies met blousporrie (Heliophila coronopifolia) vir ’n mooi vertoning vroeg in die lente. Saai in ’n dun laag in volson in gewone tuingrond. 

Nuut by die kwekery

Bacopa MegaCopa is ’n hibried van inheemse Sutera. Dit dra wit, pienk of blou blomme op ’n kompakte plant wat mooi sal lyk in ’n hangmandjie of planthouer. Die MegaCopa-reeks vra volson in die winter en as jy dit in die lente op ’n plek met gedeeltelike skadu sit, sal dit tot in die somer blom. Dis heelwat meer hittebestand as die oorspronklike plant en die blomme is twee keer so groot. Omdat dit ’n geronde groeiwyse het, val dit nie oop in die middel nie en bly die plant van bo tot onder oortrek van die blomme. Hou die grond klam en voed een keer per maand met ’n vloeibare bemesting.