Seisoen van oorvloed

Een van die herfs se grootste gawes is blare wat val, ’n wonderlike hulpbron wat tuiniers op verskillende maniere kan inspan:

  • Strooi dit as deklaag rondom struike en bome. Die blare sal mettertyd ontbind en die grond verryk. Dit help ook om warmte en water in die grond te behou en keer dat onkruid daar groei. Maak seker jy strooi nie die blare tot teen die stamme nie – die plant kan verrot en vrek.
  • Vir kompos. Voeg om die beurt bruin (droë) en groen (nat) materiaal in die verhouding twee derdes bruin tot een derde groen by jou komposhoop.
  • Maak blaarmolm. Dis ’n stadige proses dié – dit kan ’n jaar of langer neem, maar is beslis die moeite werd. Hark blare bymekaar en maak dit nat sodat dit vinniger verrot. Maak gate in ’n swart plastieksak met ’n vurk, gooi die blare daarin en knoop die sak lossies toe. Plaas dit in ’n onopsigtelike hoekie in die tuin totdat dit swart, krummelrig en welriekend is en gebruik dit dan as deklaag of kompos wanneer jy saai.

Kamelias in die herfs

Camellia sasanqua blom van vroegherfs en hou aan tot in die winter. Die blare is ’n donker blinkgroen en vorm ’n pragtige agtergrond vir die fyn, satynagtige wit, pienk of rooi blomme omring deur goudkleurige meeldrade.

Die struik het ’n aantreklike groeiwyse en daar is verskeie variëteite, wat dit geskik maak vir enige plek in die tuin – plant hooggroeiendes teen ’n grensmuur, kies dit as eksemplaar-struike, as afronding weerskante van ingange en trappe, en as skermplant. In ’n meenthuistuin kan jy die loof snoei en in toom hou, en daar is kompakte variëteite om in houers te plant.

Wenk van die maand
Knyp die eerste knoppies van papawers en gesiggies af sodat die plant al sy energie op gesonde groei kan fokus.

Borduur met kleur

Plant die bolle van diepblou druifhiasinte (Muscari), pers en rooi anemone, laventelpers kammetjies (Freesia), fluweeltjies en violetkleurige kalossies (Ixia) vir ’n kleurvolle tapisserie in jou tuin.

Saai ’n bedding oranje Namakwalandse madeliefies en sierlike blousporries (Heliophila coronopifolia) vir ’n aantreklike inheemse vertoning in die lente. Versprei die saad dun genoeg dat elke plant sonder mededinging kan groei. Dit vra volson en gewone tuingrond.

Sagte skakerings van ametis en opaal skakel lieflik in by ’n blomlandskap. Kombineer heuningblommetjies en gesiggies of mauve somerviooltjies en kattekruid met die silwergrys loof van Santolina en teebos (Stachys). Vir ekstra hoogte kan jy die vingerhoedjie-variëteit ‘Foxy’, pienk en mauve leeubekkies, koringblommetjies, ridderspore en hier en daar ’n pers heliotroop kies.

Dié maand ...

  • Laventel is altyd ’n gewilde Moedersdaggeskenk. Kies die dwergvariëteite ‘Mini Blue’, ‘Hidcote’ of ‘Blueberry Ruffles’ vir beddingrande, ‘Ellagance’ vir potte en handmandjies, of die regop groeiende ‘Margaret Roberts’ en ‘Lavender Lace’ teen ’n grens.
  • Maak in die somerreënstreek asaleas, kamelias, lenteblommende struike en struike uit die winterreën-streek twee keer per week nat.
  • Snoei en maak skoon onder heiningplante. Gebruik organiese Ferramol-korrels waar slakke moontlik wil oorwinter.
  • Hou aan om rankende pronkertjies te stut; verwyder enige sylote en rankies. Kyk uit vir plantluise op nuwe groei en spuit met seepwater of ’n organiese middel.
  • Gebruik ’n ligte rypdoek (tuinvlies) pleks van swaar rypbedekking wat jy soggens moet afhaal en saans moet terugsit. Dit laat lig, lug en water deur en kan dus op jou plante bly tot die rypgevaar verby is.
  • Hou aan om reg deur die winter plantluisdoder-korrels rondom die basis van konifere te strooi as beskerming teen die sipresluis; maak agterna goed nat. Spuit klein konifere met Efekto Aphicide.
  • Moenie struike te veel terugsnoei in koue tuine nie – sagte nuwe groei is baie gevoelig vir koue wind en ryp. Snoei heinings nou ’n laaste keer in gebiede waar ryp voorkom.
  • Voed nuut geplante groente met vloeibare organiese bemesting teen halfsterkte aangemaak.
  • Bemes lenteblommende jaarplante om hulle deur die winter te help.

Nuwe roos!

Roos vir Madiba

Die ‘Nelson Mandela’-roos is deur die Nelson Mandela-stigting bekendgestel ter viering van wat Madiba se 100ste lewensjaar sou wees. Die oranje-vermiljoen blom is ’n semi-dubbele hibried-teeroos met ’n lieflike geur. Onder ideale toestande sal dit meer as 1 m hoog groei, en dis van nature siektebestand. Die roos is maklik om te kweek en te onderhou, en sal gedy in ’n sonnige kol in die tuin óf in ’n groot pot. Die opbrengs van die verkope gaan aan die Nelson Mandela-stigting. Sien meer by ludwigsroses.co.za