Die gebruik van metgeselplante – en wat werk en wat nie – is oor jare van geslag na geslag deur tuiniers oorgedra. Baie daarvan berus op oorlewering, en hoe tuiniers besef het dat sommige plante saam floreer en ander nie. Gou het tuinmakers die wêreld oor besef sommige plante het sekere eienskappe wat ander kan beïnvloed.

So het die Romeinse landboukundige Marcus Varro (116–29 v.C.) opgemerk dat niks onder ’n okkerneutboom wou groei nie. Nou is daar ontdek dat die wortels van dié boom ’n natuurlike onkruiddoder vervaardig wat giftig is vir ander plante.

Die wortels van afrikaners (Tagetes) bevat ’n middel wat giftig is vir sekere rondewurms in die grond, en dit word dikwels in ’n bedding geplant voordat gewasse daar gekweek word, of tussen rye groente.

Afrikaner

Die perfekte pasmaat

Van die mooiste hoekies in ’n tuin is dikwels te danke aan die regte metgeselplante – so skep jy ’n aantreklike geheel. Om dit reg te kry moet jy elke plant se behoeftes ken. Klimaat en hoogte bo seespieël speel ’n belangrike rol; so ook son en skaduwee. Dit help nie jy kweek een plant wat suur grond vra langs een wat leemgrond nodig het nie; of een wat goed gedreineerde grond vra langs een wat klam grond soek nie. Dié faktore sal jou plantkeuse bepaal, nog voor jy na kleur, tekstuur of vorm kyk.

Daar is min plante wat so veelsydig in ’n landskap is soos die agapant. Dié staatmaker is te kry in wisselende blomhoogtes en in wit, skakerings van blou, pers tot amper swart. Selfs wanneer dit nie blom nie, sal die lintvormige loof – hetsy groen of bont – en saadkoppe struktuur aan enige bedding verleen.

Kniphofia | Crocosmia

Daar is heelwat plante wat perfek by die agapant in sy verskillende kleure pas – dink donkerblou agapante en appelkoos vuurpyle (Kniphofia), vlootblou agapante en die kraanvoëlblom, mediumbloues en oranjerooi Crocosmia en poeierbloues saam met geelEuryops-madeliefies.

In die lente en somer sal die blou blomtrosse van Plumbago mooi lyk saam met die agapant se donkerder blou blomme. Dié duet kan ’n suksesvolle trio word as die kleur grondlangs ook saamspeel in die vorm van Felicia se madeliefie-agtige blomme.

Al drie gedy in sonskyn en goed gedreineerde grond. Die agapant, wat ’n sterk wortelstelsel het, sal baat by ’n ekstra hand vol kompos.

PLANTMAATS IN DIE GROENTETUIN

Metgeselplante wat gesonde groei aanmoedig en plae verdryf, sluit in beet en grasuie; basilie entamatie; blaarslaai en pietersielie; en die koolfamilie saam met uie en preie.

Boontjies vaar weer goed naby bonekruid. En plant salie en tiemie by wortels, aarbeie en tamaties.

Rosa persica ‘Cream Babylon Eyes’ | Rosa persica ‘Coral Babylon Eyes’ | Rosa persica ‘Queen Babylon Eyes’

Klassieke kombinasies

Die Rosa persica met sy vyf blomblare aard goed sy aan sy met die mooi speldekussing- blommetjies van die koringblom en sy hibriede, asook Delphiniums van Europa, papawers van Ysland, dahlias van Mexiko en lelies van Palestina.

Angeliere en nemesias werk goed saam met die klokkiesblom uit die Pireneë, pronkertjies van Sisilië, Dianthus van Rusland, jakobregops van die Asteke en Alstroemeria van Peru. Probeer petunias van Brasilië met ons mauve Tulbaghia, fyn Brachycomes van Australië, en die pienk vingerhoedjie (Rehmannia) wat naby die Ming-grafte in die Verbode Stad van Beijing aangetref word.

In skaduryke dele van die tuin kan ons inheemse varings, oranje Clivia en indigo Streptocarpus gebruik saam met Bergenias van Siberië, akeleie van Brittanje, Dicentra van Kanada, Astilbes van China en rododendrons van die Himalajas.

Kleur vir die somer

Krismisrose is die sterre in ’n somertuin met langdurige kleur in pienk, blou, wit of laventel. Plant dit in ’n skadukol in ryk grond, gee gereeld water en maak klam met ’n newelspuit op warm dae. Die kompakte groeiwyse van nuwer kultivars maak dit ideaal vir klein tuine, die voorkant van skaduryke randakkers of houers op ’n stoep.

Beddingsalies in room, salm, pienk, rooi, wynrooi, laventel en pers is veral waardevol in die somer omdat hulle so hitteverdraagsaam is.

Nuut by die kwekery

Portulaca ‘Nano’ is ’n laag groeiende grondbedekker met ’n geronde groeiwyse wat altyd met blomme oortrek is. Al is dit nie inheems nie, is dit uiters droogte- en hittebestand, en dit sal aanhou blom selfs wanneer dit nie baie reën nie. Die plant vaar die beste in volson en sal in gewone tuingrond groei. Die blomme maak vroegoggend oop en vorm ’n kleurspel tot saans laat. Dis ’n somer- jaarplant wat maklik is om te versorg en in rypvrye gebiede selfs meerjarig is. Gebruik dit in hangmandjies, vensterbakke en gemengde houers. Die kleure in die reeks is fuchsia, helderpienk, oranje en geel.

KONTAK ballstraathof.co.za