Maak jou somertuin ’n by- en skoenlapperparadys met kleurvolle beddingplante, en vier Birding Big Day!

krismisroos-bloupers

Somerjaarplante vir jou tuin

• Saai geurige tapyte heuningblommetjies (Alyssum) of kompakte afrikaner-variëteite langs paadjies. Portulakke (Portulaca) met hul klein, kelkvormige blomme en ysterkruid (Verbena) sal kleur gee tussen plaveistene, in rotstuine en teen skuinstes.

• Moenie plante een-een in randakkers plant nie; plant eerder groepe van sewe of meer. Salpiglossis sinuata word sowat 60cm hoog en spog met trompetvormige blomme in rooi, pienk, pers of geel met prominente are op die kroonblare. Hoog groeiende spinnekopblomme (Cleome) met fyn wit, pienk of laventelpienk kroonblare is ’n elegante keuse om agterin randakkers te plant, of kies die kompakter ‘Sparkler’- variëteit, wat sowat 60cm hoog groei.

• Hitteverdraagsame maagdeblomme (Vinca) in pienk, appelkoos, lila of druifkleur, poeierblou Ageratum en die tregtervormige wit, pienk, salm of lemmetjiegroen blomme van Nicotiana sal mooi lyk saam geplant in randakkers en houers.

• Petunias vaar die beste in streke met ’n droë somer. Calibrachoa met sy klein petuniaagtige blomme is ideaal vir hangmandjies en houers. Naelblomme (Dianthus) het groen of blougroen loof en wit, pienk, kersiekleurige, skarlaken of violet blomme, en kan hitte en reën hanteer. Hulle lyk mooi in potte, in groepe langs paadjies en voor in randakkers.

• Torenia het ’n digte groeiwyse en spog met fyn blou, pers of pienk blommetjies met geel “kele”. Plant dit in sagte skaduwee en ryk grond wat goed dreineer. Beddingbegonias sal ook in sagte skadu floreer. Dié netjiese, struikagtige plant groei sowat 20-25cm hoog en het wit, pienk of rooi wasagtige enkel- of dubbel-blomme en blink brons of groen loof.

• Hanekamme (Celosia), gousblomme (Gazania), afrikaners, kombersblomme (Gaillardia) en jakobregops (Zinnia) is mal oor ’n sonkol. Beddingsalie is veral gewild omdat dit hittebestand is en in volson of gedeeltelike skaduwee floreer. Kleure soos room, salm, pienk, wynkleur, laventel en pers werk goed saam met ander blomme, terwyl breë stroke donkerrooi salie ideaal is om trefkrag te gee.

Vir die voëls

• Op Saterdag, 26 November is dit Suid Afrika se jaarlikse Birding Big Day wanneer voëlentoesiaste oor ’n tydperk van 24 uur al die voëlspesies wat hulle in ’n bepaalde tuin, park, skoolterrein of voorstad sien en hoor, moet aanteken. Dié bewusmakings veldtog help geld insamel vir BirdLife South Africa se belangrike bewarings - en moniteringswerk. Bel 083 636 1060 of stuur e -pos na events@birdlife.org.za .

• Voëls besoek tuine omdat hulle na insekte, nektar, saadjies of vrugte soek. Lok voëls na jou tuin deur ’n “insekhotel” in ’n houtkissie te maak: Rangskik bloot stukke bamboes, stompe waarin gate geboor is, takkies, stokkies, strooi en hol bakstene daarin. Lysters en rooiborsies sal ook rondsnuffel in deklae wat rondom struike gestrooi is.

• Plante met nektar sluit in aalwyne, Bauhinia galpinii, Burchellia bubalina , Callistemon, valentynsblomme (Crocosmia), Erythrina, Halleria lucida, vuurpyle (Kniphofia), Leonotis leonorus, Phygelius, proteas, Russellia, salies en Strelitzia reginae.

• Plant ornamentele en inheemse grasse en los van die saadkoppe aan die plante vir saadvretende voëls. Vrugtevreters is dol oor wildeperskes (Kiggelaria africana), Searsia spesies, Halleria lucida, Ochna serrulata, wilde -olywe en struike met bessies.

Regdeur jou tuin

• Hou die grond rondom saailinge nat totdat hulle gevestig is. Maak struike en grasperke een keer ’n week goed nat en gee plante in houers gereeld water.

• Behou vog in die grond en voorkom dat onkruid ontkiem deur ’n dik deklaag rondom plante te strooi – moenie dat dit aan die stamme raak nie.

• Hou aan om wortels, beet, soetrissies, tamaties, mielies en murgpampoentjies te plant. Gooi strooi of dennebas tussen rye groente as deklaag.

• Bind hoog groeiende meerjariges tot by die punt van elke blomaar aan stutte vas om te keer dat dit afbreek in swaar wind en reën.

• Knyp fuchsias terug om die ontwikkeling van sylote en meer blomme aan te moedig. Maak dit gereeld nat en spuit die loof op warm dae nat wanneer die son nie direk daarop skyn nie. Bemes gereeld met Nitrosol of Mulitfeed P.

• Behandel bolplante wat deur lelieboorwurms gevreet word met Margaret Roberts Biological Caterpillar Insecticide.