Foto’s Francois Oberholster en verskaf

Jou tuin in November

Deur Kay Montgomery

Dié maand ...

  • Hou die tuin kleurvol deur plante wat verby hul fleur is, uit te haal en die oop kolle te vul met somerblommende jaarplante.
  • Bemes somerblommende bolle een keer ’n maand met ’n kommersiële bolvoedsel.
  • Plant wit, pienk en rooi beddingbegonias langs paadjies vir ’n strook helder kleur, om ’n kronkelende beddingrand te definieer of langdurige kleur in potte te verskaf.
  • Hou jou grasperk gesond deur die grassnyer se lemme hoër te stel maar meer gereeld te sny. Bemes met kommersiële grasperkvoedsel en maak agterna goed nat.
  • Saai slaaigewasse elke twee weke sodat jy altyd vars, jong blare het om te pluk. Gooi ’n laag strooi tussen rye om water in die grond te behou en onkruid te onderdruk.
  • Maak krismisrose goed nat en strooi daarna ’n dik deklaag van dennenaalde, kompos of stukkies bas om water in die grond te behou.
  • Op Birding Big Day (24 November) word huiseienaars aangemoedig om al die voëls aan te teken wat hulle in hul tuin sien. Registreer vooraf vir Birding Big Day deur die aanlynvorm op birdlife.org.za te voltooi. Maak seker jou tuin is voëlvriendelik deur te verseker daar is skuilplek, kos, water en nesmaakplek.
Wenk van die maand
Potte is nie net vir patio’s nie; gebruik dit in ’n fokuspunt by ’n ingang, op ’n trap en om paadjies af te baken.

1. Agapanthus ‘Blue Velvet’ 2. Agapanthus ‘Queen Mum’

Tydloos treffend

Agapante staan ook bekend as die Afrika-lelie of die Nyl-lelie, maar dis nie ’n lelie nie, en nog minder is dit van die Nyl; dis eintlik inheems in Suider-Afrika. Dié waterwys plante gedy in ’n sonnige posisie en kan ligte skadu hanteer. Agapante is by-vriendelik en maak goeie snyblomme. Sekeres sterf in die winter terug, terwyl ander immergroen is, maar almal het goed gedreineerde grond nodig.

Van vroeglente tot laatsomer tooi die buisvormige blomme in wit, skakerings van blou en indigo ons tuine, beddingrande, parke, verkeerseilande en kantore. Dis tuis in ’n inheemse tuin, kontemporêre landskap, kothuistuin, tussen veldblomme en -grasse en in potte.

Agapante skakel in by enige kleurskema in die tuin. Die bloupers blomme verleen hoogte en diepte aan ’n pastelkleurige beddingrand en komplementeer oranje en geel blomme. Wit agapante is perfek vir ’n skemertuin.

Kweek die kompakte variëteite in breë stroke langs paadjies, in randakkers, in rotstuine en potte. Hooggroeiende variëteite sal lieflik lyk in groot houers by die voordeur, op die patio, om die swembad of by ’n kuierplek.

Selfs al blom dit nie, is die immergroen variëteite nuttig teen skuinstes, waar die sterk, vlesige wortels die grond sal bind.

Nuut by die kwekery!

Hier’s goeie nuus vir daglelie-liefhebbers! Die nuwe EveryDaylily (Hemerocallis) is ’n variëteit wat herhaaldelik deur die seisoen blom. Een plant kan tot 400 blomme lewer en jy het nie ’n groot tuin nodig nie; trouens, jy het glad nie ’n tuin nodig nie, want behalwe in blombeddings gedy dié kompakte daglelie ook in ’n pot. Dis kouebestand, wat die blomtyd van laatlente tot in die herfs verleng. Plant jou lelie in volson in komposverrykte grond wat goed dreineer.

KONTAK ballstraathof.co.za

Kinderspeletjies

By vanjaar se toekenningsgeleentheid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Landskap-ontwerpers het die topprys gegaan na ’n tuin wat ontwerp is vir kinders – heel gepas ook, aangesien die kleingoed deesdae aangemoedig moet word om meer tyd buite deur te bring pleks van voor ’n skerm.

Nie elke tuin het spasie vir tradisionele speeltoerusting soos dié een by die Amerikaanse Internasionale Skool in Johannesburg nie, maar daar is ander maniere om kinders aan te moedig om buite te speel waar hulle voëls en bye kan sien en die natuur waardeer – dis ook goed vir hul fisieke en geestelike welstand.

Hou ’n deel van die tuin eenkant waar die kleinspan na hartelus kan plant, feetjietuine of wegkruipplekke kan skep met kronkel-paadjies rondom struike, of met hoë gras wat hul nuuskierigheid kan aanwakker. Gee hulle ’n groot kartonboks wat ’n boot of fort kan wees, of help hulle om ’n insekhotel te bou.

Vier Kinderdag Suid-Afrika op 3 November.

Tuinkopies vir groen vingertjies