Syselbos

Soveel voëls!

25 November is Birding Day.

Dra by tot dié verdienstelike projek deur al die voëlspesies wat jy in ’n bepaalde tuin, park, skoolterrein of voorstad (of, as jy daarvoor kans sien, binne ’n radius van 50 km van jou huis af) sien en hoor, aan te teken.

Lok voëls deur allerlei voëlvriendelike plante in jou tuin te kweek:

Vir nektarvretende voëls Aalwyn, Kaapse kanferfoelie (Tecoma capensis), koraalboom (Erythrina-spp.), notsung (Halleria lucida), wildedagga (Leonotis leonurus), huilboerboon (Schotia brachypetala), erikas en proteas is gewild onder suikerbekkies.

Vir vrugtevretende voëls Plant grootnoemnoem (Carissa macrocarpa), waterbessie (Syzygium cordatum), witpeer (Apodytes dimidiata), wildeperske (Kiggelaria africana) en fynblaarrooihout (Ochna serrulata) om voëls soos loeries en muisvoëls te lok.

Vir insekvretende voëls Deklae van blare en opgekerfde tuinafval behou nie net water in die grond en hou onkruid in toom nie, dit dien ook as spens waar lysters, rooiborsies en witogies kan rondsnuffel vir kos. ’n Ruigte van struike soos vlam-van-die-vlakte (Bauhinia galpinii) en syselbos beskut voëls teen roofdiere en gure weer, en is ’n goeie plek om nes te bou. Plant grasse en palms sodat voëls materiaal het vir hul neste, asook struike en bome met dorings wat hulle teen roofdiere beskerm.

Wenk van die maand
Krismisrose begin nou blom; maak seker hulle droog nie uit nie en strooi ’n deklaag van 10 cm om die wortel-area koel te hou.

Die groentetuin

Plant slaaigroente soos kropslaai, roket, uie, sprietuie, wortels, seldery en radyse dig bymekaar om vog te behou en strooi ’n deklaag van kompos rondom wat mettertyd sal afbreek en die grond verryk. As jy genoeg water het, kan jy aanhou om boontjies, beet, kool, mielies, komkommer en skorsies te plant.

Kweek blaarslaai op ’n plek wat in die namiddag in die skadu sal wees. Oes die blare van botterslaai een vir een.

Trek onkruid uit voor dit saadskiet. Ondersteun rankgroente met ’n hout- of draadraam, latwerk of driepoot en bind nuwe groei vas om windskade te voorkom.

Sit potte op sonnige vensterbanke, patio’s, naby die kombuis en langs die braai-area, en vul dit met pietersielie, basiliekruid, kruisement, salie, dragon, grasuie, origanum, tiemie en roosmaryn.

Beddingdahlias

Somerkleur

Jaarplante is nuttig om kaal kolle in ’n nuwe tuin en in beddingrande mee te vul en ingange, patio’s, potte en hang-mandjies op te helder. Plant saailinge van Ageratum, asters, beddingbegonias, en -dahlias, Browallia, hanekamme (Celosia), spinnekopblomme (Cleome), impatiëns, Lavatera, lobelias, afrikaners, ysterkruid, Nierembergia, Torenia, maagdeblomme (Vinca) en jakobregops (Zinnia). Heuningblommetjies (Alyssum), kosmos, Kaliforniese papawers, kombersblomme, mignonette, afrikaners, kappertjies, strandviooltjies en jakob- regops vaar goed wanneer dit direk gesaai word.

Coleus ‘Campfire’

Nuut by die kwekery

Coleus ‘Campfire’ is die jongste toevoeging tot die Sun Coleus-reeks. Plant dit in komposverrykte grond in volson of gedeeltelike skadu; volson sal die pragtige kleure uitbring. Dis ’n fokusplant wat min sorg vra, hetsy in die tuin of ’n groot pot – laasgenoemde sal dit in ’n netjiese vorm van 70 cm hoog en 60 cm wyd hou. Die Sun Coleus-reeks vra min water en herstel gou as dit verlep het en dan weer water kry.

Doendinge dié maand...

  • Maak seker al jou plante het ’n goeie deklaag. In winterreënstreke moet jy minstens een keer per week goed natmaak met grys- of reënwater; maak in ander streke nat tydens droë weer. Nuut geplante saailinge en struike moet gereeld natgemaak word totdat hulle gevestig is.
  • Voed plante met ’n organiese misstof met ’n seewierbasis; dit verbeter en bevog die grond. Gebruik die vloeibare vorm as blaarvoeding en die korrels as stadig vrystellende bemesting.
  • Plant dwerg-, middelslag- en hoog-groeiende agapante in blou en wit vir elegansie en kleur in jou somertuin. Die variëteite met wit blomme, soos ‘Double Diamond’, lyk veral saans pragtig.
  • Daglelies is nuttige en betroubare meerjariges; hul boogvormige loof is net so lieflik soos die blomme self. Hulle blom op hul beste met ses uur sonlig per dag in verrykte grond wat water goed behou. Plant hulle in massas van dieselfde kleur vir visuele impak, in groepe in beddingrande, naby waterfokuspunte en saam met ornamentele grasse.
  • Bemes somerblommende bolle een keer per maand met Hadeco-plantkos. Lelies hou van hul koppe in die son en hul wortels in die skadu; hou die grond koel met ’n 10 cm-deklaag oor die wortelarea. Stut die stele om reën- en windskade te voorkom.
  • Tydens die reënseisoen word voedingstowwe uit die grond gespoel en dan het plante bemesting nodig om dié stowwe te vervang. Bome het meer bemesting nodig as struike, wat op hul beurt weer meer as meerjariges nodig het.

Ken jou indringers

Pers-echium Foto Getty Images

Pers-echium (Echium plantagineum) is ’n tweejarige plant met ’n diep wortelstelsel. Dit groei tot 1 m hoog en dra van Oktober tot April die mooiste blou of pers blomme – dis hoekom baie tuiniers dit in hul tuin wil hê! Dié plant is egter giftig en neem stukke oop veld langs paaie, bewerkte grond en weidings oor; dit versprei maklik deur saad. Die plant staan ook bekend as bloudisseldoring of natterkop, en sy blare en stele is bedek met growwe wit hare. Dis ’n groot probleem in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, asook dele van die Vrystaat en Mpumalanga.

Indringerstatus Dis ’n Kategorie 1b-indringer, wat beteken jy moet dit van jou eiendom verwyder om vervolging vry te spring.

Hoekom is dit problematies? Dit ding mee met gewasse, weidings en inheemse spesies wat grond laat herstel. Die plant is ook giftig en ’n irritant.

KONTAK invasives.org.za

Ken jou waterwys plante

Balsemkopiva of geelkatstert Foto Getty Images

Bulbine frutescens, ook bekend as balsemkopiva of geelkatstert, is ’n inheemse vetplant wat regdeur die somer herhaaldelik blom. Die plant is hitte- en droogtebestand en gee nie om vir arm grond nie, solank dit goed dreineer. Dit vaar die beste op ’n sonnige plek. Die immergroen, grasagtige loof groei in polle, sowat 30 cm hoog, met oranje of geel blomare en gekrulde geel meeldrade. Kweek dit as grondbedekker of in potte naby die swembad sodat die jellieagtige sap in die blare sommer byderhand is om insekbyte en sonbrand te behandel.

Huisplant van die maand

Phlebodium

Phlebodium

Die Phlebodium, ’n lugplant met lang, gelobde varingblare in ’n ongewone blougroen kleur, is maklik om te kweek. Omdat dit van nature groei in die blare wat in die mik van woudbome ophoop, kan dié varing met min sonlig klaarkom. Dit hou van baie vog en redelik hoë humiditeit, wat dit gepas maak vir hangmandjies, veral in badkamers, slaapkamers en selfs kombuise. As jy nog nooit ’n varing gekweek het nie, is dit ’n goeie een om mee te begin. 

Sorgwenk Maak die plant een keer per week nat (minder in die winter) en spuit gereeld nat met ’n newelspuit. Maak seker dit dreineer goed, anders sal dit vrot; die water moet ook nie in die middel van die risoom gegiet word nie, maar liewer rondom die plant. Net soos die Phalaenopsis-orgidee kan Phlebodiums lank in ’n pot bly, maar as jy besluit om dit oor te plant, doen dit in die lente.

KONTAK plantimex.co.za