Vier Wêreldvoedseldag op 16 Oktober deur jou eie groente te plant – en nooi skoenlappers na jou tuin!

tuintake-vir-oktober-rose Die 'Eden Rose' is ook bekend as 'Pierre de Ronsard'

Kies pienk

Ter ondersteuning van Borskankerbewustheidsmaand, plant blomme in skakerings van pienk in jou tuin. Pienk is kalmerend saam met blou en laventel, vars saam met skakerings van groen of silwergrys, en dramaties saam met pers of sjokoladebruin.

Plant skelpienk petunias in potte om die aandag op ’n ingang te vestig, plant roospienk heuningblommetjies (Alyssum) en violetpienk Vinca-kultivars al langs ’n sonnige paadjie, en plant beddingbegonias in ligte skaduwee om ’n bedding af te baken of ’n breë strook sagte kleur te gee.

Plant meerjarige Echinacea met hul roospienk kroonblare en kaneelbruin kern, Gaura met delikate pienk en wit skoenlapperagtige blommetjies op lang, dun stele, en skildblomme (Penstemon) met pienk klokvormige blomme.

Die pienk roos ‘Reach for Recovery’ is vernoem na die steungroep vir vroue wat borskanker oorleef het. Die ‘Knock Out’-roosreeks is ook ’n goeie keuse omdat hulle siekte-bestand is, nes die ‘Eden Rose’, ook bekend as ‘Pierre de Ronsard’, met sy sagpienk blomme en hoogte van meer as 2 m (wat dit geskik maak om teen boë, pilare en traliewerk op te lei).

Kweek jou eie groente

Kweek ’n verskeidenheid vrugte, groente en kruie wat nie met plaagdoders gespuit is nie om vir jou gesin ’n voedsame dieet te voorsien. Plant groente en kruie tussen blomme om bestuiwing deur voordelige insekte aan te moedig.

Plant gewasse wat vinnig groei tussen stadige groeiers – radyse saam met wortels; blaarslaai saam met broccoli. Spaar ruimte deur rankboontjies, tamaties, murgpampoentjies en komkommer teen traliewerk en driepote te laat oprank. Plante met ’n sterk reuk help plae weghou. Basiliekruid, wat hou van warm weer, het ’n skerp reuk en kan in die tuin of in potte geplant word; dit vaar die beste in oggendson en middagskaduwee.

Vlindervriendelik

’n Skoenlappertuin moet sonnig en windbeskut wees. So ’n tuin sal nooit perfek wees nie, maar blare wat deur ruspes gevreet word, is ’n klein prys om te betaal vir die vreugde om skoenlappers dop te hou.

’n Skoenlappertuin moet plante insluit vir elke stadium van ’n skoenlapper se lewensiklus – eier, ruspe, papie en skoenlapper – met blomme wat in verskillende seisoene blom om ’n groot verskeidenheid spesies te lok.

Plante met verskillende hoogtes sal groot én klein skoenlappers lok. Kies uit heuningblommetjies (Alyssum), asters, Bauhinia galpinii, Buddleja, kattekruid, Hebe, hibiskusse, laventel, afrikaners, Nicotiana, Pentas, Plumbago, Scabiosa, tiemie, Tulbaghia en ysterkruid (Verbena).

Skoenlappers is mal oor madeliefies, en daar is ’n groot verskeidenheid een- en meerjariges in wit, room, pienk, appelkoos, geel, rooi en mahonie wat in hoogte wissel; dit sluit gloriosa-madeliefies, Echinacea, shasta-madeliefies, Matricaria, margrietjies, Felicia en botterblomme (Gazania) in.

Benewens die regte plante vir ruspes en nektar vir skoenlappers, sorg ook vir genoeg water. Modderpoele en verweerde klippe wat water opvang, is plekke waar skoenlappers graag drink, in die son sit en hul vlerkspiere opwarm voor hulle vlieg.