Als wat pienk is

Oktober is Borskankerbewustheidsmaand, die perfekte tyd om bome en struike wat pienk blomme dra te plant ter ere van dié wat al die siekte geklop het.

Die kannabas (Dais cotinifolia), met sy slanke groeiwyse en fyn pienk blomme wat in die vroeë somer verskyn, is ’n goeie keuse vir klein tuine. Dis bladwisselend in gebiede met koue winters.
As jy ’n groot tuin het, sal die wildekastaiing (Calodendrum capense), wat 10 m of hoër groei, welkome skadu gooi en vroeg in die somer vrolike pienk blomme dra.
Klipboegoe (Coleonema pulchellum) is ’n aantreklike struik met aromatiese, naaldagtige blare en massas klein pienk blommetjies van Mei tot Oktober wat bye, skoenlappers en insekte na die tuin lok met hul soet geur.
Die pienk-kiesieblaar (Anisodontea scabrosa) is ’n waterwys struik met pienk hibiskus-agtige blomme wat skoenlappers en bye lok. Kweek dit in volson met goeie lugsirkulasie. Snoei terug om bosagtige nuwe groei aan te moedig. Dis nuttig vir skerms, randakkers en kothuis- of inheemse tuine.

Wenk van die maand: Neem deel aan Nasionale Weedbuster-week (8 tot 15 Oktober) en verwyder enige indringerplante in jou tuin en vervang dit met inheemse plante.

Tuinwenke

• Plant somergroente soos beet, boontjies, komkommer, wortels, kool, spinasiebeet, murgpampoentjies, soetrissies, tamaties en blaarslaai.

• Dahlias is ook onontbeerlik vir ’n somertuin. Hulle wissel in grootte – party is so groot soos ’n eetbord, ander het blomblare wat binnetoe buig soos ’n waterlelie, party het weer klein, pomponagtige blomme. Steek ’n stok in langs elke dahlia wat jy plant sodat dit ondersteuning het terwyl dit hoër groei.

• Knyp die groeipunte van fuchsias terug om syloot- en blomvorming aan te moedig.

• Maak nuut geplante struike en bome twee keer per week goed nat om ’n goeie wortelstelsel te help vestig.

• Die reënseisoen in somerreënstreke bring meer plae en swamsiektes. Volg altyd die aanwysings wanneer jy insek- en swamdoders gebruik.

• Hou in winterreënstreke die grond rondom struike vogtig met ’n dik deklaag van kompos; los net ruimte rondom die stele oop.

Papierblom (Limonium perezii)

Plant vir die bye

Wêreldhabitatdag op 2 Oktober is ’n herinnering dat bestuiwers die risiko loop om hul natuurlike habitatte te verloor. Tuiniers kan help deur blomplante, veral inheemse spesies, te plant. Die heuningby is ’n belangrike bestuiwer wat stuifmeel van een plant na die volgende oordra terwyl hulle blomplante se stuifmeel en nektar vreet, wat dan voortplanting verseker.

Plant blomme wat bye lok in groepe in tuine met ’n grasland-styl, in ’n randakker, op sypaadjies en in houers. Bye verkies plat, oop, madeliefieagtige blomme soos Felicia en Euryops, of plante met buisvormige blomme soos wildedagga (Leonotis leonurus), notsung (Halleria lucida) en vuurpyl (Kniphofia) wat bye maklike toegang tot die nektar en stuifmeel gee.

Bye kan ultraviolet-merke op blomme sien; dit tree op as gidse wat hulle na die nektar en stuifmeel lei. Hulle word veral aangetrek deur die blou, geel en mauve blomme van agapante, Bulbine, gousblomme, laventel, roosmaryn, strelitzia, koringblom (Scabiosa africana), wildeknoffel (Tulbaghia violacea), papierblom (Limonium perezii) en ysterkruid.