Jou tuin in Oktober

Mooiste madeliefies

Hul helder gesiggies en lang leeftyd maak madeliefies ’n gewilde keuse in die tuin, hetsy in massas van een kleur, of gemeng. Hulle hoort in ’n kothuistuin, ’n grasveldbedding, in randakkers en potte, en in elke tuin wat bye en skoenlappers moet lok.

Kies ’n oop spasie wat genoeg son kry vir ’n grasveldtuin met dié madeliefie-agtige plante: kombersblom (Gaillardia), jakopregops, strandblommetjie (Senecio elegans), Rudbeckia hirta, kosmos, Echinacea, Chrysanthemum carinatum, Bracteantha bracteata en sonneblomme.

Die meerjarige shastamadeliefie (Leucanthemum superbum), met wit blomblare en ’n geel oog, word dikwels in randakkers geplant vir kontras met helderder blomme. Blomme kan enkel of dubbel wees met kort of lang stele, afhangend van die variëteit. Waterwys gousblomme en Arctotis is nuttige grondbedekkers wat sonnige skuinstes lieflik sal toegroei.

Madeliefies met ’n klein, struikagtige groeiwyse sluit Euryops, Felicia en magrietjie (Argyranthemum) in, waarvan moderne kultivars gekweek is vir meer kompakte groei.

1. Kosmos, 2. Gaillardia, 3. Bracteantha bracteata

Wenk van die maand
Maak nuut geplante bome en struike een keer ’n week goed nat om ’n goeie wortelstelsel en nuwe groei aan te moedig. 


Huisplant van die maand

Gerbera ‘Revolution’

Gerbera ‘Revolution’ is gekruis uit die inheemse Barbertonse madeliefie. Sy blomme is groter en voller as die algemene spesie en kom in ’n groter verskeidenheid kleure. Dit vra ’n warm vertrek en helder, indirekte lig om binnenshuis te blom en kan ’n bietjie oggendson hanteer. Maak net nat wanneer die boonste potgrond droog voel en moenie dat die pot in water staan nie, want die wortels is geneig om te vrot. Pluk dooie blomme af om nuwe blomme aan te moedig. Die plant vaar nie goed as jy dit in die tuin uitplant nie.

KONTAK ballstraathof.co.za

Tuindag

Tuin-entoesiaste versorg en vertroetel hul tuine vir ’n groot deel van die jaar, maar op Sondag 21 Oktober kan hulle die gereedskap wegsit, die bure, vriende en familie oornooi en die jaarlikse Tuindag vier deur eenvoudig hul tuin te geniet. Hoe jy dit doen, is jou eie keuse – maak blomkrone en bied ’n teeparty of skemeronthaal aan, deel ’n al fresco-ete of kom bymekaar vir laatontbyt. Ieder en elk kan aan Tuindag deelneem – al wat jy nodig het, is ’n sin vir pret, samesyn en gasvryheid. En as jy nie ’n tuin van jou eie het nie, loer in by iemand wat wel een het en geniet dit saam met hulle. Besoek gardenday.co.za vir nog idees en inspirasie.

Nuut by die kwekery!

Bidens ‘Bee Alive’ is ’n meerjarige wat laag groei en helderoranje madeliefie-agtige blomme met ’n groot songeel oog dra. Dit groei tot 20 cm hoog en 46 cm wyd, verkies volson en vra nie baie water nie. Bidens ‘Bee Alive’ blom aanhoudend, selfs in die warmste maande. Die plant gedy as jy dit een keer ’n maand bemes en dra by tot tuindiversiteit en -gesondheid deur bestuiwers soos bye en skoenlappers te lok. Gebruik dit in ’n randakker of in potte of hangmandjies.

KONTAK ballstraathof.co.za

Proe die somer

Wêreldvoedseldag word elke jaar op 16 Oktober gevier. Plant jou eie tamaties en boontjies sodat jy altyd van dié kombuisstaatmakers het. Boonop weet jy dan dis nie met chemikalieë behandel nie.

Tamaties

Plant saailinge met die boonste vier blare bo die oppervlak; dit sal ’n sterk wortelstelsel help ontwikkel. Maak die wortelarea gereeld goed nat, maar moenie dat water op die blare spat nie. Bemes met ’n spesiaal geformuleerde tamatie-kunsmis. Vir die beste geur moet tamaties aan die plant ryp word.

Daar is twee soorte tamatieplante: Tamaties met ’n beperkte groeiwyse produseer ’n blomtros by die eindpunt – dit veroorsaak dat die plant nie hoër groei nie; tamaties wat onbeperk groei, moet teen ’n latwerk opgelei of gestut word.

Boontjies

Saai stam- en rankbone elke twee weke om ’n gereelde voorraad te hê. Stambone is ná 8–10 weke gereed om gepluk te word. Die voordeel van rankboontjies is dat dit minder plek in beslag neem as die stam-variëteite, en dis makliker om te oes. Pluk boontjies terwyl hulle nog jonk is.

Kuns in die tuin

Jy kan kuns op verskeie maniere by jou tuin inbring, maar dit moet altyd by die ontwerp van die tuin, asook die persoonlikheid van die eienaar, pas. In formele tuine is klassieke kruike en formele fonteine die eerste keuse.

Baie tuinontwerpers kombineer dramatiese loof met ongewone strukture om fokuspunte te skep.  Muurkuns kan ook waarde toevoeg in ’n tuin. 

Om die elemente die hoof te bied moet buitekuns weerbestand wees en gemaak wees van materiaal soos klip en beton, wat die duursaamste is, of staal, koper en aluminium. Moet net nie koper in dammetjies gebruik nie, want dis giftig vir visse.

Hetsy jy jou kuns ’n prominente staanplek gee, of iewers plaas waar dit “ontdek” kan word, maak seker dit skakel in by die ontwerp van jou tuin.

Doendinge dié maand ...

  • Noudat die warmer weer op pad is, plant meer hittebestande plante. Beddingsalies kom in pastel- en helder kleure, en Vinca-kultivars het blomme met ronde blomblare in wit, blospienk, pienk, appelkoos, lila en druif, dikwels met ’n kontrasterende oog.
  • Plant dahliabolle in ’n gat van 150 mm diep en bedek dit met komposverrykte grond. Steek stewige stutte in die grond wat die plante sal ondersteun namate hulle groei. Plant ook bolle in potte en gebruik dit in kaal kolle in ’n randakker.
  • Voed gevestigde struike met ’n stadig vrystellende kunsmis, en maak altyd goed nat daarna.
  • Trek onkruid uit sodra jy dit sien, dan word die wortels van jaarplante en meerjariges die minste versteur.
  • Strooi deklae om water in die grond te behou, onkruidsaad te versmoor en plante teen die somerhitte te beskerm