Foto’s Francois Oberholster, Sally Chance en verskaf

Vier jou tuin

Tuindag op Sondag 20 Oktober is ’n geleentheid om die vreugde van tuinmaak te vier met ’n teepartytjie, piekniek of braai saam met familie en vriende. Maak dit ’n onvergeetlike geleentheid deur ’n boom met pienk blare te plant ter erkenning van Borskankerbewustheidsmaand.

Plant ’n kannabos (Dais cotinifolia), blomappel (Malus), blomkersie (Prunus) en prag-van-Indië (Lagerstroemia indica) in klein tuine, of wildekastaiing (Calodendrum capense) en kapokboom (Ceiba speciosa sin. Chorisia speciosa) in groot tuine.

Blink idee!
Heelparty somergroente is lekker om te eet én mooi om na te kyk. So, al het jy nie plek vir ’n volwaardige kombuistuin nie, kan jy die volgende groente tussen jou blomme kweek: beet, boontjies, komkommer, wortels, kool, skorsies, spinasiebeet, soetrissies, tamaties en blaarslaai.

Pret in die son

Dis nie altyd die perfek gemanikuurde tuine of dié met skaars en ongewone plante wat ons die langste bybly nie. Soms is dit juis dié met ’n speelse kinkel wat mense laat glimlag. In die Renaissance het heelparty tuinontwerpers ’n ondeunde streep gewys deur watertoertjies (genoem giochi d’acqua, wat “waterspel” beteken) uit te haal op niksvermoedende besoekers, waar ’n stroom water geaktiveer word wanneer iemand op ’n bepaalde steen trap of nader staan om ’n plant te bewonder.

Geen tuinversiering het soveel debat uitgelok soos die tuindwerg nie! Verbasend genoeg was dit op sy gewildste in die stemmige Victoriaanse era, toe menige visdam met ’n dwergie, kompleet met sy visstok, gespog het. In die 20ste eeu het mense begin dink dis in swak smaak, en dis selfs by die Chelsea-blomskou verbied.

Voëlverskrikkers was in die verlede nodig omdat mense ’n manier nodig gehad het om voëls weg te hou, maar deesdae is dit eerder ’n dekoratiewe element – dit lyk die beste in groentetuine en plaastipe tuine.

Ouwêreldse ornamente soos dié raak nou weer gewild, maar as dit nie in jou smaak val nie, probeer ’n oulike elf, dansende fee, ’n draadbeeld van die een of ander dier of ’n bewertjie van kleurryke bottels. .

Kry inspirasie!
In die lente is talle private tuine oop vir die publiek, wat jou die perfekte geleentheid gee om inspirasie te put uit dit wat ander in hul eie buiteruimtes doen. 

Nuut by die kwekery

Taai soos haar naamgenoot

Elke jaar vereer Ludwig’s Roses ’n Suid-Afrikaner deur ’n roos na daardie persoon te noem. Vanjaar, ná talle versoeke, het hy ’n roos genoem na Thuli Madonsela, ons vreeslose voormalige openbare beskermer. Die roos sal op 3 Oktober by die opening van die 48ste jaarlikse Lenteroosfees by Ludwig’s Rose Farm, noord van Pretoria, bekendgestel word.

‘Thuli Madonsela’ is een van die nuwe generasie rose wat uiters gehard, droogte- en siektebestand is. Die groot blomme in twee skakerings van pienk het ’n klassieke hibriedtee-vorm, maar word in trosse gedra soos ’n floribunda-roos. Die struik groei maklik tot borshoogte en het helder, blinkgroen blare.

KONTAK ludwigsroses.co.za

Klein maar getrein

’n Nuwe dwerg-agapant-hibried, Agapanthus ‘Fireworks’, sal by die Agapanthus-fees van 26 Oktober tot 10 November by The Aloe Farm buite Hartbeespoort, Gauteng, bekendgestel word. Dis by vanjaar se Chelsea-blomskou aangewys as een van die jaar se beste nuwe plante. Met sy lang blomseisoen van minstens drie maande is die Agapanthus ‘Fireworks’ voorwaar ’n aanwins vir ’n somertuin. Dit dra groot wit-en-blou blomme en is uiters gehard.

KONTAK thealoefarm.co.za

Pragtig in pers

Kyk dié maand uit vir die nuwe Salvia ‘Mysty’ in tuinsentrums. Dis ’n kompakte weergawe van die gewilde meerjarige Salvia ‘Mystic Spires’, en het dieselfde donkerblou blomme en donkergroen blare, maar dit groei 35% minder ywerig, wat dit ’n beter variëteit maak vir gemengde beddings en houers. Dié salie groei 30–46 cm hoog en wyd en is uiters hitte- en droogtebestand. Dit blom van laat lente af en omdat dit so goed vertak is, dra dit baie blomare.

KONTAK ballstraathof.co.za

VERSKAFFERS