September is ’n maand vol verrassings, met tekens van nuwe lewe net waar jy kyk.

Tuintake-vir-September-15

1. Plant ’n boom

Doen vanjaar jou deel vir Boomplantweek (4–10 September) deur ’n boom te plant. Die bosvaderlandswilg (Combretum kraussii), ’n middelslag-boom wat vinnig groei. Dit floreer in skadukolle in tuine met ’n matige tot warm klimaat. Dié wortelstelsel is nie indringend nie, wat dit ideaal maak vir klein tuine en langs inritte. Dit sal van Augustus tot November met klein roomwit blommetjies spog, gevolg deur trosse pienkrooi vrugte in die herfs en helderrooi tot pers loof in die winter.

Die wildepietersieliebos (Heteromorpha arborescens) word so genoem omdat sy loof nes pietersielie ruik wanneer dit fyngemaak word. Dis ook ’n middelslag-boom met ’n sierlike fatsoen en klein geelgroen blommetjies met ’n sterk geur in Desember en Januarie. Die treffende papieragtige bas is glad en blink voordat dit afdop en horisontale ringvormige merke agterlaat.

2. Lok bye na jou tuin

Bye speel ’n belangrike rol in die bestuiwing van gewasse enplante in ons tuine. Hulle benodig nektar vir energie en stuifmeel vir  proteïen, en verkies geel, blou, pers en violet blomme. En moenie vergeet om vir die besige bytjies water te gee in ’n piering of voëlbad nie!

Bye is versot op die volgende plante omdat hul blomme plat, oop gesigte het: Arctotis, asters, kosmosse, Euryops, OsteospermumEchinacea, Felicia, botterblomme, sonneblomme en tiemie. Plante met buisvormige blomme soos agapante, aalwyne, Buddleja-spesies, Ericas, fuchsias, Halleria lucida, Leonotis leonurus, laventel, speldekussings, proteas, tiemie en Watsonia is ook goeie keuses.

3. Plant groente

Saai nou rank- en bosboontjies, beet, eiervrug, kool, wortels, brandrissies, komkommer, soetrissies, kropslaai, preie, pampoen, radyse, skorsies, blaarbeet, spinasie, mielies, tamaties en rape.

Kies ’n sonnige lappie grond en werk genoeg kompos in. Plant die saadjies na aan mekaar, maar in breë rye sodat die grond vog sal behou en sal voorkom dat onkruid ontkiem.

Oes jong groente vroeg om plek te maak dat die res van die oes kan ontwikkel. Spaar grondspasie deur komkommers, murgpampoentjies, tamaties en rankboontjies teen wigwams of tralies te laat oprank. Voorkom dat jou groente op warm dae verlep deur dit vroegoggend nat te maak en weer laatmiddag indien nodig.

4. Maak gereed vir somerbolle

Berei grond voor vir somerbolle deur kompos en ’n hand vol superfosfaat per vierkante meter daarby in te werk. Dahlias is van onskatbare waarde in ’n somertuin. Plant hulle op ’n sonnige plek met komposryke grond en uitstekende dreinering, en gee hulle gereeld kos en water – dan sal hulle jou tot in die herfs met pragtige blomme beloon.

Galtonias met hul lang blomare vol wit, klokvormige blomme maak ’n elegante stelling wanneer dit in groepe in randakkers geplant word. As jy van meer drama hou, plant gerus Eucomis met hul pynappelagtige blomme. Aronskelke wat in die somer blom, vaar baie goed in potte, maar sal gereeld water moet kry in warm weer. Hulle spog met pragtige blomme in skakerings van geel, appelkoos, pienk, robyn en maroen.