Foto’s: Francois Oberholster en verskaf

Deur Kay Montgomery

Blom van die jaar

2019 is die jaar van die kappertjie, benoem deur Fleuroselect, die internasionale organisasie vir die ornamentele-plantbedryf. Dié outydse blom bly ’n groot gunsteling onder moderne tuiniers; dit bring steeds vreugde in die tuin én op jou bord van vroeg in die somer tot laat in die herfs.

Kappertjies het nie net tradisioneel in die nederige kothuistuine van ouds voorgekom nie – die Franse monarg Lodewyk IV het ook hul flambojante vertoning by Versailles bewonder, terwyl die impressionistiese skilder Monet dit geniet het hoe dié plante in sy tuin by Giverny deur die beddings gekronkel en in paadjies oorgespoel het.

Kappertjies kan bosagtig of spreidend groei, dra enkel- of dubbelblomme in room, suurlemoen, goud, oranje, rooi en mahonie (met of sonder ’n nektarspoor) en die blare is groen, blougroen of bont. Plant dit in hangmandjies, vensterbakke en potte, oor heinings of om ’n beeld toe te groei. Kappertjies het groot nut in die groentetuin as ’n lokval vir plantluise.

Groente van die jaar

2019 is die jaar van die wortel, ’n gunsteling van Beatrix Potter se Peter Rabbit, asook van die welbekende tekenprentkarakter Bugs Bunny. Wortels is gesond, het min kalorieë maar baie beta-karoteen. Geniet dit rou met doopsouse en slaaie, versap, gesnipper, opgekook, gerooster, in soppe, bredies en roerbraaie, muffins en koek.

Die moderne wortel se voorouer was volgens oorlewering pers en afkomstig van Afganistan. Mettertyd het verbouing deur die Grieke en Romeine gelei tot plomper en lekkerder wortels in kleure soos pers, rooi of swart. Die oranje wortel, soos ons dit ken, is eers in die 17de eeu geteel deur Nederlandse planttelers as huldeblyk aan Willem van Oranje.

Wortels kan lank en dun of kort en rond wees, en is een van die belangrikste wortelgroentes wat in gematigde streke verbou word. Die grootste wortelprodusent in Suid-Afrika is die plaas Rugani in Gauteng – hulle lewer 40% van die wortels in die land.

Om erfeniswortels te kweek is groot pret, en geel, wit, pers en ’n reënboogkleur-mengsel is te kry by Living Seeds (livingseeds.co.za).

Maroelavrugte

Foto Getty Images

Bome van die jaar

In Suid-Afrika is boomplantdag die eerste keer in 1983 gevier om klem te plaas op die waarde van bome as bronne van boumateriaal, kos en medisyne, asook op die rol wat hulle in die gesondheid en welsyn van ons gemeenskappe speel. In 1999 is dit uitgebrei tot Nasionale Boomplantweek, van 1 tot 7 September. Twee Bome van die Jaar word elke jaar aangewys; hier is vanjaar se keuses:

Die maroela (Sclerocarya birrea) kom wydverspreid voor in Afrika, van Ethiopië tot KwaZulu-Natal. Dis een van die makliker inheemse bome om te kweek, al is dit ’n stadige groeier. Dis ’n mediumgroot tot groot bladwisselende boom vir rypvrye gebiede, met ’n regop stam en geronde kroon. ’n Boom dra óf manlike óf vroulike blomme, en waar die manlike blomme stuifmeel vorm, ontwikkel die vroulike blomme vrugte. Bestuiwing geskied deur insekte. Die vrugte is eetbaar, hetsy vars of as ’n jellie, en ’n maroela-likeur is in die handel beskikbaar. Die hout word gebruik vir meubels, vloere, kerfwerk en huishoudelike gereedskap.

Het jy geweet?
In die veld kan ’n maroelaboom tot 18 m hoog word, maar dit gebeur selde in ’n tuin.

Appelblaar-peule

Foto Mark Mattson Ntsiri

Die appelblaar (Philenoptera violacea) se grasieuse groeiwyse, bleek loof en pragtige blomme maak dit ’n aanwins in enige tuin. Dié mediumgroot tot groot, bladwisselende tot semi-bladwisselende boom met sy digte, geronde kroon is rypsensitief, maar droogtebestand. Van September tot Desember dra dit trosse wit tot bloupienk of mauve tot donker-violet blomme met ’n soet geur, gevolg deur plat saadpeule. Die hout word gebruik vir kerfwerk, pale en in tradisionele geneesmiddels.

Blink idee!

As jy ’n bloeiselboom in jou tuin wil plant, is nou ’n goeie tyd om jou plaaslike kwekery te besoek waar jy dit in volle blom kan sien sodat jy jou gunsteling kan kies. Bome soos die Japanse blomkersie, blomperske, pers blompruim en Japanse blomappel sal nou iets vir die oog wees.

Nuut by die kwekery

Dubbel die vreugde

Osteospermum 3D ‘Banana Shake’ is ’n nuwe Kaapse madeliefie met aanskoulike dubbelblomme. Elke geel blom spog met ’n verhewe bessierooi kern wat soos ’n pompon lyk. Omdat dit kompak en mooi gerond is, is dit ’n treffende beddingplant; dit sal mooi lyk saam met vetplante, in houers en hangmandjies. Die madeliefie groei in gewone tuingrond wat goed verryk is met kompos, vra volson en moenie te gereeld water kry nie. Wanneer dit eers gevestig is, is die plante taamlik droogtebestand.

KONTAK ballstraathof.co.za

Tuinkopies

1. Pokon-voeding vir groentetuine (1 kg) R160, Hadeco.

2. Fleuve-plaveisteen (800 x 160mm) R432/m2, Smart Stone

3. The Pumphouse-pompskerm (81 x 59 x 63,5 cm) R1 697, gardenstuff.co.za

4. Cosmopolitan Cobbel (100 x 100 mm) R362/m2 (regs) en Grass Block (480 x 480 mm) R454/m2 (links), SmartStone

5. Hangmandjie vanaf R90, Builders

6. Family Size-kweekhuis (2 x 4m) R10 999, Urban Freedom

7. 2-in-1-kniel-en-sitbankie R295, Hadeco

8. Eierpotte vanaf R150 elk, Builders

In Darwin’s Most Wonderful Plants (Jonathan Ball, R225) onthul die skrywer Ken Thompson Darwin as ’n pionier-botanikus wie se waarnemings en teorieë sy tyd ver vooruit was en nou eers deur moderne navorsing bevestig word. Die boek wys hoe die Victoriaanse wetenskaplike se baanbrekende studies van klim- en vleisetende plante verskeie takke van die plantkunde vernuwe het. Boeiende leesstof.

VERSKAFFERS