Foto’s Francois Oberholster en verskaf 

Jou tuin in September

Deur Kay Montgomery

Plaaslike helde 

Tuine word dikwels in moeilike omstandighede op die been gebring – dink aan lappies groenigheid in ’n droë Karoo-dorp, kolle kleur tussen rotsriwwe en kustuine wat sterk wind trotseer – met plante wat die toets van die tyd en veranderende modes deurstaan het. Baie van die staatmakers wat in tuine die we^reld oor groei, kom oorspronklik van Suid-Afrika: Agapante, aronskelke, Diascia, Crocosmia (foto bo), gousblomme (Gazania), vuurpyle, Nerina, proteas en suurknolle (Watsonia) is net ’n paar van ons plaaslike skatte wat ook tuine in verre lande versier – en moenie vergeet van pelargoniums, die gunstelinge vir vensterbokse, houers en hangmandjies in Europa, nie.

Erfenisdag op 24 September is dus ook ’n viering van ons ryk plantverskeidenheid, en herinner ons om ons inheemse skatte te koester. 

Wenk van die maand

Plantpotte vol grond kan swaar wees; maak seker joune staan op die regte plek voor jy die potgrond en plante daarin sit. 

Glashelder 

“Deursigtige” plante kan ’n interessante element in die tuin wees. Sommige byna deurskynende blomme is so ragfyn dat ander plante dalk selfs daardeur sigbaar sal wees, terwyl dié op dun stele beweging aan die tuin verleen wanneer dit in die wind wieg. Probeer dié skoonhede:

  • Engelvlerkies dra vlinderagtige wit en pienk blomme wat in die ligste briesiesal dans.
  • Kosmos het madeliefie-agtige blomme in wit, pienk en magenta bo kantagtige loof.
  • Yslandse, Shirley- en Kaliforniese papawers se syagtige blomblare is deursigtig wanneer dit van agter belig word.
  • Inheemse grasklokkies (Dierama) het geboë stele met delikate, klokvormige blomme in wit, laventel en donkerpers.
  • Kantblom (Ammi majus) en krytblom (Gypsophila) dra albei trossies delikate wit blomme.
  • Bronsvinkel (Foeniculum vulgare ‘Purpureum’) het lieflike pers-brons loof wat lig deurlaat.       

Doending dié maand ...

  • Saai nou somerblommende jaarplante soos heuningblommetjies, portulakke, stinkafrikaners, kappertjies, sonneblomme en jakobregops.
  • Koop somerblommende bolle soos dahlias, lelies en Eucomis sodra dit beskikbaar is by tuinsentrums; so´ kry jy die beste gehalte en keuse.
  • Onkruid sal nou tekens van aktiewe groei toon en ander plante van voedingstowwe en water beroof; trek dit nou uit voor dit begin blom.
  • In die groentetuin kan jy kompos en goed verrotte mis inwerk. Saai slaaigewasse elke twee weke sodat jy heeltyd vars, jong blare het om te pluk. In droë weer moet groente goed nat gehou word.
  • Struike en bome sal baat vind by ’n toediening van stadig vrystellende kunsmis. Vervang struike wat nie goed vaar nie.
  • Verwyder en verdeel meerjariges wat in die vorige seisoen nie goed gevaar het nie en herplant nuwe buitenste groei in vars, komposryke grond. 

Bome vir 2018 

Doen jou deel en maak Suid-Afrika ’n bietjie groener: Boomplantweek word elke jaar in die eerste week van September gevier. Bome skep beweging, help besoedelde lug filtreer en verskaf skadu in die somer.

Die algemene Boom van die Jaar vir 2018 is die geelhout (Podocarpusspp.). Dié immergroen bome, wat in Suid-Afrika beskerm word, groei stadig, het ’n lang leeftyd en is gewild vir hul hout.

  • Opregte geelhout (P. latifolius), Suid-Afrika se nasionale boom, het ’n regop groeiwyse en blougroen blare. Dis ’n goeie skaduboom vir groot tuine en ook ’n alternatief vir ’n Kersboom.
  • Breëriviergeelhout (P. elongatus) het langwerpige blougroen blare en kan as ’n struik of aantreklike tuinboom gekweek word. Die boom kom oorspronklik uit die winterreënstreek en die vrugte op vroulike bome lok ’n verskeidenheid voëls.
  • Henkel-se-geelhout (P. henkelii) kom in die meeste binnelandse klam woude voor en het lang, hangende groen tot blougroen blare. Dié sierboom is geskik vir tuine en parke (Foto bo).
  • Outeniekwageelhout (P. falcatus) is ’n hooggroeiende immergroen boom met blougroen blare wat later donker-groen verkleur. Die ryp vrugte lok vlermuise en voëls wat vrugte vreet.

Die skaars Boom van die Jaar is die witgat (Boscia albitrunca), ’n klein tot mediumgroot boom met ligkleurige bas en trosse leeragtige blare. Dit kom in die droër gebiede van Suid-Afrika voor, wat dit ’n goeie droogtebestande skaduboom maak. Dit word dikwels die “boom van die lewe” genoem omdat dit ’n voedselbron vir soogdiere, voëls en skoenlappers is. 

Nuut by die kwekery! 

Coreopsis ‘Uptick Gold and Bronze’, met helder goudgeel blomme met ’n bronsrooi oog, is ’n meerjarige treffer in beddings en randakkers. Dis sonliewend en droogtebestand, en die blomme lok bestuiwers. Dié maklike groeier is nie vol fiemies oor grondgehalte nie en sy skimmelbestande loof maak dit perfek vir groentjie-tuiniers. Die plant het ’n netjiese, kompakte groeiwyse; snoei die stele terug nadat dit geblom het om ’n tweede vlaag aan te moedig. Sy blomtyd is van die lente tot herfs.

KONTAK ballstraathof.co.za 

Groen leesstof 

  • Gereelde besoekers aan ons nasionale parke weet daar is net soveel voëls as diere te sien. Birding in South Africa’s National Parks deur Rob Little (R195, Jacana) bied ’n bondige inleiding tot die voëllewe van 19 van Suid-Afrika se nasionale parke, met interessante feite oor waar om voëls in elke park te sien, asook hul top-10 voëls. Dit het voorstelle van bepaalde areas of habitats binne die park waar jy gesogte voëls kan sien, dit lys die beste tye van die jaar om te besoek, en daar’s ’n gebruikersvriendelike kaart van elke park. 
  • Aangesien sowat 60% van fynbosplante in September en Oktober blom, is dit die perfekte tyd om dié inheemse skoonhede te geniet. Field Guide to Fynbos deur John Manning (R310, Penguin Random House) sal jou help om enige fynbosblomme te identifiseer wat jy in die veld teëkom. Dit bevat meer as 1 100 foto’s vir identifisering en is ’n onontbeerlike verwysings-bron vir kenners én leke. Die boek fokus op die algemeenste en spoggerigste plante van die byna 9 000 spesies in dié diverse planteryk, en brei uit oor alle aspekte van die fynbos-wêreld – insluitend hul oorsprong, klimaat en aanpassings. 

Groen vingers op die knoppies 

Is jy nuuskierig oor ’n plant wat jy toevallig in ’n natuurreservaat of buurmense se tuin raakgesien het? Dan is dié app net die ding vir jou!

Candide bied ’n databasis van ’n groot verskeidenheid plante, verbind jou met ander tuinliefhebbers en gee jou toegang tot ’n span tuinghoeroes wat enige vrae kan beantwoord. Die kenners sluit dr. Ernst van Jaarsveld, voorheen van Kirstenbosch en nou by Babylonstoren, Anja Taschner van Ludwig’s Roses, asook Veggieman, ’n tuinboukundige, sitrusspesialis en ywerige tuinier, in.

Die app hou jou ook op die hoogte van die jongste tuintendense, laat jou toe om die mooiste tuine te bewonder en maak jou deel van ’n gevestigde plaaslike en groeiende wêreldwye tuinbougemeenskap.

Laai Candide gratis af in die Google Play Store of Apple App Store; jy kan dit in Suid-Afrika en die VK gebruik.