Somerreënstreek Stam- en rankboontjies, beet, kool, wortels, blaarslaai, tuinertjies, radyse, rabarber, spinasie, blaarbeet en rape; saai eiervrug, soetrissies en tamaties binnenshuis.

Winterreënstreek Beet, wortels, blaarslaai, mielies, witwortels, tuinertjies, radyse, rabarber, stam- en rankskorsies, blaarbeet, tamaties en rape; saai eiervrug en soetrissies aanvanklik binnenshuis.

Laeveld en KwaZulu-Natalse kus Aspersies, stam- en rankboontjies, eiervrug, soetrissies, wortels, komkommer, mielies, spanspek, pampoen, radyse, stam- en rankskorsies, blaarbeet.

Plantluise hou van die koolfamilie; raak van hulle ontslae met ’n organiese insekdoder.

KOMBUISTUIN-TAKE VIR AUGUSTUS

• Voed winter-blaargroente met ’n seewier-tonikum.

• Wikkel gekompakteerde grond om jou groente los.

• Maak meer nat namate die temperatuur begin styg.

• Beheer slakke met ’n organiese lokaas (Ferramol) en plantluise met ’n organiese insekdoder.

Gee blaargroentes soos bloedsuring en kool ’n hupstoot met ’n misstof wat seewier bevat.